Gemeenskapslede, alumni, akademici en studente het verlede week byeengekom om die lewe en nalatenskap van Walter Parry te gedenk by die tweede Walter Parry Gedenklesing, wat deur die Fakulteit Teologie, in samewerking met die Sentrum vir die Bevordering van Sosiale Impak en Transformasie en Lückhoff-alumni aangebied word. Die geleentheid, wat op Parry se verjaarsdag (22 Mei) gehou word, is nie slegs ʼn herdenking van ʼn merkwaardige lewe wat aan onderwys, wetenskap en maatskaplike verandering toegewy was nie, maar ook ʼn viering daarvan.
Walter Parry word in 1913 in Distrik Ses, Kaapstad, gebore. Parry verwerf in 1934 ʼn MSc in fisika (cum laude) aan die Universiteit van Kaapstad. Ten spyte van die destydse sistemiese perke (apartheid), werk hy in die geheim met professor Piet Zeeman van die Universiteit Stellenbosch saam aan kernnavorsingsprojekte wat later die grondslag sou lê vir die stigting van iThemba LABS.
As ʼn voormalige inwoner van die Vlakte-gemeenskap in Stellenbosch, raak Walter Parry ʼn geliefde onderwyser by die historiese Ou Lückhoff Skool. Hy is egter meer as ʼn opvoeder – hy is ʼn baken van inspirasie vir die gemeenskappe van Stellenbosch.
Die tweede jaarlikse lesing, met die tema “Akademiese Dissiplines in Dialoog: Die Aanwending van Wetenskap en Teologie in belang van Maatskaplike Geregtigheid en Maatskaplike Impak", het moeilike, dog transformerende, gesprekke ontlok. Die paneel, gefasiliteer deur professor Burtram Fielding, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, het die kruising van geloof en wetenskaplike denke, en hoe albei in diens van ʼn gedeelde visie van gelykheid en bemagtiging kan staan, verken.
“Parry se lewe herinner ons daaraan dat nederigheid die rigsnoer vir beide die wetenskap en teologie moet wees," het prof Fielding gesê. “Dit gaan nie net oor hom gedenk nie; dit gaan oor die voortsetting van sy werk deur dapper gesprekke."
Professor Shaun Wyngaardt, nog ʼn Lückhoff-alumnus wat vandag ʼn kernfisikus en die hoof van die US se Departement Fisika is, het die oorvleueling van teologie en die wetenskap verduidelik deur te verklaar: “Die wetenskap sê vir ons hoe goed gebeur en teologie sê vir ons waarom. As ons albei omarm, vind ons betekenis."
Die paneel het ook oor die persoonlike en maatskaplike impak van Parry se lewe besin. “Hy was nie slegs ʼn briljante wiskundige nie, hy was ʼn ouer, ʼn mentor en ʼn gemeenskapsbouer. Hy het die saadjies gesaai wat Cloetesville en Khayamandi nou aan die Universiteit verbind."
Sprekers en aanwesiges het die pynlike nalatenskap van apartheid erken, en genoem dat toegang tot onderwys vir talle gemeenskappe swaar verwerf is. “Ek is ʼn bruin vrou en ʼn wetenskaplike," het dosent in fisiologiese wetenskappe, dr Shireen Mentor, gesê. “In Parry se tyd sou dit onmoontlik gewees het. Sy verhaal is deel van die rede waarom ek vandag hier is."
Die gehoor het belangrike vrae geopper oor hoe die Universiteit kwessies aanpak soos die hoë uitsakvlakke en hoe om ʼn meer holistiese en inklusiewe opvoedkundige omgewing aan te kweek. Daar was ʼn gedeelde oproep tot optrede: om die “volgende Walter Parry" in die plaaslike skole en gemeenskappe op te spoor en te ondersteun.
Die Departement Fisiologiese Wetenskappe het ʼn suksesverhaal oor hulle uitreikwerk by Lückhoff Skool, wat in 2018 met basiese rekenaarvaardighede begin het, gedeel. Vandag is twee van die skool se alumni besig met hulle magistergrade – ʼn bewys van hoe lewens deur volgehoue toegang en mentorskap verander kan word.
Professor Aslam Fataar van die Fakulteit Opvoedkunde merk op: “Parry was ʼn wetenskaplike, maar sy dood was weens die hoogmoed van die wetenskap – die oortuiging dat slegs dit wat bewys kan word, werklik is. Apartheid was gebou op die sogenaamde wetenskap van verskil. Maar dit is deur die verskille tussen mense dat ons ons gedeelde menslikheid vind."
Die geleentheid is afgesluit met ʼn gedeelde gevoel van doelgerigtheid: as teoloë en wetenskaplikes eindig die verantwoordelikheid vir verandering aanbring nie in teorie of besprekings nie, maar begin dit met optrede.