Die Erasmus-projek, Sentrums vir Beroepsuitnemendheid [Centres of Vocational Excellence (CoVE)] vir klimaatslim-landbou in Suid-Afrika, het sy halfpadmerk bereik met die CoVE Suid-Afrika Konferensie wat op 15 Oktober 2024 in die Paarl plaasgevind het, gevolg deur 'n reeks opleidingswerksessies.
Hierdie inisiatief wat deur die Europese Unie befonds word is daarop gemik om TVET-kolleges te help om plaaslike CoVE-hubs te vorm wat boere ondersteun en studente help om deelnemende en digitaal vaardige professionele persone te word wat landbou op 'n volhoubaarheidsgrondslag beoefen.
Die eerste helfte van die projek het gefokus op opleidingswerksessies wat die EU-CoVE-konsep in die Suid-Afrikaanse konteks geplaas het en hierdie hubs gebruik het om die kolleges met industrie te verbind. Belangrike mylpale wat tot dusver behaal is, is onder meer die totstandkoming van die drie streeks-CoVE-hubs by die Boland, Weskus en Lovedale Kolleges in Maart, en die ondertekening van die Briewe van Voorneme met die onderskeie belanghebbendes.
Die konferensie is aangebied deur Casidra (SOC) Beperk en bygewoon deur afgevaardigdes van die Boland, Lovedale, en Weskus Kolleges, AgriColleges International, die Universiteit Stellenbosch (US), die Mendel Universiteit (Tsjeggiese Republiek) en Maastricht Universiteit (die Nederlande).
In sy openingsrede het Prof. Burtram Fielding, Dekaan van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe die belangrikheid van samewerking tussen verskillende opvoedkundige instellings beklemtoon.
Die projekverwante aktiwiteite vir die volgende ses maande is op streeksvlak deur die onderskeie kolleges gedeel wat opgevolg is met 'n werksessie oor hoe hierdie aktiwiteite op nasionale vlak ondersteun kan word. Die dag is afgesluit met 'n toer van, en ete by die Klein Goederust Boetiekwynmakery.
Gedurende die res van die week het die opleidingswerksessies op die volgende onderwerpe gefokus: kulturele diversiteit; EU-waardes; leierskapsstrategieë en -vaardighede; en projekbestuur en -monitering. Hierdie werksessies is aangebied by AgroHub en die Universiteit Stellenbosch Waterinstituut (SUWI), asook Casidra (SOC) Beperk. Die afgevaardigdes is ook aan innoverende kweekhuistegnologieë bekendgestel tydens 'n uitstappie na die HortiDemoCentre by die US se Fakulteit AgriWetenskappe.
Kontak Manuel Jackson by jacksonm@sun.ac.za vir meer inligting.