Dr Nicky Newton-King, Voorsitter van die Raad van die Universiteit Stellenbosch, skryf in die Daily Maverick oor hoekom die Wilgenhof-debat saak maak.
Lees die Afrikaanse vertaling van artikel hieronder:
Waarom die Wilgenhof-debat saak maak
Dit sê iets oor 'n instelling wat die afgelope week teleurstellend deur mediaberigte oor die beweerde beïnvloeding van die paneelverslag oor Wilgenhof oorheers is, eerder as oor die opwindende moontlikhede vir vernuwing wat die Universiteit se ooreenkoms met die Wilgenhof-ouers en -inwoners bied. Ek stem in beginsel nie saam met die Kanselier se bewerings nie, maar ons moenie toelaat dat openbare geskille moontlikhede oorskadu nie.
Dit sê iets oor 'n instelling dat wanneer 'n manier gevind word vir sy huidige inwoners om 'n sentrale en konstruktiewe rol in sy vernuwing te speel, baie van sy alumni nie onmiddellik optree en daardie benadering onomwonde ondersteun nie, maar eerder volhard om op hulle eie belange te fokus, ondanks die feit dat hulle erken dat dit enige proses van vernuwing moeiliker sal maak. Ons moet probeer verstaan waarom dit die geval is.
Dit sê iets oor 'n instelling dat wanneer hy met bewyse gekonfronteer word van aktiwiteite wat geen plek in 'n moderne universiteit het nie, die fokus van die reaksie nie onmiddellik daarop val om in die skoene van ander te staan en te erken hoe dit deur hulle en veral die breër kampusgemeenskap waargeneem kan word nie, maar om te argumenteer oor hoe dit openbaar gemaak is, of dat die reputasie van sy alumni in twyfel getrek is. Ons moet dankbaar wees vir die senior alumni wat 'n baie belangrike rol agter die skerms gespeel het om balans in hierdie reaksie te probeer bring.
Dit sê iets oor 'n instelling wanneer soveel van sy alumni onthou dat hulle tyd daar van die gelukkigste en vormendste in hulle lewens was. Ons moet probeer om daardie goedheid te bewaar.
Wilgenhof is 'n koshuis met 'n ryke geskiedenis, die tuiste van alumni van oudregter Edwin Cameron tot Markus Jooste. Ons moenie verbaas wees dat die ontdekking van die twee kamers in Wilgenhof vroeg in Januarie vanjaar 'n belangrike oomblik van afrekening vir die Universiteit Stellenbosch-gemeenskap aan die gang gesit het nie.
Na my mening gaan die Wilgenhof-debat nie net oor wat by Wilgenhof gebeur het nie, maar sentreer dit om verandering. Dieselfde verandering wat in skole, universiteite, sakeondernemings en ander ruimtes regoor ons spesiale land afspeel. Dit is 'n kritieke debat oor hoe om te behoort en insluiting in Suid-Afrika 30 jaar ná die beëindiging van apartheid kan lyk. Dit sal van ons almal vereis om weer opnuut te kyk na wat ons uit ons geskiedenis saamdra en om vrede te maak met hoe ons op die beste manier 'n konstruktiewe rol kan speel in die verandering wat voorlê. Ons moet sorg dat ons hierdie bespreking sensitief, outentiek, dapper en nederig bestuur.
My lang ondervinding van veranderingsbestuur in uiters beproewende omgewings het my geleer dat verandering moeilik is; dit vereis dat wedersydse vertroue verdien word; dit vra van alle betrokkenes dat ons ons in ander se situasies indink; dat ons mekaar vang as ons goed doen, nie wag vir mekaar om te struikel nie (soos ons almal ongetwyfeld sal doen); dit vereis stil en dapper gesprekke.
Vir my was die fokus daarop om by 'n plek uit te kom waar ons 'n behoorlike begrip van die belangrikheid van die twee kamers gehad het, sodat ons kon verstaan hoe om te reageer; en om alle toepaslike belanghebbendes te laat ooreenstem dat onaanvaarbare en geheimsinnige praktyke geen plek in 'n moderne universiteit het nie; en oor hoe om vorentoe te beweeg na 'n plek waar ons hierdie oomblik as 'n deurslaggewende oomblik kan gebruik om die verandering wat ons by ons geliefde Universiteit moet sien, te versnel. Dit was baie moeiliker as wat ek verwag het.
Soos ek oor die afgelope tien maande nagedink het, lyk dit asof baie van die probleme deur 'n diep en wedersydse vertrouestekort voortgedryf word. Eerder as dapper gesprekke oor praktyke, persepsies, kultuur, die behoefte aan verandering en die vorming van die toekoms, is die bespreking tot dusver deur luidrugtige mediaposisionering, ad hominem-aanvalle en formele prosesse oorheers. Eerder dat belanghebbendes 'n proses vertrou om tot 'n regverdige besluit te kom, het hulle probeer om buite die proses betrokke te raak om besluitnemers te beïnvloed. Dit blyk deur hierdie vertrouestekort gedryf te word, en dit was tot groot nadeel daarvan om 'n pad vorentoe te vind waarmee alle belanghebbendes in ooreenstemming kan wees. Ons moet beter doen.
Die US is 'n diverse universiteit met meer as 35 000 studente, 231 000 alumni en 4 832 personeellede. Dit is ook 'n residensiële universiteit met 37 koshuise (Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse saam) wat die tuiste van 8 043 studente is, waarvan 206 in Wilgenhof bly. Al hierdie belanghebbendes maak saak.
Terwyl ons dus vorentoe beweeg, is my wens dat alle US-belanghebbers hulle met opregtheid tot die gefasiliteerde vernuwingsproses sal verbind wat die Raad in plek stel en aan die studente wat by die gefasiliteerde vernuwing betrokke is, al die materiële én emosionele ondersteuning sal bied wat ons kan. Ons moet die uiters belangrike rol erken wat ons as individue speel om verandering moontlik te maak en dat ons eie individuele belange – veral as leiers – minder saak maak as die belange van 'n breër groep. Ons moet vrede maak met die feit dat verandering moeilik is, en dat mense sal struikel en val – en wanneer dit gebeur, moet ons hulle weer op die pad help. En ons moet die klein oorwinnings langs die pad vier om vertroue in die pad vorentoe te bou.
Gebeure rondom Wilgenhof het ons gedagtes besig gehou en die reuseprestasies by die US vanjaar, soos byvoorbeeld die gesogte Templetonprys wat aan prof Pumla Gobodo-Madikizela toegeken is, die aanstelling van ons nuwe Rektor en Visekanselier vir 2025, prof Deresh Ramjugernath, en die viering van die insameling van R3 miljard in skenkings in die ampstermyn van prof Wim de Villiers, die huidige Rektor en Visekanselier, van hulle prominensie ontneem. Dit demonstreer die dringendheid van die debat, want totdat ons 'n manier vind om vertroue en 'n gemeenskaplike siening van ons toekoms te bou, sal ons aandag afgelei word van die versnelling van die ongelooflike vordering wat ons Universiteit in sy wesenlike akademiese kernpoging maak.
Ons moet die geweldige pyn in hierdie Wilgenhof-debat vir soveel verskillende belanghebbendes erken. Maar terselfdertyd moet ons hierdie oomblik gebruik vir die geleentheid wat dit bied om 'n heilsame en sistemiese verandering teweeg te bring wat ons gekoesterde Universiteit as 'n voorbeeld posisioneer van wat dit beteken om werklik divers en inklusief te wees, waar alle belanghebbendes voel hulle behoort. Dit is sekerlik 'n toekoms wat ons almal kan ondersteun.