ʼn Innoverende nuwe loodsprojek om dwerggroei in kinders te bestry word binnekort van stapel gestuur met insette deur navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) wat betrokke is een van 11 spanne in die Openbare Plein- (Public Squares)-inisiatief .
Hierdie baanbrekersinisiatief is daarop gemik om transdissiplinêre navorsing en innovasie binne die US se akademiese gemeenskap te bevorder. Dit word bestuur deur die Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO) en vergestalt die Universiteit se verbintenis tot navorsingsuitnemendheid en sosiale impak.
Die betrokke span bring kundiges van die US se fakulteite Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, AgriWetenskappe, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en Ingenieurswese byeen. Hul gesamentlike navorsing help vorm gee aan die loodsprojek se unieke benadering.
Die artikel hieronder beskryf die projek, insluitend die rol van US-navorsers. Dit is ʼn vertaling van ʼn artikel wat oorspronklik deur News24 gepubliseer is:
Innoverende projek kan SA help in stryd teen dwerggroei
ʼn Innoverende loodsprojek kan dalk nuwe momentum bied in die land se pogings om ingekorte lengtegroei te verminder. Die inisiatief weerspieël toenemende dringendheid om in moeder- en babagesondheid te belê. Dit is dus gepas dat dit op Wêreldgesondheidsdag aangekondig is, wat vanjaar die tema 'Gesonde begin, hoopvolle toekoms' het.
Die eerste 1 000 dae van ʼn kind se lewe – van bevrugting tot hul tweede verjaardag – is wanneer die grondslag vir gesonde groei gelê word. Dit sluit in die behoorlike ontwikkeling van die brein en die emosionele en kognitiewe vermoëns wat dit ondersteun, saam met die organe en immuunstelsel. As daardie geleentheid gemis word, kan die kind langtermyn-ontwikkelingsterugslae ly wat moeilik is om in te haal.
Wanneer ʼn ma se gesondheid of voedingstatus tydens swangerskap in die gedrang kom, en wanneer, ná geboorte, die baba se voeding onvoldoende is, infeksies gereeld voorkom of sorg wisselvallig is, kan die kind agter raak. Dit kan dwerggroei tot gevolg hê – ʼn toestand waarin ʼn kind nie die verwagte lengte vir hul ouderdom bereik nie.
Die gevolge kan dwarsdeur die lewe weerklink. Ingekorte lengtegroei word gekoppel aan verminderde neuro-ontwikkeling, kognitiewe tekorte, laer opvoedkundige prestasie, verhoogde risiko van vetsug en nie-oordraagbare siektes, en armoede wat geslagte lank voortduur.
In Suid-Afrika ly meer as ʼn kwart van kinders onder vyf jaar aan ingekorte lengtegroei. In die Wes-Kaap is die dwerggroeikoers volgens ʼn 2023-basislyn-opname 17,5%, maar dít is steeds kommerwekkend hoog. Dit is egter 5,4 persentasiepunte laer as die 2016-syfer van 22,9%, wat daarop dui dat vorige ingrypings dalk ʼn positiewe uitwerking het. Tog is die afname te stadig om dwerggroei teen 2030 te halveer, wat die teiken van die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Kinderfonds van die Verenigde Nasies is.
“Die konteks, oorsake en gevolge van dwerggroei is goed gedokumenteer. Tog bly dit kompleks en uitdagend om te voorkom en te behandel omdat dit sistemiese wortels in verskeie sektore het," sê prof Lisanne du Plessis van die Afdeling Menslike Voeding aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Baanbrekerswerk
Nou word ʼn “buitengewone innovasie" – in die woorde van prof Scott Drimie, Mededirekteur van die Southern Africa Food Lab – in die Wes-Kaap van stapel laat loop.
Met die aankondiging van die inisiatief in haar 2025-begrotingstoespraak op 7 April, het die Wes-Kaapse Minister van Gesondheid en Welstand, Mireille Wenger, dit beskryf as ʼn “sterk nuwe loodsprojek" om die grondoorsake van belemmerde groei die stryd aan te sê.
“Elke dag wat ons uitstel om wanvoeding aan te spreek, beroof ons ons provinsie en ons land van sy grootste hulpbron: sy mense," het sy gewaarsku.
Die loodsprojek sal na verwagting later vanjaar begin en tot Oktober 2026 duur. Dit sal in drie hoërisiko-gemeenskappe – Worcester, Khayelitsha en Mitchellsplein – plaasvind.
Die inisiatief sal fokus op swanger vroue – diegene wat ondergewig is en die risiko loop om ʼn lae-geboortegewig baba (onder 2,5 kg) te hê – en nuwe moeders van babas wat gebore is met ʼn lae geboortegewig.
Na raming sal 1,700 vroue by die projek ingesluit word.
Tweeledige benadering
Drimie het tydens ʼn onlangse paneelbespreking by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gesê die loodsprojek is ʼn voorbeeld van ʼn 'kontant + sorg'-program – ʼn intervensie wat finansiële bystand kombineer met pasgemaakte gesondheids- en maatskaplike ondersteuning.
Die paneelbespreking het deel uitgemaak van die US se Openbare Plein- (Public Squares)-inisiatief – universiteitswye gedeelde akademiese ruimtes om transdissiplinêre en sosiaal betrokke navorsing te bevorder, gelei deur die US se Afdeling Navorsingsontwikkeling.
