Volgende keer as jy op Bottelaryweg buite Stellenbosch ry, hou jou oë oop vir beeste wat wei tussen die wingerdrye by Hartenberg-wynlandgoed. Dit kan dalk 'n ongewone gesig wees, maar dit dui op 'n belangrike verskuiwing in wynboerdery wêreldwyd.
Die diere maak deel uit van ReGenWine, 'n drie jaar lange navorsingsprojek onder leiding van die Universiteit Stellenbosch (US) wat help om ʼn wetenskaplike onderbou aan die groeiende internasionale tendens van regeneratiewe (of herlewings-) wynbou te verskaf.
Die projek, wat deur South Africa Wine befonds word, is een van die mees omvattende pogings tot dusver om die potensiaal van herlewingswynbou in die praktyk te toets.
Op die proef gestel
Regeneratiewe landbou kry wêreldwyd al hoe meer vastrapplek onder die dubbele druk van klimaatsverandering en ekologiese agteruitgang.
In wingerdbou is daar geen universeel aanvaarde definisie van wat as “regeneratief" beskou word nie – maar dit behels oor die algemeen boerderypraktyke wat grondgesondheid verbeter, biodiversiteit bevorder, die gebruik van sintetiese insette verminder, en moontlik koolstof in die grond vaslê.
Tog, ten spyte van groeiende belangstelling, is die meeste standpunte oor herlewingswynbou nog anekdoties. ReGenWine wil dít verander.
“Ons toets die konsep met hierdie studie," het prof Melané Vivier, direkteur van die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynnavorsingsinstituut aan die US, en hoof van ReGenWine, onlangs by die projekbekendstelling gesê. “Ons kyk na hoe om met die natuur saam te werk eerder as daartéén – en of dit meetbare voordele vir wynboere kan inhou."
Lewegewend

Die hoofproefterrein is Hartenberg – 'n wynplaas met diep wortels en progressiewe ambisies. Gestig in 1692, is dit een van Suid-Afrika se oudste wynlandgoedere, maar dit het ook 'n voorloper in volhoubaarheid met innoverende praktyke geword.
Die afgelope twee dekades het Hartenberg sy boerderybenadering geleidelik verander, onder meer deur middel van multispesie-dekgewasse, kompostering en biologiese plaagbeheer. Dié oorgang het in 2017 spoed opgetel toe die plaas vee begin gebruik het om die dekgewasse tussen hul wingerdrye te bewei.
Vroeër vanjaar het Hartenberg die eerste wynlandgoed in Suid-Afrika geword – en slegs die tweede wêreldwyd – wat geverifieer is ingevolge die Ecological Outcome Verification-raamwerk – 'n bewysgebaseerde standaard om grond- en plantgesondheid te monitor en verbeter.
“Toe ons diere ingebring het, het alles verander," het Wilhelm Joubert, Hartenberg se wingerdboukundige, gesê. “Die grond het weer lewe gekry – erdwurms en miskruiers het teruggekeer, en die grondstruktuur en biodiversiteit het verbeter."
Maar hy beklemtoon ook die uitdagings. “Dit klink romanties om diere op die plaas te hê, maar dis 'n voltydse werk. Hulle moet behoorlik bestuur word. Jy moet beweiding versigtig beheer om maksimum voordeel uit jou dekgewasse te kry."
Navorsing vir impak
South Africa Wine finansier die projek en steun die potensiaal daarvan. “Vir ons gaan dit oor relevansie," het Gerard Martin, die bedryfsliggaam se uitvoerende hoof vir navorsingsontwikkeling en innovasie, gesê.
“Oral waar ek deesdae gaan, praat mense oor volhoubaarheid. “Hulle het vrae oor regeneratiewe boerdery en wat dit vir hul wynmaak en hul besigheid kan beteken. Hierdie studie sal waardevolle insigte oplewer om die bedryf te help om meer ingeligte besluite te neem."
Só werk dit
ReGenWine bestudeer herlewingswingerdbou in 'n produksie-omgewing:
- Dekgewasse (hawer en verskillende soorte gras) word tussen wingerdrye geplant om die grond te beskerm, vog te behou, onkruid te onderdruk en biodiversiteit te ondersteun.
- Beeste bewei die dekgewasse ná die oes en vóór die wingerd weer begin bot. Dié tydsberekening voorkom skade aan blare en druiwe.
- Die beeste se mis en urine voed die grond, wat die gebruik van sintetiese kunsmis verminder.
- Die diere sit gewig aan en kan verkoop of vir vleis in die plaas se restaurant gebruik word, wat bykomende inkomste genereer.
Hoewel Hartenberg bekend is vir sy Ankole-beeste met hul indrukwekkende horings, word kleiner en meer hanteerbare Dexter-beeste in die ReGenWine-studie gebruik – omdat hulle beter geskik is vir die kompakte uitleg en toestande van wingerde.
Vyf spanne, een missie

Die projek bou voort op 'n twee jaar lange voorproef wat in 2022 by Hartenberg begin het. Bemoedigende resultate het die navorsers aangespoor om hul studie verder uit te brei.
