Klimaatsverwarming het tot gevolg dat woestynakkedisse in tropiese en subtropiese streke soos die Kgalagadi-woestyn in Suid-Afrika, meer energie spandeer om te oorleef en te groei. Hulle moet ook harder werk om kos te vind om in hierdie verhoogde vraag na energie te kan voldoen.
Namate hulle prooi soos insekte, sade en plante al hoe skaarser word met klimaatsverandering, akkumuleer hul lewenskoste en koste om kos te soek in so 'n mate dat akkedisse hul in 'n spreekwoordelike “lewenskosteknyp" bevind.
Dít is van die voorspellings wat gemaak word in 'n studie oor klimaatsverandering en die “lewenskoste-knyp" waarin woestynakkedisse hul bevind, wat onlangs in die toonaangewende interdissiplinêre vaktydskrif Science gepubliseer is.
Prof. Susana Clusella-Trullas, 'n fisiologiese ekoloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) en mede-outeur van die artikel, sê die voorspelling van die aard, rigting en omvang van die reaksies van verskillende spesies op klimaatsverhitting, is een van die grootste uitdagings om die toekoms van ons biodiversiteit te verseker, veral in gebiede wat bedreig word deur volgehoue temperatuur- en waterstres.
“Vorige navorsing oor koudbloedige diere, soos insekte en reptiele, het gefokus op hul blootstelling aan episodes van uiters hoë liggaamstemperature, maar kumulatiewe stres as gevolg van ligter en meer volgehoue verandering kan ook op die lang termyn 'n negatiewe impak op gesondheid hê en 'n bevolkingsafname veroorsaak," verduidelik sy.
Hierdie studie, gelei deur Dr. Kristoffer Wild van die Universiteit van Melbourne, het aan die lig gebring dat dit inderdaad die geval is vir woestynakkedisse wat gedurende die dag aktief is. By hierdie spesies verhoog hoër temperature die behoefte om meer kos te soek ten einde in die energie-aanvraag te kan voorsien. Maar wanneer dit té warm word, word hul soektog beperk wanneer hulle genoodsaak is om onder 'n rots of struik te skuil om af te koel. Akkedisse wat snags aktief is, kan egter baat vind by warmer temperature aangesien hul meer tyd het om snags kos te soek.
Die outeurs het biofisiese modelle en kode – ontwikkel deur mede-outeur Prof. Michael R. Kearney van die Universiteit van Melbourne – toegepas om die lewenskoste te voorspel, gebaseer op akkedisse se energiebegrotings onder vorige en toekomstige klimaatstoestande vir woestynakkedisse van Suid-Afrika se Kgalagadi-woestyn en die Groot Victoria-woestyn in Australië. Hierdie terreine is gekies omdat die span toegang gehad het tot langtermyn-historiese datastelle met 2685 veldwaarnemings oor 'n tydperk van 40 jaar, in die 1970s gesamel deur mede-outeurs en herpetoloë Eric R. Pianka en Raymond B. Huey (https://www.desertlizards.dev/).
Hierdie unieke datastelle bevat inligting oor plaaslike omgewingstemperatuur en liggaamstemperatuur, aktiwiteitpatrone en habitatgebruik van akkedisse in hierdie streke. Meer onlangs (in 2017 en 2019) het Clusella-Trullas by die span aangesluit op ekskursies na die Kgalagadi. Haar navorsingsgroep het gefokus op metings van die weerkaatsing van die vel van hierdie akkedisse, 'n sleutelparameter vir die voorspelling van hul liggaamstemperatuur in veldtoestande.
Die span het hierdie historiese velddata gebruik om die resultate van die wiskundige model wat op biologiese en fisiese beginsels gegrond was, te toets. Hulle het getoon dat die model baie goed presteer het toe dit met velddata vergelyk is. Byvoorbeeld: daar is waargeneem en gedokumenteer dat die Australiese miervretende-akkedis, Moloch horridus, 750 tot 1500 miere per dag eet. Onder dieselfde toestande het die biofisiese model 'n voedingstempo van 837 miere per dag voorspel. In the Kgalagadi was die gemete metaboliese temp van “lewenskoste" van die dag-gevlekte sandakkedis (Pedioplanis lineoocellata) ook byna identies aan die voorspellings van die biofisiese model vir dieselfde plek en tydperk. Met hierdie bevindings was die outeurs in staat om meer akkurate voorspellings te maak oor die lewenskoste van veelvuldige spesies en kon daarom die mees kwesbare streke uitlig wat die risiko loop vir bevolkingsafname.
Volgens Clusella-Trullas, beklemtoon die studie dat dit belangrik is om nie patrone oor spesies of streke te vinnig te veralgemeen nie. “Ons voorspellings dui daarop dat toekomstige verwarming 'n groter impak op Suid-Afrikaanse woestyne as op Australiese woestyne sal hê. En dat spesies wat bedags aktief is, in groter gevaar is as dié wat snags aktief is. Selfs klein verskille in natuurlike geskiedenis of gedrag kan lei tot merkbare verskille in terme van termiese reaksies en die netto impakte wat verwarming op bevolkings sal hê," sê sy.
Die artikel beklemtoon ook die belangrikheid van langtermyn, uitgebreide velddata wat jou in staat stel om robuuste voorspellings ten kan maak van spesiespesifieke reaksies op verwarming, voeg sy by. “Ongelukkig is befondsing, sowel as tyd en beskikbare mannekrag deesdae beperk vir sulke langtermyn data-insamelingsekskursies, veral in afgeleë gebiede, ondanks die belangrikheid daarvan soos wat ons in hierdie studie aantoon," sluit sy af.
Op die foto's bo:
Veldwerk is by verskeie terreine in die Kgalagadi-oorgrenspark, Noord-Kaap, Suid-Afrika onderneem om historiese terreine wat meer as 50 jaar gelede bestudeer is, te ondersoek. Een van die spesies wat bestudeer is, die grond-agama (Agama aculeata) wat pragtige kleure vertoon desondanks die skroeiende temperature in struikagtige woestynhabitatte van die Kgalagadi. Foto's: Susana Clusella-Trullas