Prof Willem Fourie van die Universiteit Stellenbosch (US) het einde Oktober aan Meta se “Open Innovation AI Research Community Annual Research Workshop" by Meta se Londense kantore deelgeneem. Die geleentheid het navorsers en praktisyns van Kunsmatige Intelligensie (KI) bymekaargebring om die jongste vooruitgang in kunsmatige intelligensie te ondersoek.
Fourie, wat die Leerstoel in Beleidsinnovasie beklee en die US se Beleidsinnovasie-laboratorium lei, het 'n referaat gelewer oor die gebruik van groot taalmodelle (LLM's) om beleidsadvies te verbeter. Hy het sowel die potensiële voordele as uitdagings geassosieer met die integrasie van LLM's in Suid-Afrika se beleidmakingsprosesse bespreek, en hul praktiese voordele uitgelig saam met die etiese oorwegings wat hulle na vore bring.
Fourie het oor die werkswinkel opgemerk: “Oopbron- generatiewe KI kan die reeds verbysterende spoed waarteen innovasie plaasvind dramaties verhoog." Maar hy het ook beklemtoon dat tradisionele reaktiewe en tydrowende benaderings tot beleidmaking onvoldoende is om positiewe tegnologiese en maatskaplike impakte te bevorder.
Die werkswinkel het gefokus op 'n in-diepte ondersoek van Meta se Llama 3, besprekings oor KI-toepassings in gesondheid en landbou, en sessies gelei deur globale kundiges wat KI se implikasies op die samelewing bekyk het. Fourie se insigte in KI-gedrewe beleidsinnovasie het die US se verbintenis tot die inspan van tegnologie vir maatskaplike vooruitgang beklemtoon.
As die hoof van die US se Beleidsinnovasie-laboratorium, Afrika se eerste inisiatief van sy soort, gestig in samewerking met die Presidensie, die Duitse regering en die Bill & Melinda Gates-stigting, ondersoek Fourie hoe datawetenskap en KI-instrumente uitdagings binne die beleidmakingslandskap kan aanpak .
Die Open Innovation AI Research Community, wat in 2023 gestig is, het ten doel om samewerking en kennisuitruiling tussen akademiese navorsers in KI te bevorder. Die jaarlikse werkswinkel dien as 'n platform vir die deel van navorsingsbevindings, die bespreking van innoverende toepassings en die daarstelling van toekomstige navorsingsagendas.
Fourie se deelname aan hierdie geleentheid weerspieël die US se toewyding om die heel jongste tegnologie by beleidsontwikkeling te inkorporeer, om te verseker dat vooruitgang in KI positief tot die samelewing bydra. Sy perspektiewe oor die etiese implikasies van KI in beleidmaking bied waardevolle insigte vir Suid-Afrika én die globale gemeenskap, sê Prof Kanshu Rajaratnam, Direkteur: Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke.