Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Veteraan-ekonoom Besin oor die Evolusie van die Stellenbosch Bestuurskool
Outeur: Lyndon Julius
Gepubliseer: 14/11/2024

Waar die Stellenbosch Bestuurskool nou sy 60ste verjaarsdag vier, is slegs enkele personeellede langer aan hierdie instelling verbonde as die ekonoom en toekomsdenker, prof André Roux. Hy bied ʼn unieke perspektief op die Bestuurskool se verlede, hede en toekoms. Sy dienstyd, wat meer as vier dekades in verskillende rolle (waaronder deeltydse en voltydse dosent) dek, lig nie slegs sy persoonlike verbintenis tot onderwys uit nie, maar ook die merkwaardige evolusie van die Bestuurskool.

In 1964 het die Stellenbosch Bestuurskool sy deure geopen vir ʼn handjievol MBA-studente, in ʼn klein, formele woning op Stellenbosch. Vandag staan dit as ʼn baken van hoër onderwys met meer as 1 000 studente jaarliks en ʼn verskeidenheid programme wat veel verder as die tradisionele MBA strek. Hierdie transformasie weerspieël die dinamiese aard van besigheidsonderwys, wat verskuif het van die enkele fokus op wins na ʼn meer holistiese benadering, wat saamgevat word in die ‘drieledige essensie’ van mense, wins en planeet.

“Ek dink die Bestuurskool is baie goed gevestig,” Phet prof Roux gesê. “Oor die jare heen is daar baie goeie werk deur baie bekwame mense gedoen en ek dink daar is ʼn duidelike visie vir die toekoms. Wat my rol betref, was dit opwindend om betrokke te wees by ʼn skool met so ʼn sterk fondasie. Ons is besig om te fokus op gebiede waar ons meer waarde kan toevoeg, in die besonder deur medewerking met verskillende belanghebbers.”

Hy het hierdie transformasie waargeneem en daartoe bygedra en herroep die vroeë jare toe die kurrikulum hoofsaaklik op besigheidsadministrasie gerig was. Met verloop van tyd het die Skool by wêreldtendense en plaaslike behoeftes aangepas, en programme in toekomsdenke (wat hy in 1998 bekend gestel het), ontwikkelingsfinansies, projekbestuur, afrigting en leierskap bekend gestel. Hierdie veranderinge is aangedryf deur die besef dat besigheidsonderwys tersaaklik vir en responsief op die wêreld se veranderende uitdagings moet bly, veral in ʼn land soos Suid-Afrika, met sy unieke geskiedkundige en sosio-ekonomiese konteks

Die Stellenbosch Bestuurskool se vermoë om aan die voorpunt te bly, is een van die faktore wat dit uitsonderlik maak. Prof Roux beklemtoon die belangrikheid van tersaaklikheid, nie slegs in die inhoud van die programme wat aangebied word nie, maar ook in die leweringsmodusse. Die skool was onder die eerstes wat die potensiaal van aanlyn leer besef het en het afstandsonderrigprogramme aangebied jare voordat die Covid-19-pandemie dit noodsaaklik gemaak het. Hierdie vooruitbeplanning het die instelling in staat gestel om gladweg oor te skakel toe wêreld gedwing is om aanlyn te gaan, wat weer eens bewys dat innovasie aan die kern van sy sukses lê.

“Een van die hoofaspekte is om tersaaklik te bly in ʼn steeds-veranderende omgewing. Ons benadering was om deurlopend te innoveer – nie slegs ten opsigte van die kurrikulum nie, maar ook in hoe ons met studente, fakulteitslede en die industrie omgaan. Ons het reeds groot vordering gemaak met die aanbied van meer pasgemaakte, aanpasbare programme wat aan die behoeftes van moderne sakeleiers voldoen.”

As ʼn futuris voorsien hy selfs meer klem op aanpasbaarheid en interdissiplinariteit. Hy stel ʼn toekoms in die vooruitsig waar studente modules uit verskillende universiteite regoor die wêreld kan uitsoek en ʼn verpersoonlikte opvoeding kan saamstel wat hulle unieke belangstellings en loopbaandoelwitte weerspieël. Dit kan nuwe uitdagings meebring, soos die bestuur van intellektuele eiendom en institusionele hindernisse, maar hy is vol vertroue dat die wil om te innoveer die ontwikkeling van oplossings sal aandryf.

Een van die Bestuurskool se trotsste prestasies is toe die ‘driedubbele kroon’ van internasionale bestuurskoolakkreditasies daaraan toegeken is. Hierdie roemryke erkenning plaas die skool onder die top 1% van bestuurskole wêreldwyd, saam met instellings soos Harvard en INSEAD. Vir voornemende studente is hierdie akkreditasie ʼn kenteken van gehalte, wat aandui dat die opvoeding wat hulle sal ontvang, op dieselfde vlak as die beste in die wêreld is

Maar buiten vir die lofbetuiginge, is dit die verbintenis tot verantwoordelike leierskap wat die Stellenbosch Bestuurskool, volgens prof Roux, werklik spesiaal maak. Die kurrikulum is deurtrek met die beginsels van volhoubaarheid, etiese leierskap en maatskaplike verantwoordelikheid. Dit is nie net ʼn reaksie op globale tendense nie, maar ʼn weerspieëling van die Skool se oortuiging dat besighede positief tot die samelewing en die omgewing moet bydra.

Waar die Bestuurskool nou sy volgende 60 jaar binnegaan, is prof Roux optimisties oor sy toekoms. Hy hoop op ʼn voortgesette klem op aanpasbare, innoverende onderwys wat aan die behoeftes van ʼn vinnig-veranderende wêreld voldoen. Hetsy deur die integrasie van kunsmatige intelligensie (KI), die opkoms van die virtuele kampus, of die toenemende belangrikheid van lewenslange leer, die Bestuurskool is oorgehaal om ʼn leier in besigheidsonderwys te bly.

Een gebied waar hy beduidende potensiaal raaksien, is in die ontwikkeling van empatie en transdissiplinêre denke. In ʼn wêreld waar KI en outomatisering meer roetinetake oorneem, sal menslike vaardighede soos empatie en kreatiwiteit selfs meer waardevol raak. Hy voorsien dat toekomstige sakeleiers nie slegs kenners op hulle gebied sal moet wees nie, maar ook vaardig met werk oor dissiplines heen om nuwe kennis te skep en ingewikkelde probleme op te los.

“Medewerking is noodsaaklik vir sukses. Ons het die voorreg gehad om met ʼn paar ongelooflike vennote, plaaslik en internasionaal, saam te werk, wat ons gehelp het om ons omvang en impak te vergroot. Die sterkte van hierdie verhoudings is die sleutel tot ons sukses en ons verken deurlopend nuwe maniere om betrokke te raak en saam waarde te skep.”

Prof Roux se besinnings oor die afgelope 60 jaar van die Stellenbosch Bestuurskool getuig nie slegs van die instelling se groei nie, maar ook van sy eie nalatenskap – sy onwrikbare verbintenis tot die onderwys, sy versiendheid met die antisipering van tendense en sy toewyding aan die aankweek van verantwoordelike leierskap.

Vrywaring: Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer op die Stellenbosch Bestuurskool se webtuiste: www.stellenboschbusiness.ac.za