Terwyl Suid-Afrika al voorheen 'kontant + sorg'-benaderings beproef het – soos die CoCare Maternal Support Study, wat digitale kosbewyse aan swanger vroue verskaf het tydens Covid-19 – is die nuwe loodsprojek vermoedelik die eerste wat finansiële ondersteuning bo en behalwe bestaande maatskaplike toelaes kombineer met ʼn verbeterde pakket van gesondheid en psigososiale sorg, asook ʼn spesifieke fokus op die voorkoming van lae geboortegewig deur reeds tydens swangerskap hulp te begin verleen.
Elke deelnemer aan die loodsprojek sal ʼn maandelikse koopbewys ontvang om by bepaalde winkels te spandeer. “Ons is tans in gesprek met moontlike kleinhandelvennote," het Wenger gesê.
Deelnemers sal produkte kan kies uit ʼn lys proteïenryke, voedsame kosse wat deur die nie-regeringsorganisasie Grow Great geïdentifiseer is. Die meeste items is stapelvoedsel in lae-inkomste gemeenskappe en het ʼn lang raklewe.
As ʼn swanger vrou ʼn goeie voedingstatus het, verhoog dit die waarskynlikheid dat haar baba ʼn gesonde geboortegewig sal hê en dat sy goed sal herstel nadat sy geboorte geskenk het. Dit help ook om die toestande vir borsvoeding en sorg in die kritieke vroeë maande te vestig.
Koopbewyse alleen is egter nie genoeg nie. Deelnemers sal ook gereeld kontak hê met opgeleide gemeenskapsgesondheidswerkers, wat inligting oor die handhawing van gesonde swangerskappe, gesondheidsdienste vir moeders en babas, borsvoedingsadvies, groeimonitering en geestesgesondheidsondersteuning sal verskaf.
Samewerking die sleutel
Die inisiatief steun op ʼn 'viervoudige heliks'-model – wat die regering, die burgerlike samelewing, die akademie en gemeenskappe betrek. Dit word geïllustreer deur die betrokkenheid van lede van die US se Openbare Plein- (Public Squares)-inisiatief genaamd Break Free, Grow Tall, Reach Far in die ontwerp van die loodsprojek.
“Die bou van sterk, samewerkende verhoudings tussen belanghebbendes was van die begin af noodsaaklik," sê Cameron Cyster, Openbare Beleidsontleder in die Wes-Kaapse regering se Departement van die Premier.
Model beproef
Die DG Murray Trust (DGMT), ʼn openbare innoveerder, is een van die finansierders van die loodsprojek, wat ook sal baat by bydraes deur Gesondheid en Welstand en ander Wes-Kaapse regeringsdepartemente.
“Ons sal klein begin, kyk hoe ons dit kan uitbou, en integrasie met ander stelsels ondersoek. Ons loods ʼn minimum lewensvatbare produk om te sien wat ons kan leer," sê Liezel Engelbrecht, Voedingsleier vir die Hou My Hand-versneller, ontwikkel binne DGMT.
Die loodsprojek is daarop gemik om te bewys dat die benadering wat gevolg word, kan werk. Dit sluit uit die staanspoor monitering en evaluering in, onder toesig van die Departement van die Premier. Dít is ʼn doelbewuste stap om van die gebreke te oorkom wat uitgewys is in die 2023-evaluering van Suid-Afrika se Nasionale Voedsel- en Voedingsekuriteitsplan uit.
Politieke wil
Premier Alan Winde het in sy staatsrede in Februarie gesê: “Belemmerde groei en ontwikkeling is ʼn ernstige probleem met ʼn verwoestende uitwerking." Hy het ook gewys op die onlangse stigting van ʼn komitee op kabinetsvlak oor voedselsekerheid en voeding om verskillende inisiatiewe deur staatsdepartemente in die Wes-Kaap te koördineer.
Die loodsprojek bou voort op die fondamente van die Eerste 1,000 Dae-veldtog en die Nourish to Flourish-strategie, wat albei in 2016 deur die Wes-Kaapse regering van stapel gestuur is. Dit weerspieël ook ʼn beduidende verskuiwing wat intussen plaasgevind het.
“Histories het ons in rigiede silo's gewerk. Nou het ons oorgeskakel na ʼn lewensloopbenadering, wat ʼn kind se hele lewe en familie in ag neem, insluitend verbandhoudende kwessies," sê Nicolette Henney, ʼn Adjunkdirekteur by die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand.
Ingryping vóór geboorte
Suid-Afrika se maatskaplike welsynstelsel sluit die Kinderondersteuningstoelaag (R560 per kind per maand) en die Maatskaplike Noodlenigingstoelaag (R370 per maand) in, maar albei begin eers ná geboorte.
Die loodsprojek poog om dit reg te stel deur vroeg tydens swangerskap te begin. Dit strook met oproepe van die burgerlike samelewing en navorsers vir ʼn Moederondersteuningstoelaag, wat deur die nasionale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling gesteun word, maar nog nie goedgekeur is nie. Fiskale beperkings word dikwels uitgewys, maar navorsing toon dat die openbare gesondheidstelsel miljarde kan bespaar deur lae geboortegewig en verwante komplikasies te verminder.
Die nuwe 'kontant + sorg' loodsprojek is een van die maniere waarop provinsiale en nasionale regerings swanger vroue kan bystaan, wat wys hoe geteikende, vroeë ingryping kan help om siklusse van armoede en wanvoeding te ontwrig.
As dit slaag, kan dit Suid-Afrika ʼn skaalbare model in die stryd teen ingekorte lengtegroei – een van die land se hardnekkigste en duurste openbare gesondheidskrisisse.
* Desmond Thompson is ʼn vryskutjoernalis.
* Beeld: Ratna Fitry from Pixabay