Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Blink toekoms wink vir talentvolle Dhania Schultz
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 25/03/2025

Daar is min studente wat hul tyd by die Universiteit Stellenbosch (US) in dieselfde gebou deurbring waar hul ouers die eerste keer ontmoet het. Dhania Schultz, wat vandeesweek haar honneursgraad in skryf en regie ontvang het, het ʼn baie spesiale band met die US se Departement Drama. Om die dogter te wees van ʼn geliefde akteursegpaar met diep wortels by die US, het hierdie gradeplegtigheid ekstra spesiaal gemaak vir dié talentvolle akteur wat dwarsdeur haar akademiese loopbaan op verskeie terreine uitgeblink het.

Dhania se ouers is twee beroemde Maties-alumni. Haar pa, Waldemar Schultz, het bekendheid verwerf as Jan-Hendrik Terreblanche in die TV-reeks 7de Laan en is ook ʼn gewilde teaterakteur, stemkunstenaar en regisseur. Terwyl hy aan die US gestudeer het, het hy ʼn Fleur du Cap-toekenning as Mees Belowende Student en ʼn Dux-toekenning vir Akademiese Uitnemendheid ontvang. Waldemar het ook aan die US gedoseer terwyl hy sy meestersgraad voltooi het.

Dhania se ma, Ira Blanckenberg, is ʼn gesoute aktrise, bekend vir rolle in verskeie TV-programme, films en teaterproduksies en sy bestuur haar eie dramaskool. Nes haar dogter, het Ira uitgeblink in haar drama-graad aan die US. Sy is destyds benoem as die mees belowende student vir die Fleur du Cap-toekennings en het in 2022 'n benoeming ontvang vir 'n Suid-Afrikaanse rolprent- en televisietoekenning.

Al het sy so te sê op stelle en in teaters grootgeword, was drama nie ʼn outomatiese studierigting nie, vertel Dhania. “Ek het deur duisende verskillende fases gegaan voordat ek op drama besluit het. In ʼn stadium wou ek wiskunde studeer. My pa het ook baie verskillende belangstellings en ek is aangemoedig om altyd nuuskierig te wees. My aanlegtoetse het studievelde soos geoktrooieerde rekeningkunde aanbeveel, maar ek het geweet ek sou nie heeldag agter ʼn lessenaar kon sit nie!"

Akademiese uitnemendheid

Toe Dhania nagedink het oor haar belangstellings en dinge wat sy graag doen, het sy besef drama omsluit alles waaroor sy geesdriftig is. “Veral noudat ek op skryf en regie fokus, wat ook stelontwerp, beligting en klank behels – dit beteken jy kan jouself visueel en prakties uitdruk terwyl jy ook met mense en idees werk. Ek het ʼn plek gevind waar ek al die dinge kan ontwikkel waarvan ek hou. Daar is niks so lekker nie," sê sy met ʼn groot glimlag.

Toe sy eers die besluit geneem het om drama te studeer, was die US ʼn maklike keuse, sê Dhania. “Ons Dramadepartement is een van die bestes in die land, indien nie die heel beste nie. Dit was die enigste plek waar ek aansoek gedoen het, en ek was baie dankbaar dat ek toegelaat is."

Die afgelope vier jaar se intense betrokkenheid by die Première-toneelfees, waar studente skryf en regisseer en hul eie produksies opvoer, het Dhania laat besef wat haar ware roeping is, naamlik regie. “Ek sou aanvanklik net my honneursgraad in regie doen. Maar vir ons jaar is skryf en regie in een graad gekombineer. Dit was so ʼn bedekte seën, want ek het ʼn aardige klomp vaardighede aangeleer."

In haar honneursjaar was Dhania by sewe verhoogproduksies betrokke, het drie produksies geskryf, asook oortyd aan teoretiese modules gewerk.

