Prof Zwelinzima Ndevu, Direkteur van die Skool vir Publieke Leierskap in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, het sy intreerede op Dinsdag, 5 November 2024 gelewer. Die titel van sy lesing was “Ambidekstrie in staatsdiensleierskap: 'n Gevallestudie van die Suid-Afrikaanse Regering van Nasionale Eenheid".
Ndevu het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gepraat oor die belangrikheid van die professionalisering van die openbare sektor vir doeltreffende dienslewering.
Vertel ons meer oor jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld begin belang stel het.
My navorsingsfokus is op hoe staatsdiensinstellings funksioneer en die idee is om die werkverrigting van die drie sfere van regering te verstaan. Die doel van my navorsing is om ʼn positiewe impak op die samelewing te maak deur te fokus op openbare leierskap, prestasiebestuur en etiek in die openbare sektor. My belangstelling is hoofsaaklik geprikkel deur die besef dat die staatsdiens ʼn baie belangrike instaatsteller is en ʼn deurslaggewende rol in dienslewering (basiese dienste) aan ons gemeenskappe speel. Die verslae van die Ouditeur-generaal skets elke jaar ʼn baie ontstellende prentjie van dié sektor, wat vir my ʼn bron van kommer was en die behoefte geskep het om iets aan hierdie kwessie te doen.
Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?
My werk help die staatsdiens, amptenare en gewone burgers om te verstaan hoe die regering moet funksioneer.
Hoe kan staatsamptenare in Suid-Afrika mededingende eise vir radikale en inkrementele verandering balanseer?
Ons moet die professionalisering van staatsamptenare ondersteun. Dit sluit die ontwikkeling van vereiste bevoegdhede soos vaardighede, norme en waardes in, sodat hulle doeltreffend en bekwaam kan wees en in staat is om openbare hulpbronne op die mees ekonomiese en verantwoordelike manier en met groot impak te gebruik. Ons as universiteite en akademici kan hierdie inisiatief ondersteun deur amptenare in die openbare sektor deur middel van beroepskwalifikasies te bekwaam en te verseker dat ons gegradueerdes geskik is vir hul doel deur die relevante leerplaninhoud in ons programme te onderrig.
Waarom is dit belangrik vir ons staatsamptenare en leiers om beide polities en administratief vaardig te wees?
ʼn Bekwame staatsdiens beteken ʼn doeltreffende en produktiewe werknemer wat vindingryk is en die mandaat verstaan om dienste ooreenkomstig mense se behoeftes te lewer.
Gebaseer op jou uitgebreide navorsing, wat moet gedoen word om openbare leierskap in Suid-Afrika te verbeter?
Om uitdagings rakende die gehalte van leierskap in die staatsdiens aan te pak moet staatsamptenare en politici oor die minimum vereistes, vaardighede en bevoegdhede vir hul werk beskik. Dit sal help om die sektor te professionaliseer.
Jy het baie jare in die uitdagende omgewing van hoër onderwys deurgebring. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Die sektor is dinamies, uitdagend en bied baie geleenthede, veral die betrokkenheid by studente van eerstejaars- tot nagraadse vlak. Om hulle tydens hul studies te sien groei en tot rypheid kom, is die beste gevoel. Wat my in die sektor gemotiveerd hou, is die vryheid om myself uit te druk en my mening sonder vrees te gee.
Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?
Interaksie met my studente, om idees met kollegas te deel en uit ander se navorsingsfokusareas te leer.
Vertel vir ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.
Ek hou van my spasie.
Hoe bring jy jou vrye tyd deur?
Ek kyk sport en lees.