’n Inisiatief van die US Skool vir Rekeningkunde om onderwysers se kennis en vaardighede uit te brei, die Teacher Enrichment Programme (TEP), het al duisende onderwysers regoor die Wes-Kaap sedert sy ontstaan in 2018 gehelp. Dié jaarlikse program in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) toon ’n verbintenis tot die transformasie van die onderwys en gemeenskap deur die opskerping van die vaardighede en kennis van opvoeders.
Die TEP is ’n aanlyn opleidingskursus wat spesifiek vir onderwysers in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) ontwerp is. Dit is toegespits op die kurrikulumuitkomste van die WKOD en sluit ’n reeks gratis lesings en werksessies in. Die program is daarop gemik om onderwysers se vermoëns te verbeter om ingewikkelde begrippe aan leerders te verduidelik om só die volgende generasie met finansiële geletterdheidsvaardighede toe te rus om in ’n steeds ontwikkelende ekonomie te floreer.
Onderwysuitreik met blywende impak
Mev. Waldette Engelbrecht, dosent by die Skool vir Rekeningkunde en TEP-koördineerder, het die program soos volg opgesom: “Basiese finansiële beginsels en rekenkundige begrippe bevat dikwels onbekende terminologie wat leerders aanvanklik kan afskrik. Deur middel van TEP deel ons die vaardighede met die onderwysers om dié begrippe op ’n logiese, stap-vir-stap-wyse af te breek. Dit stel hulle in staat om dit doeltreffend aan leerders van uiteenlopende agtergronde te onderrig.”
In die terugvoer van deelnemers beklemtoon hulle die verstaanbaarheid en toeganklikheid van die opleiding. Een onderwyser het gesê: “Die aanbieder het geweet waarvan sy praat en het die inhoud maklik verstaanbaar gemaak, selfs toe sy ingewikkelde begrippe soos eienaarsbelang en rekeningkundige vergelyking verduidelik het.” Hierdie vermoë om uitdagende onderwerpe uitmekaar te haal en dit met werklike, eietydse voorbeelde toe te lig, het grotendeels daartoe bygedra om onderwysers se begrip ’n hupstoot te gee. Die interaktiewe aard van die opleiding het ook ’n sleutelrol gespeel. Onderwysers het die geleentheid waardeer om vrae te vra en direk met die aanbieders te kommunikeer. “Die voorbeelde en besprekings het gehelp om ’n gemeenskaplike begrip van kernkonsepte te skep,” het een deelnemer gesê. “Die aanbieders het praktiese voorbeelde gebruik – dit was maklik om te volg en het die inhoud relevant gemaak.”
Die TEP-fokus verskuif jaarliks na ander grade, waar moeilike onderwerpe in die kurrikulum aan die beurt kom. Onderwysers word opgelei in metodes om begrippe soos inkomste, uitgawes en hoe om te begroot op só ’n wyse aan te bied dat dit aanklank by die leerders vind ongeag hulle agtergrond of omgewing. Die program word weekliks in beide Engels en Afrikaans aangebied om dit toeganklik te maak vir ’n verskeidenheid onderwysers regoor die streek. In die mees onlangse program het 16 dosente van die Skool vir Rekeningkunde die werksessies aangebied en sodoende hul kundigheid vir die ontwikkeling van onderwysers gebruik.
Mev. Engelbrecht voeg by: “Ek beskou dit as ’n deel van ons maatskaplike verantwoordelikheid - ’n geleentheid om iets aan die gemeenskap terug te gee deur middel van onderwys. Wanneer onderwysers bemagtig word, kan hulle daardie kennis aan hul leerders oordra en die leerders help om uiteindelik in hul eie akademiese loopbane en daarna uit te blink. Dit kring al hoe wyer uit: beter toegeruste studente het meer geleenthede om hul tersiêre onderrig te voltooi, die werksmag te betree en ’n positiewe bydrae tot die ekonomie en die gemeenskap te maak.”
Skakel tussen onderwys en gemeenskapstransformasie
Deur die bevordering van onderwysers se vaardighede, sluit TEP aan by die eeufeestema van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, naamlik die transformasie van die ekonomie en die gemeenskap. Wanneer opvoeders met gevorderde onderrigvaardighede en ’n dieperliggende begrip van finansiële geletterdheid bemagtig word, verbeter hulle nie net hul eie praktyke nie, maar help hulle ook die toekomstige werksmag vorm. Dit lei op sy beurt tot ’n gemeenskap wat finanseel meer geletterd is en kweek beter besluitneming, ekonomiese deelname en maatskaplike verantwoordelikheid. Soos hierdie leerders, later studente, gradueer en by die werksmag aansluit, neem hulle die nodige vaardighede saam met hulle om betekenisvol tot die ekonomie by te dra en daardeur ’n volhoubare siklus van groei en bemagtiging te skep.
’n Hoogtepunt van die program is die aanlyn-formaat wat vir buigsaamheid en gerief sorg, en waaruit veral onderwysers met druk skedules voordeel trek. “Ek waardeer dit dat die opleiding aanlyn plaasvind; dit is net soveel makliker om dit in my program te pas,” het een onderwyser gesê. Die beskikbaarheid van opnames maak dit ook moontlik dat onderwysers die inhoud weer kan nagaan en bevorder hul leer en aanwending van die stof verder.
Die TEP is ’n uitstekende voorbeeld van hoe onderwys as ’n voertuig vir gemeenskapstransformasie ingespan kan word. Deur onderwysers toe te rus, verseker die program dat leerders die onderrig ontvang wat hulle verdien en skep sodoende blywende verandering binne en buite die klaskamer.