Benewens haar liefde vir toneelspel en regie, is Dhania ook ʼn natuurlik begaafde akademikus. Sy het verlede jaar die Rektorstoekenning vir Akademiese Uitnemendheid ontvang. Sy skryf haar hoë punte toe aan nuuskierigheid en ʼn ingesteldheid om die meeste van elke geleentheid te maak. “Jy put net uit die lewe wat jy daarin sit," sê sy beslis. “Dis hoekom ek al die geleenthede wat ek hier gekry het, aangegryp en ʼn miljoen dinge probeer het. Hoe meer jy insit en leer, hoe meer groei jy."

Transformerende krag van teater

Sy praat roerend oor die krag van die kunste en veral van teater om ruimte te skep vir ʼn gedeelde menslikheid. Haar gesin het in 2013 ʼn ondenkbare verlies ervaar toe haar broer, Kieran, op 14-jarige ouderdom gesterf het nadat hy op ʼn krans by die ou hawe in Hermanus gegly en afgeval het.

Dhania, wat destyds 11 was, het aanvanklik gesukkel om sin van die tragedie te maak terwyl sy in die mediakollig was. Soos wat sy volwasse geword het, het sy die terapeutiese waarde daarvan besef om haar emosies in kreatiewe pogings te kanaliseer. “Ek dink hartseer kan baie isolerend wees en jou baie alleen laat voel. Maar om myself kreatief uit te druk was baie genesend. Om jou diepste, mees kwesbare self aan mense te openbaar en om te sien hoe mense hulle daarmee vereenselwig en daarby aansluiting vind, is ʼn pragtige ervaring.

“Ek onthou hoeveel my ma se toneelstuk oor die verlies van my broer, Haal Asem, vir mense beteken het en hoe hulle toe ervarings kon deel wat hulle nog nooit voorheen kon verwoord nie. Ek dink die mooiheid van menswees is dat daar altyd iemand anders is wat iets soortgelyks as jy ervaar het. Om dit te deel kan mense op diepgaande maniere byeenbring."

Dhania hou vol teater sal altyd haar eerste liefde wees en hoewel sy daarna uitsien om die meeste van Suid-Afrika se lewendige kunstefeestoneel te maak, dink sy ook aan die moontlikheid om by die rolprentbedryf betrokke te raak. “Ek is nog besig om uit te vind presies waar ek by al hierdie dinge wil inpas. Daar is soveel opsies daar buite en ek is baie opgewonde om dit alles te verken. Ons land het van die wonderlikste kreatiewe stemme."

Op gradeplegtigheidsdag was daar nie veel tyd vir feesviering wees nie, aangesien Dhania die verhoogbestuurder en assistent-regisseur is vir Annie + Helen, ʼn teaterproduksie waaraan tans gerepeteer word vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), wat volgende maand in Oudtshoorn plaasvind.

Sodra die druk verminder, hoop Dhania om tyd te maak vir “ʼn buitensporige fees" saam met vriende en familie om die einde van haar tyd by die US te vier. “Ek het die afgelope vier jaar soveel as mens gegroei en dit het so baie vir my beteken. Ek sal graag by die US betrokke wil bly," sê sy.

Trotse ouers

Vir Ira en Waldemar is dit ʼn “voorreg en ʼn seën" om Dhania se ouers te wees

“Om haar op die trappe van die Dramadepartement te sien staan waar my en Waldi se liefde al daardie jare gelede begin blom het, het my hart laat bars van liefde, waardering en trots," sê Ira. “Dhania het elke geleentheid op universiteit aangegryp en die hoogtes wat sy as skrywer, regisseur, akteur en akademikus bereik het, slaan my asem weg. Waarop ek die trotsste is, is wat sy as mens geleer het – haar empatie vir ander, die lewenslange vriende wat sy gemaak het en haar deursettingsvermoë in donker tye."

Waldemar sê dit is ʼn vreugde om Dhania haar eie pad in ʼn “mal" bedryf te sien stap. "Ek het enorme respek vir haar kreatiwiteit en visie. Sy gee alles in enige hoedanigheid waaraan sy haarself in ʼn produksie toewy, en ek dink sy sal ʼn ongelooflike aanwins vir die bedryf wees. Ek kan nie wag om saam met haar te werk nie, of dit nou op die verhoog of op stel is. Sy inspireer my daagliks 'to make magic' en om stories te vertel."

FOTO: Sefan Els