Meer as 550 voor- en nagraadse studente aan 28 Suid-Afrikaanse universiteite is opgelei in die grondbeginsels van wetenskaplike rekenaar- en datawetenskap tydens die jaarlikse “Coding Summer School" wat van 27 Januarie tot 7 Februarie 2025 plaasgevind het.
Sedert 2019 word die somerskool gesamentlik deur die Sentrum vir Hoëprestasie-rekenaarkunde (CHPC) en die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Berekeningswetenskappe (NITheCS) aangebied. Sedert 2010 het meer as 2000 studente al die skool bygewoon.
Vanjaar is voorgraadse studente vir die eerste keer ook toegelaat om by te woon. Altesaam 159 voorgraadse, 134 HonneursBSc-, 212 MSc- en 159 PhD-studente het dit bygewoon, insluitend 45 nadoktorale genote en 35 professionele persone.
Nog 'n verandering is dat studente 'n toelatingstoets moes aflê voordat hulle aanvaar is. Ter voorbereiding is hulle aangemoedig om die NITheCS Software Carpentry Workshop van 11-15 November 2024 by te woon.
Na die twee weke lange kursus het 372 (58%) studente daarin geslaag om vir 'n Sertifikaat van Voltooiing te kwalifiseer. Onder die topvyf 'Pythonistas' was nagraadse studente Zusiphe Mzazela van die Universiteit van Kaapstad, Boithuso Phale van die Universiteit van die Witwatersrand, Kgaugelo Ledwaba van die Noordwes-Universiteit, Lindiwe Maphalla van die Universiteit van Johannesburg, en Anuoluwa Makinde van iThemba Labs – almal vroulike studente.
Mnr Binjamin Barsch, hoofsagteware-ingenieur by die CHPC en hoofkoördineerder vir die Somerskool, sê hulle het vanjaar van inleidende Python na intermediêre opleiding beweeg: “Om die basiese beginsels van Python te leer is reeds geredelik beskikbaar en toeganklik aanlyn, so die inhoud het meer gefokus op praktiese vaardighede vir navorsers. Hierdie jaar het ons ook meer op persoonlike bywoning gefokus. Die studente se terugvoer het gewys dat hulle die fisiese teenwoordigheid van die instrukteurs baie waardevol gevind het."
Dr Werner Janse van Rensburg, navorsingsbestuurder by CHPC, sê hulle het vanjaar ook uit hul pad gegaan om die persoonlike ervaring van deelnemers te verbeter: “Ons het nuwe en boeiende opleidingsoefeninge – insluitend speletjies – ontwikkel om leer in Python- en Bash-skrif te verbeter. Studente moes in spanne teen mekaar meeding. Met Bashcrawl, moes studente versteekte lêers opspoor en uitdagende probleme oplos."
Een van die topvyf Pythonistas stem saam: “Die skool was werklik buitengewoon. Ek het veral die spankompetisies waardeer, en om met 'n verskeidenheid instrukteurs te kan kommunikeer. Ek wens ons het meer tyd gehad, want almal het soveel om te bied," sê Kgaugelo Ledwaba, 'n BScHons-student wat ingeskryf is by die Sentrum vir Ruimtenavorsing aan die Noordwes-Universiteit.
Ledwaba, wat aan die Kwandebele Science Combined School in die dorpie Siyabuswa-Kwandebele, Mpumalanga, gematrikuleer het, sê sy hoop om 'n kenner te word in die verkenning van velde soos seininterpretasie, die bevordering van navorsing in sterrekunde by die Suid-Afrikaanse Radio-astronomie-sterrewag (SARAO) of NASA. Voordat sy vir die somerskool ingeskryf het, het sy geen vorige ondervinding van rekenaardenke of masjienleer gehad nie.
Nog 'n Pythonista, Lindiwe Maphalla, sê sy is tans besig met 'n PhD in Biotegnologie aan die Universiteit Johannesburg: "Ek hoop om beduidende bydraes te maak op die gebied van biotegnologie en bioinformatika, deur koderingsinstrumente te gebruik om biologiese data meer effektief te ontleed."
Maphalla, wat matriek aan Setjhaba Sohle Sekondêre Skool in die Vaal-streek van Gauteng voltooi het, sê sy wil die organiseerders van die Somerskool bedank vir so 'n waardevolle platform vir leer en persoonlike groei: "Ek sien uit daarna om my reis in navorsing en kodering voort te sit," sluit sy af.
Op die foto bo: Studente van die Universiteit Stellenbosch wat die somerskool bywoon.