“Dit was nie moeilik om die spanne saam te stel nie," het Vivier gesê. “Baie van ons was reeds op verskillende maniere betrokke. Maar geen enkele persoon of dissipline kan alles alleen doen nie. Dít is hoekom samewerking so belangrik is – en dít is ons sterkpunt."
Die projek is gestruktureer rondom vyf onderling afhanklike en multidissiplinêre werkpakkette, elk onder leiding van 'n senior akademikus en ondersteun deur nagraadse studente uit verskillende fakulteite.
WP1: Grondstelsel – Onder leiding van prof Cathy Clarke en dr Lawrence Munjonji van die Departement Grondkunde, evalueer dié span grondstruktuur, waterretensie, koolstofinhoud en mikrobiese aktiwiteit.
“Aan die fisiese kant kyk ons veral na grondverdigting," het Munjonji verduidelik. “Sommige glo vee veroorsaak verdigting; ander stem nie saam nie. Ons wil die feite vasstel."
WP2: Van wingerdstok tot wyn – Onder leiding van dr Erna Blancquaert (Wingerd- en Wynkunde), met Vivier as medeleier, moniteer dié navorsingspan wingerdgroei, korrelrypwording en sapsamestelling deur middel van beide veldmetings en afstandswaarneming.
“Ek het verlede jaar my BSc voltooi," het Dylan Endeacott gesê. “Vir my MSc die volgende twee jaar kyk ek hoe vee-integrasie die wingerd en uiteindelik die wyn beïnvloed." Hy het reeds tydens die voorstudie wyn van Hartenberg-druiwe gemaak – “en dit het goed gegaan," het hy met ʼn breë glimlag gesê.
Die US is die enigste universiteit in die land wat voor- en nagraadse kursusse in Wingerd- en Wynkunde aanbied.
WP3: Dekgewas- en dierestelsel – Onder leiding van dr Brink van Zyl en prof Pieter Swanepoel (voorsitters van onderskeidelik Veekundige Wetenskappe en Agronomie), kyk hierdie span na vee-integrasie as bestuursinstrument.
“Wingerde is nie regtig ontwerp vir vee nie," het Van Zyl gesê. “Tydens die voorstudie het Wilhelm sy hande vol gehad om die beeste in hul toegewysde rye te hou – hulle is kuddediere; hulle wil by hul maatjies wees!"
Om beter aan te pas by wingerdtoestande, is die groothoring Ankole-beeste wat vroeër gebruik is, aangevul met kleiner en makliker hanteerbare Dexter-beeste. Hulle sal in pare ontplooi word, en die proefkudde van 24 beeste sal gemoniteer word vir droëmateriaalinname, gewigstoename en voedingstofherwinning in die grond.
WP4: Ekonomiese en omgewingsirkulariteit – Onder leiding van prof Eric Mungatana (Landbou-ekonomie), met prof Annie Chimphango (Chemiese Ingenieurswese) as medeleier, evalueer dié span of regeneratiewe praktyke volhoubaar is – finansieel én ten opsigte van die omgewing.
Data van die ander werkpakkette word gebruik om insette en uitsette in vier wingerdkonfigurasies te modelleer, opbrengs op belegging te bereken, en lewensiklusontledings uit te voer.
“As ingenieurs kyk ons na stelsels – dis hoekom ons betrokke is," het dr Erik Wolfaardt, 'n postdoktorale navorser, gesê. “Hierdie projek is kompleks met baie bewegende dele."
WP5: Projek- en kenniskoördinering – Onder leiding van Julia Harper in die kantoor van die Dekaan van AgriWetenskappe, sorg hierdie werkpakket dat data behoorlik gekonsolideer, gedeel en eties bestuur word – en dat resultate deur gereelde spanvergaderings en bedryfsbetrokkenheid versprei word.
Goeie grondslag
Al hou ReGenWine baie praktiese belofte in, gaan dit uiteindelik oor wetenskaplike bewyse.
“Ons gaan nie alle vrae met een studie beantwoord nie," het Vivier gesê, “maar ons werk daaraan om 'n model te bied waarop ander kan voortbou – en om 'n stewige fondament vir innovasie in die wynbedryf te lê."
“Dit gaan ook oor posisionering," het Martin bygevoeg. “Ons wys dat Suid-Afrika nie net globale tendense navolg nie – ons kan wêreldklas-uitkomste lewer wanneer ons saamwerk."
* * * *
Desmond Thompson is 'n vryskutjoernalis.
ONDERSKRIFTE:
BOONSTE FOTO: Beeste wei op dekgewasse in Hartenberg-wynlandgoed se wingerde. FOTO: VERSKAF
MIDDEL: Wingerdboukundige Wilhelm Joubert met een van die Dexter-beeste wat by die Hartenberg-wynlandgoed gebruik word. FOTO: HENK OETS
ONDER: Van die navorsers en bedryfsvennote betrokke in die ReGenWine-projek, ʼn groot studie om die lewensvatbaarheid van regeneratiewe wingerdbou te toets. FOTO: HENK OETS