In 'n revolusionêre vertoon van Afrika-vernuf sal 'n elektriese motorfiets wat in Afrika ontwerp en gebou is en net deur die son aangedryf word, die lang pad van Nairobi na Stellenbosch in Oktober aanpak. Die inisiatief sal deel wees van die vieringe vir Vervoermaand.
Navorsers van die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) het kragte saamgesnoer met Roam, 'n tegnologiegedrewe elektriese mobiliteitsmaatskappy in Nairobi, Kenia, om die Roam Air, 'n pasgemaakte elektriese motorfiets wat in Kenia vir Afrika ontwerp is, te toets. Die motorfiets word in stedelike omgewings gebruik.
Sover vasgestel kon word, sal dit die eerste keer wees dat elektriese motorfietse wat slegs deur sonkrag aangedryf word en in Afrika ontwikkel is, die sowat 6 000 km sal dek.
Die elektriese motorfiets, vergesel van twee ondersteuningsvoertuie, sal op 29 September uitNairobi vertrek en sal na verwagting Maandag 18 Oktober op Stellenbosch aankom – betyds vir die Universiteit se Elektriese Mobiliteitsdagviering.
"Roam het twee van sy elektriese motorfietse aan ons groep geskenk vir navorsing en toetsing," verduidelik prof Thinus Booysen, stigter van die Electric Mobility Lab. "Ons kan nie aan 'n beter manier dink om ons navorsingmedewerking mee af te skop as om die motorfiets op land in Afrika te toets nie. Om dit binne die Afrika-gemeenskap van vindingrykheid te doen, is 'n reusevoorreg."
Navorsers by die nuutgestigte Elektriese Mobiliteitslaboratorium in die Departement Bedryfsingenieurswese staan aan die spits van navorsing oor elektriese mobiliteit op die vasteland. Hulle fokus op die streek se unieke mobiliteitsmetodes en die nodige infrastruktuur en operasionele aanpassings.
Die US en Roam beoog om saam navorsing oor elektriese voertuie en die ondersteunende ekostelsel te ontwikkel en toe te pas, insluitende, maar nie beperk nie, tot die elektriese motorfietse, elektriese voertuigaandrywings, plaaslike vervaardiging en digitale loodse vir die beplanning vir elektriese stedelike mobiliteit.
"Hierdie reis toon Kenia se vermoë om elektriese voertuie van wêreldgehalte vir Afrika-toestande te ontwerp en plaaslik te vervaardig. Dit is 'n bewys van plaaslike innovasie, en neem die voortou in volhoubare mobiliteitsoplossings," sê Masa Kituyi, EM-produkeienaar by Roam.
PhD-kandidaat en medenavorser in die projek Stephan Lacock en Kituyi sal die motorfiets op die tog ry.
"Die klem val nie op die vraag of so 'n reis gedoen kan word nie, aangesien daar reeds ander soortgelyke reise in die wêreld onderneem is, maar eerder om Afrika-vindingrykheid en samewerking tussen die US en Roam ten toon te stel ten einde Afrika-toestande met groen sonenergie te oorkom," sê Lacock.
Die US-navorsingspan is onder meer baie geïnteresseerd in die werkverrigting van die dryfstelsel en omruilbare batterye, asook die doeltreffendheid van die sonkragherlaaiingsoplossing.
Elektriese Mobiliteitslaboratorium
Die US se Elektriese Mobiliteitslaboratorium word op 18 Oktober by die Asara-wynlandgoed bekendgestel. 'n Hoogtepunt van die geleentheid sal die oorhandiging van 'n herboude 65-sitplek bus aan die Golden Arrow-busdiens wees. Die motorfiets wat die reis vanaf Kenia onderneem, sal ook amptelik aan die Elektriese Mobiliteitslaboratorium oorhandig word.
Regeringsamptenare, finansiers, verteenwoordigers van die bedryf en navorsers sal na verwagting die geleentheid bywoon. Demonstrasies van verskeie elektriese voertuie en laai-infrastruktuur sal deel uitmaak van die aktiwiteite by die geleentheid.
- Besoek ev.sun.ac.za/ecross.html vir meer inligting.
- Foto: Stephan Lacock, PhD-kandidaat en medenavorser in die projek; prof Thinus Booysen, studieleier en stigter van die Elektriese Mobibiliteitslaboratorium; Hanno Erwee, bestuuder; Ryno Lacock, bestuurder; en Lewis Seymour, videograaf (fotokrediet: Stefan Els)
BYKOMENDE INLIGTING
Die rit van Nairobi na Stellenbosch word moontlik gemaak deur die ondersteuning van Scatec, Balancell, Voetspore, Tracks for Africa, Bush Lapa, SANEDI deur die LEAP-RE-projek en Charlie's Travel.
Die span vertrek op 29 September vanaf Nairobi in Kenia en ry deur Tanzanië, Malawi, Zambië en Botswana – om nie later nie as 18 Oktober op Stellenbosch aan te kom.
Die motorfietse word twee ondersteuningsvoertuie vergesel wat sonpanele vervoer om die motorfietsbatterye te laai. T.
Die reis sal op video vasgelê word met die oog op die vervaardiging van 'n dokumentêr.