Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nobelprys vir Ekonomie aan ontvanger van US-eredoktorsgraad toegeken
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Anel Lewis]
Gepubliseer: 14/10/2024

Die 2024 Nobelprys vir Ekonomie is aan Daron Acemoglu, Simon Johnson en James Robinson toegeken vir hulle navorsing oor hoe instellings gevorm word en hoe dit ekonomiese welvaart beïnvloed.

Robinson, 'n professor aan die Universiteit van Chicago, het in Maart vanjaar 'n eredoktorsgraad in die handel (DCom) van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang. Hy is erken vir die bevordering van die vakgebied van kwantitatiewe ekonomiese geskiedenis in Suid-Afrika en vir sy toewyding om in die Globale Suide te werk en aktief saam met ontluikende vakkundiges in Latyns-Amerika en Afrika suid van die Sahara te werk.​

Robinson het in sy aanvaardingstoespraak by die US se gradeplegtigheid in Maart gesê: “My samewerking met die US was nog altyd vir my persoonlik en intellektueel belangrik. Ek stuur my PhD-studente so gereeld as wat ek kan hierheen om by die LEAP (Laboratory for the Economics of Africa's Past)-instituut te werk. Die navorsing wat by die US gedoen word, rewolusioneer die studie van Afrika se ekonomiese geskiedenis en ek hoop net dat ek deel daarvan kan wees en dit na die hele vasteland kan uitbrei."

Die Koninklike Sweedse Akademie vir Wetenskappe het gesê vanjaar se pryswenners in die ekonomiese wetenskappe "het die belangrikheid van samelewingsinstellings vir 'n land se welvaart getoon". Die Akademie sê verder in 'n persverklaring: "Die pryswenners het getoon dat een verklaring vir verskille in lande se welvaart die samelewingsinstellings is wat gedurende kolonisasie ingestel is. Inklusiewe instellings is dikwels ingestel in lande wat arm was toe hulle gekoloniseer is, wat mettertyd 'n algemeen welvarende bevolking tot gevolg gehad het. Dit is 'n belangrike rede waarom voormalige kolonies wat eens ryk was, nou arm is, en omgekeerd."

Biografiese besonderhede van die medewenners:

Daron Acemoglu, gebore in 1967 in Istanbul, Türkiye. PhD 1992 aan die London School of Economics and Political Science, VK. Professor by die Massachusetts-instituut van Tegnologie, Cambridge, VSA.

Simon Johnson, gebore in 1963 in Sheffield in die Verenigde Koninkryk. PhD 1989 aan die Massachusetts-instituut van Tegnologie, Cambridge, VSA. Professor by die Massachusetts-instituut van Tegnologie, Cambridge, VSA.

James A. Robinson, gebore in 1960. PhD 1993 aan Yale-Universiteit, New Haven, CT, VSA. Professor by die Universiteit van Chicago, IL, VSA.​

Foto: Stefan Els