Onderriggenootskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) is in 2009 daargestel om ’n geleentheid vir uitstaande akademici te skep om hulle onderrigkundigheid te ontwikkel en die uitbreiding van die Akademieskap van Onderrig en Leer aan die Universiteit te bevorder. Sedertdien het die US reeds 21 onderriggenootskappe toegeken.
US dosente wat tans ’n onderriggenootskap het, is: prof. Debby Blaine (Fakulteit Ingenieurswese), prof. Nicola Plastow (Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), dr. Taryn Bernard (Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe), dr. Marnel Mouton (Fakulteit Natuurwetenskappe) en dr. Mariette Volschenk (Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe):
Die Universiteitskapasiteitsontwikkelingsplan (“UCDP”) bied verdere befondsing vir drie onderriggenootskappe vanaf 1 Januarie 2025.
Die genootskappe bied uitnemende dosente met bewese betrokkenheid by onderrig-leer-assessering (OLA) en die Akademieskap van Onderrig en Leer ondersteuning en geleenthede om oor een tot drie jaar hul OLA-vakkundigheid op departementele, fakulteits- en institusionele vlak te bevorder en te deel.
Die kern van ʼn genootskap is ʼn navorsingsprojek wat op enige aspek van OLA mag fokus, dit wil sê makro-aspekte soos program- of kurrikulumvernuwing, of meer mikro-aspekte soos die herontwerp van die assessering van ʼn module of die ondersoek van innoverende klaskameringrype.
Voornemende aansoekers moet in gedagte hou dat die doel van ’n onderriggenootskap nie is om akademici aan die Akademieskap van Onderrig en Leer bekend te stel nie. Indringende kennis en toepassing van die Akademieskap van Onderrig en Leer is noodsaaklik om ’n navorsingsprojek op die vlak van ’n onderriggenootskap te onderneem.
Die sluitingsdatum vir aansoeke vir die 2025 Onderriggenootskappe is 18 November 2024.
Vir meer inligting, insluitende die bepalings van die genootskappe en die aansoekvorm, tree asseblief in verbinding met dr. Karin Cattell-Holden by kcattell@sun.ac.za.