Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldberoertedag: Arbeidsterapeute bevorder oorlewendes van beroertes se lewensgehalte
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 29/10/2024

As beroepswerkers in rehabilitasie bevorder arbeidsterapeute die lewensgehalte van oorlewendes van beroertes deur hul vermoë om alledaagse take uit te voer te verbeter en te help met herintegrasie in hul gemeenskappe, om terug te keer werk toe en om aan ontspanningsaktiwiteite deel te neem.

Só sê ʼn groep navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).  Hulle het twee toonaangewende gesondheidsorgdatabasisse deursoek om relevante sistematiese oorsigte van primêre navorsing wat tussen 2018 en 2023 oor die rol van arbeidsterapie in beroertesorg en -herstel gepubliseer is te bekyk. Die doel was om bewyse in te samel oor hoe arbeidsterapeute met beroertepasiënte van alle ouderdomme en in alle stadiums van sorg werk.

Hul bevindings is onlangs in die South African Journal of Occupational Therapy gepubliseer.

Die hoofnavorser, dr Madri Engelbrecht van die Afdeling Gestremdheid- en Rehabilitasiestudies aan die US, het aan die vooraand van Wêreldberoertedag op 29 Oktober gesê “beroerte is die tweede grootste oorsaak van sterftes in die wêreld, met die meeste sterftes wat in lae-inkomstelande voorkom. Soos wat beroertes meer algemeen in Afrika suid van die Sahara voorkom, is dit belangrik om te ondersoek hoe arbeidsterapie kan help om van beroerte te herstel". Sy het die studie saam met Janke van der Walt en Hester van Biljon van die US en Shaheed Soeker van die UWK gedoen.

Volgens die navorsers dui bewyse van die afgelope vyf jaar op uiteenlopende arbeidsterapie-intervensies met mense wat ʼn beroerte gehad het, asook die beroep se toewyding om gestremdhede en individuele behoeftes aan te pak.

Hulle sê nege uit al die artikels wat hulle hersien het, toon bewyse dat arbeidsterapie help met probleme met die boonste ledemate ná ʼn beroerte. In ses artikels is bespreek hoe arbeidsterapie beroerte-oorlewendes se algehele funksie verbeter, drie het op kognitiewe intervensies gefokus, en twee het gegaan oor intervensies wat mobiliteit, balans, sosiale deelname, werk en vryetydsaktiwiteite aanpak. Een van die artikels het gefokus op die wyse waarop arbeidsterapie met daaglikse lewensaktiwiteite help en ʼn ander op ondersteuningsintervensies vir versorgers.

“Kliënte wat rehabilitasie van hul boonste ledemate ná ʼn beroerte ondergaan het, sluit volwassenes met armgestremdheid tot op die ouderdom van 73 in. Hul herstel het gewissel van die vroeë stadium (8,5 dae ná die beroerte) tot die langtermyn-stadium (6,2 jaar ná die beroerte). Daar is net in een artikel duidelik genoem waar die intervensie plaasgevind het, dit wil sê by ʼn kliniek, by die kliënt se huis, of in ʼn navorsingslaboratorium.

“In een artikel is ʼn bygewerkte sistematiese oorsig van bewyse vir tele-rehabilitasie bespreek, terwyl die res van die artikels oor aangesig-tot-aangesig intervensie gegaan het. Terapeute het motoriese rehabilitasie aangebied vir verlamming van die een kant van die liggaam en beperkings van die boonste ledemate, intervensies vir enkelgestremdheid, asook kognitiewe rehabilitasie en terapie vir depressie deur middel van tele-media soos telefone en videokonferensies. Die oorsig het tot die gevolgtrekking gekom dat tele-rehabilitasie effektief is in die behandeling van motoriese en kognitiewe agterstande, sowel as depressie ná ʼn beroerte.

“Twee artikels het gefokus op intervensies sonder medikasie vir spastisiteit (wanneer spiere styf raak nadat dit vir lang tydperke saamgetrek het) en nie-beweeglikheidsverwante komplikasies, asook die verbetering van liggaamlike funksies ná ʼn ernstige beroerte."

Die navorsers voeg by dat versorgers van oorlewendes van beroertes ook by arbeidsterapie-intervensie baat vind.

“Om hulle te voorsien van kognitiewe gedragsterapietegnieke (die identifisering en verandering van negatiewe denkpatrone en gedrag), asook van opvoeding, opleiding en ondersteuning – verkieslik voor die ontslag van die persoon wat die beroerte gehad het – kan hulle help om die uitdagings van versorging die hoof te bied en na hul eie welstand om te sien."

Volgens die navorsers illustreer die verskillende intervensiebenaderings vir die behandeling van oorlewendes van beroertes wat in die artikels beskryf word, die potensiaal van arbeidsterapie om innoverende praktyke, metodes en tegnologieë te gebruik. Dit demonstreer voorts dat dié beroep in lyn is met wêreldwye neigings om tegnologie met gesondheidsorgdienste te integreer om geografiese en toeganklikheidshindernisse te bowe te kom.

Aanbevelings

Op grond van hul bevindings maak die navorsers die volgende aanbevelings vir die arbeidsterapiepraktyk.

“Arbeidsterapeute behoort ʼn holistiese benadering in beroerte-rehabilitasie te volg en die behandeling aan te pas om aan die unieke behoeftes en doelwitte van elke oorlewende van 'n beroerte te voldoen. Hulle moet ook oor ontwikkelende tegnologieë en bewysgebaseerde praktyke ingelig bly om hul doeltreffendheid te verbeter.

“In die lig van die voorkoms van gestremdhede van die boonste ledemate ná 'n beroerte, moet terapeute goed vertroud wees met uiteenlopende intervensiebenaderings vir die rehabilitasie daarvan, met inbegrip van tegnologieë soos brein-rekenaar-koppelvlak, kognitiewe oefeninge, spieëlterapie en aksiewaarnemingsterapie.

​“Omdat arbeidsterapie noodsaaklik is om oorlewendes van beroertes se kognitiewe gestremdhede aan te pak, moet praktisyns intervensies soos virtuele realiteit en rekenaargesteunde kognitiewe rehabilitasie verken wat belofte getoon het in die verbetering van kognisie en die vermoë om basiese daaglikse take uit te voer."

Omdat Suid-Afrika se openbare gesondheidstelsel te min hulpbronne het, moet die beskikbaarheid, toegang tot en gebruik van tegnologie deur die land se arbeidsterapeute wat by beroerte-rehabilitasie betrokke is, versigtig oorweeg word om optimale rehabilitasie-intervensies vir plaaslike kliënte te verseker, voeg die navorsers by.

Hulle benadruk die dringende behoefte aan studies wat relevant vir Suid-Afrika is.

“Toekomstige studies moet daarop gemik wees om die optimale intensiteit en duur van intervensies te verduidelik, langtermyn-uitkomste te bepaal en die koste-effektiwiteit van hierdie benaderings te ondersoek. Die vlak van opleiding, vaardighede en ervaring van terapeute wat gesofistikeerde beroerte-rehabilitasie in die land aanbied, sal van belang wees."