Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die vorming van die toekoms van die Stellenbosch Bestuurskool met visie en toewyding
Outeur: Lyndon Julius
Gepubliseer: 14/11/2024

Professor Charles Adjasi, die waarnemende direkteur van die Stellenbosch Bestuurskool, het ʼn ryk en diverse agtergrond met ʼn diepgaande invloed op sy benadering tot leierskap en akademia. Prof Adjasi (oorspronklik van Ghana) se pad na Suid-Afrika en sy uiteindelike rol by een van die mees vooraanstaande bestuurskole op die vasteland is ʼn verhaal van visie, vasbeslotenheid en ʼn diepe verbintenis tot die ontwikkeling van Afrika.

Prof Adjasi het die eerste keer met Suid-Afrika te doen gekry by ʼn konferensie wat in 2004 by die Stellenbosch Bestuurskool gehou is. Destyds was hy ʼn akademikus in Ghana, besig om ʼn PhD te oorweeg en sou hy ʼn referaat saam met ʼn paar van sy eweknieë aanbied. Die konferensie het hom aan Suid-Afrika en die unieke geleenthede en uitdagings wat die land bied, bekend gestel. Sy aanvanklike indruk van Suid-Afrika het sy belangstelling gewek, maar hom ook oor enkele belangrike vrae laat nadink.

Die land se infrastruktuur, wat aan Europa of Noord-Amerika herinner, het hom beïndruk, maar die strak verskille in rykdom en geleenthede het hom diep laat peins. Hierdie tweeledigheid sou later sy werk en visie vir die Bestuurskool onderlê.

“Suid-Afrika se infrastruktuur het my verstom; veral Kaapstad, toe ek die eerste keer hier aangekom het,” het prof Adjasi gesê. “Ek het egter die duidelike verskil opgemerk terwyl ek tyd in Kaapstad deurgebring het – ʼn wonderlike plek met wonderlike infrastruktuur, maar ook diepe ongelykheid. ʼn Ongelykheid wat steeds bestaan en dis pynlik. Maar dit is ook wat my aanspoor om ʼn verskil te maak.”

Voordat hy by Stellenbosch aangesluit het, het prof Adjasi beoog om ʼn loopbaan in batebestuur of by die Sentrale Bank van Ghana te begin, nadat hy pas sy magistergraad in Ekonomie verwerf het. Sy loopbaan was oënskynlik klaar uitgelê. Die sterk aantrekkingskrag van die akademie en navorsing het egter sy fokus verskuif deur die invloed en oortuiging van ʼn professor of twee aan die universiteit.

In 2011 het prof Adjasi as ʼn gasdosent by die Stellenbosch Bestuurskool aangesluit – ʼn rol wat vinnig in ʼn permanente posisie ontwikkel het. Teen daardie tyd was hy nie net ʼn akademikus nie, maar ook ʼn gesinsman, aangesien hy vroeër daardie jaar getroud is. Sy vrou, Chewe Sakha Adjasi (oorspronklik van Zambië), was ʼn ondersteunende vennoot op sy reis en deel sy geesdrif vir onderwys en ontwikkeling. Sy het al in die NRO-sektor gewerk, waar sy op die bemagtiging van jong vroue gefokus het en doseer tans besigheidskommunikasie aanlyn aan studente in die Ivoorkus. Hulle twee seuns beskou Kaapstad as hulle tuiste, ten spyte van hulle sterk bande met Zambië en Ghana.

Toe hy destyds aangesluit het, was die Ontwikkelingsfinansiesprogram nog in ʼn vroeë stadium. Vandat is dit een van die voorste programme in die vakgebied en word dit plaaslik en internasionaal erken.

“Ons wou verder groei as waar ons was, om die voorste verskaffers van ontwikkelingsfinansiesonderwys en die rigpunt nie slegs in Afrika nie, maar wêreldwyd, te wees” het hy gesê.

Een van sy kernoortuigings is hoe belangrik dit is om kennis met ʼn langdurige impak te skep. Hierdie filosofie van die medeskepping van kennis saam met studente en kollegas was die dryfkrag agter die Skool se inklusiewe en medewerkende kultuur.

Onder leiding van prof Adjasi het die Stellenbosch Bestuurskool steeds aangehou om medewerking bo mededinging te prioritiseer. Hierdie benadering het ʼn kultuur gekweek waar elke lid van die Skool, van die professors tot by die administratiewe personeel, gewaardeer en aangemoedig word om tot die instelling se sukses by te dra.

“Ek glo dat ons nie moet meeding nie, ons moet saamwerk. Nie slegs met die industrie nie, maar ook met die samelewing en ander bestuurskole. Medewerking is die sleutel tot ons sukses en die skep van ʼn betekenisvolle impak,” Phet prof Adjasi voortgegaan. “Ons wil saam skep aan kennis wat lewenswerklike probleme en vraagstukke aanpak, en studente en die groter gemeenskap uitnooi om deel van hierdie proses te wees. Dit gaan daaroor om ʼn langdurige impak te maak.”

“Daar is nog baie wat ons kan doen. Ons het aan sommige verwagtinge voldoen, maar daar is enorme potensiaal om meer te doen. Niks keer ons nie – ons het net die wil en die ruimte nodig om dit te doen. Ons het ʼn kultuur hier waar jy dalk nie verskil sal sien tussen die persoon wat in ʼn kantoor werk en die een wat ʼn professor is nie. Dis ʼn baie inklusiewe ruimte en ons moet dit lewendig hou.”

Sy visie vir die toekoms van die Stellenbosch Bestuurskool is ambisieus, dog realisties. Hy sien die Bestuurskool nie slegs as ʼn leier in die streek nie, maar as ʼn globale rigpunt in besigheidsonderwys, innoverende onderrigmetodes, en die deel van kennis. Sy voete bly egter stewig op die grond en hy erken dat, hoewel baie reeds vermag is, daar nog baie meer is om te doen.

“Ons almal werk aan iets groter. Dit gaan nie net oor individuele prestasies nie, maar oor gesamentlike vordering. Dit is wat ons werk hier so bevredigend maak. Ek wil toesien dat ons studente en alumni die wêreld met ʼn ander ingesteldheid betree – een wat op langtermynoplossings en die maak van ʼn werklike verskil gerig is.”

Vrywaring: Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer op die Stellenbosch Bestuurskool se webtuiste: www.stellenboschbusiness.ac.za