'n Mylpaal-boek wat die stories en herinneringe saamvat van 'n byna vergete gemeenskap wat in die voormalige Hardekraaltjie-begraafplaas begrawe is, is vandeesweek aan lede van die Ravensmead-gemeenskap oorhandig. Die boek, “Landscapes of Dispossession – Stories of Hardekraaltjie Cemetery as Told by People from Tiervlei-Ravensmead", is deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se visuele regstelling- en restitusieprojek om hierdie historiese begraafplaas op die gronde waar die US se Tygerberg-kampus en Tygerberg-hospitaal nou geleë is, te herdenk
Die boek, uitgegee deur Jacana Media, vat die nadenke en perspektiewe saam van gemeenskapslede wat geraak is toe die begraafplaas in 1946 buite diens gestel is. Dit bewaar die stories en herinneringe van die nageslagte van die meer as 700 mense wat in die vroeë 1900's daar begrawe is.
“Hierdie boek, van 'n gemeenskap wie se stories en perspektiewe amper verlore geraak het in die annale van ons institusionele geskiedenisse, is noodsaaklik vir die behoud van identiteit en geskiedenis en dit herverbind ons universiteitsgemeenskap se met die verlede," sê dr Leslie van Rooi, US Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie. "Ons glo dat die dokumentasie van hierdie stories 'n platform skep vir genesing en dialoog, terwyl ons ons verbintenis tot die gemeenskappe waarin die universiteit werk, bevorder."
Die boek is deel van 'n breër inisiatief om die historiese begraafplaas te herdenk en erkenning te gee aan die onteiening van gemeenskappe wie se families, vriende en geliefdes daar begrawe is. Die Hardekraaltjie-bestuurskomitee, bestaande uit lede van die Ravensmead/Tiervlei-gemeenskap, US en Tygerberg-hospitaal, hou toesig oor die inisiatief.
Die boek, wat deur Marietjie Oelofse en Chefferrino Fortuin geredigeer is, bevat verhale van 29 afstammelinge wie se voorouers in die Hardekraaltjie-begraafplaas begrawe is. Prof Aslam Fataar, 'n Hoër Onderwys Transformasie-navorser aan die US, verduidelik: “Binne hierdie bladsye skryf afstammelinge oor hul jeugherinneringe van speel in die begraafplaas en besoek aan grafte saam met hul ouers. Hulle bewaar en deel ook stories wat deur hul ouers oorgedra is, ter ere van hul voorvaders en gemeenskapslede wat in die begraafplaas ter ruste gelê is."
Die begraafplaas was van 1910 tot 1946 in gebruik en was van sentrale belang in die lewens van die voormalige Tiervlei-gemeenskap, wie later onder die apartheidsregime se Groepsgebiedewet aan gedwonge verskuiwings onderwerp is. In 1974 het die destydse Parow-munisipaliteit 'n gedeelte van die grond aan die US oorgedra vir die uitbreiding van sy sportfasiliteite.
Die kwessie is die eerste keer onder die universiteit se aandag gebring deur 'n voormalige personeellid, mnr Daniel Dietrich, wie se pa en oom aan vaderskant daar begrawe is. Die US het die afgelope dekade met gemeenskapslede gekonsulteer om hul verbintenis met die begraafplaas te herstel en hul voorouers op gepaste wyse te herdenk.
Dr Therese Fish, Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, merk op: “Hierdie boek dien as 'n kragtige herinnering aan ons verlede en is ook 'n oproep om gemarginaliseerde stemme te erken en te ondersteun, hetsy deur gefokusde en voortgesette maatskaplike pogings om vermybare ongelykhede, historiese en kontemporêre ongeregtighede of sosiale determinante van gesondheid aan te spreek."
Die boek is aan 30 gemeenskapslede en gemeenskapsnavorsers oorhandig by 'n geleentheid wat by die Protestantse Kerk van Afrika in Ravensmead gehou is. Bykomende boeke sal ook aan plaaslike biblioteke en skole verskaf word, en kopieë van die boek kan by boekwinkels of via die Jacana Media-webwerf gekoop word: Klik hier.
Ook teenwoordig by die geleentheid was prof Nico Koopman, US Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, en families van die deelnemers.