Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch vier mylpaal van R3 miljard
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 28/10/2024

Die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge (OAB) het verlede week 'n beduidende prestasie behaal met die aankondiging van suksesvolle fondswerwing-inisiatiewe wat drie miljard rand oor die afgelope dekade beloop het.

"Hierdie merkwaardige prestasie, wat onder leiding van ons rektor, prof Wim de Villiers, gedurende sy twee ampstermyne verwesenlik is, is 'n bewys van gesamentlike pogings van ons vrygewige skenkers, toegewyde personeel en die onwrikbare ondersteuning van die universiteitsgemeenskap," sê OAB se Senior Direkteur, Karen Bruns.

"Die vrygewigheid van ons skenkers het ons in staat gestel om te belê in toonaangewende navorsing, moderne fasiliteite en lewensveranderende geleenthede vir ons studente. Die pogings van ons toegewyde en passievolle personeel, tesame met prof De Villiers se aktiewe betrokkenheid by fondswerwing-inisiatiewe, insluitend sy persoonlike deelname aan onder meer die Sanlam Kaapstad-marathon, die Kaapstad-fietstoer en Londen-na-Brighton-fietsrit, het 'n belangrike rol gespeel om die universiteit tot hierdie belangrike mylpaal aan te dryf."

David Marupen, Direkteur van Fondswerwing, sê filantropie het 'n deurslaggewende rol in die universiteit se groei en ontwikkeling gespeel. "Deur doeltreffende fondswerwing-inisiatiewe het ons filantropiese skenkers beduidende bydraes tot die Universiteit Stellenbosch gelewer."

Bruns sê as ons terugkyk op die afgelope 10 jaar, is daar soveel hoogtepunte: "In 2017 het ons 'n erflating van R194 miljoen ontvang tot voordeel van studente in die elektroniese en elektriese ingenieursdissiplines; en in 2018 het ons R50 miljoen van filantroop, US-alumnus en sakeleier, Jannie Mouton, ontvang om die Jan Mouton-leersentrum, vernoem na sy pa, te bou. Ons het baie studentetoegangs- en ondersteuningsprogramme van stapel gestuur wat steeds help om die volgende generasie leiers groeikrag te bied; en mees onlangs was die universiteit die begunstigde van 'n erflating van R50 miljoen wat op talentvolle voorgraadse en nagraadse teologie- en musiekstudente gemik is.

"Tydens die uitdagende Covid-19-pandemie het ons ongelooflike ondersteuning ontvang van individuele skenkers, bedryfsleiers, sowel as plaaslike en internasionale trusts en stigtings, wat noodintervensies en navorsing ondersteun het. Dit verteenwoordig veel meer as gemeenskapsolidariteit, en demonstreer ons skenkers se vertroue in die US as 'n leier in hoër onderwys op ons vasteland. Op grond van hierdie momentum het ons die Bridge the Gap (BTG) Jaarfonds in 2021 van stapel gestuur om studente te ondersteun om die finansiële uitdagings wat hulle akademiese sukses kniehalter, te oorkom. Hierdie Fonds spreek kwessies soos voedselonsekerheid, studenteskuld, werksgereedheid en menstruele higiëne aan."

Bruns sluit af: "Terwyl ons van die leierskap van ons uitgaande rektor Wim de Villiers na prof Deresh Ramjugernath oorgaan, sien ons daarna uit om die instelling op 'n ambisieuse volgende reis te neem. OAB bly 'n standvastige vennoot om die Universiteit Stellenbosch se missie te bevorder en filantropie te inspireer terwyl dit 'n toekomsgerigte en inklusiewe universiteit vir die land, die vasteland en die wêreld ondersteun."