Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verwelkom Dr. Sweke as AIMS se nuwe Duitse leerstoelhouer
Outeur: Faculty of Science (media and communication)
Gepubliseer: 18/03/2025

​Dr. Ryan Sweke is die eerste Suid-Afrikaans gebore en opgeleide wetenskaplike wat die Duitste navorsingsleerstoel (Alexander von Humboldt German Research Chair of Mathematics and its Applications) by die Afrika Instituut vir Wiskundige Wetenskappe  (AIMS) gaan beklee.

By AIMS sal Sweke die “Quantum at AIMS-" navorsingsgroep lei, wat fokus op 'n wye verskeidenheid onderwerpe onder die breë sambreel van kwantumberekening  en kwantuminligting. As deel van die leerstoel is hy ook as senior lektor aangestel in die Departement Wiskundige Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die leerstoel is 'n strategiese inisiatief tussen die US en AIMS, met die ondersteuning van die Von Humboldt Stigting.

Sweke wat in Johannesburg gebore en sy skoolloopbaan in Pretoria voltooi het, het in 2017 sy PhD in Fisika aan die Universiteit van KwaZulu-Natal onder studieleiding van Prof. Francesco Petruccione verwerf. Laasgenoemde is tans die direkteur van die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Berekeningswetenskappe (NITheCS).  

Alhoewel Sweke stewig in Afrika-bodem gewortel is, het dit hom nie gekeer om sy vlerke te sprei en geleenthede wêreldwyd te verken nie. In 2018 het hy hom aangesluit by die groep van Prof. Jens Eisert in die Dahlem Center for Complex Quantum Systems by die Freie Universität Berlin. Hy het eers as 'n Alexander von Humboldt-nadoktorale genoot gewerk, en toe as 'n senior nadoktorale genoot betrokke by die PlanQK project, die Duitse regering se vlagskip-kwantummasjienleer-inisiatief. Ná sy termyn in Berlyn, het Sweke van 2022 tot 2024 vir net meer as twee jaar as navorsingswetenskaplike by IBM Quantum in San Jose, Kalifornië, gewerk.

Sweke sê hy het nog altyd 'n begeerte gehad om terug te keer na AIMS nadat hy in 2011 'n werksessie oor kwantumberekening bygewoon het. Dit was inderdaad hierdie werksessie wat sy navorsingsloopbaan in hierdie veld afgeskop het.  

“Kwantumberekening sit by die punt waar teoretiese rekenaarwetenskap, fisika, wiskunde, en ingenieurswese mekaar kruis. In 'n mate kan 'n mens kwantumberekening beskou as 'n bewys van die krag van interdissiplinêre werk," verduidelik hy.

Daarom is hy so opgewonde om terug te keer na sy wortels by AIMS: “Ek glo regtig dat navorsing wat sáám deur diverse groepe individue (met diverse perspektiewe, agtergronde, en denkwyses) gedoen word, byna sekerlik meer suksesvol sal wees én meer relevant vir die probleme wat ons as samelewing in die gesig staar. Boonop sal dit ook lekkerder wees om hieraan deel te neem."

“Ek glo dat dit die rede is waarom ek nog altyd besonder aangetrokke was tot AIMS, wat 'n ongelooflik diverse pan-Afrikaanse omgewing vir navorsing bied. Hierdie omgewing inspireer my en gee my energie en ek is baie bly om uiteindelik deel van hierdie AIMS-gemeenskap te kan wees."

Prof. Burtram Fielding, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, het Dr. Sweke by die US verwelkom: “Sy aanstelling versterk die Fakulteit Natuurwetenskappe se akademiese netwerk, skep geleenthede vir gesamentlike navorsingsinisiatiewe, en versterk ons posisie as 'n middelpunt vir voorpunt wiskundige en berekeningswetenskappe in Afrika."

Prof. Sibusiso Moyo, Adjunk Vise-kanselier vir Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies by die US, het ook vir Dr Sweke welkom geheet: “As bekleër van die leerstoel sal Dr Sweke baie kan bydra ten opsigte van die generering van kennis en vaardigheidsopleiding, en daardeur ons nasionale en globale impak vermeerder wanneer dit kom by kwantumberekening." Sy dien ook op die raad van AIMS.

Klik hier vir meer oor Dr. Sweke se insigte oor die toekoms van kwantumberekening en waar die  interessante navorsingsvrae lê.

Klik hier vir meer oor die Alexander von Humboldt Duitse Navorsingsleerstoele in die res van Afrika.