Terwyl die wêreld die verpletterende werklikheid in die gesig staar dat feitlik 2,4 biljoen mense – amper 30% van die wêreldbevolking – nie genoeg toegang tot voedsel het nie,1 is die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Maatskaplike Geregtigheid (SMG) en talle ander globale en nasionale vennote, met inbegrip van die regering en die Verenigde Nasies, besig om wêreldleiers, beleidvormers, staatsleiers, die regbank, vooraanstaande vakkundiges en die burgerlike samelewing byeen te bring om een van die dwingendste krisisse van ons tyd – honger – aan te pak.
Die 5de Internasionale Konferensie oor Maatskaplike Geregtigheid, wat fokus op maatskaplike geregtigheid en zero honger, sal op 17 Oktober 2024 by die Kunstekaapteatersentrum, Kaapstad, Suid-Afrika, plaasvind. Die uitkomste van die konferensie sal invoer in die 6de jaarlikse Spitsberaad oor Maatskaplike Geregtigheid, wat op 18 Oktober 2024 sal plaasvind.
“Honger is nie slegs ʼn gebrek aan voedsel nie; dit is ʼn simptoom van breër maatskaplike en ekonomiese ongeregtighede," sê prof Thuli Madonsela, Direkteur van die SMG. “As daar deur die lens van maatskaplike geregtigheid na honger te gekyk word, werk ons aan ʼn meer regverdige en billike wêreld deur die grondoorsake van honger aan te pak. Hierdie oorsake lê hoofsaaklik in ʼn sameloop van sosio-ekonomiese ongelykhede en ontwrigtings in die plaaslike en globale voedsel- en voedingstelsels."
Die rol van maatskaplike geregtigheid in die aanpak van honger
Die konferensie en spitsberaad sal verken hoe honger met sistemiese ongelykhede, waaronder armoede, gebrek aan toegang tot opvoeding en onvoldoende gesondheidsorg, verwikkeld is. Die verband tussen honger en ander globale uitdagings, soos omgewingsgeregtigheid en vrede, sal ook uitgelig word. Die besprekings sal die volhoubare ontwikkelingsdoelwit (VOD) oor zero honger (VOD 2) afpaar met die mens se reg op voedsel en sal fokus op geteikende oplossings wat gelykheid en maatskaplike geregtigheid bevorder.
Die hoofonderwerpe sluit die volgende in:
- Honger as ʼn menseregte- en geregtigheidsvraagstuk: Honger skend grondliggende menseregte, waaronder die reg op gesondheid, ʼn voldoende lewenstandaard en menswaardigheid. ʼn Maatskaplike geregtigheidsraamwerk beklemtoon die nodigheid daarvan om hierdie regte vir alle individue te handhaaf.
- Die aanpak van sistemiese hindernisse: Die konferensie en die spitsberaad sal albei die sistemiese hindernisse wat toegang tot voedsel beperk, soos ekonomiese ongelykheid en gebrek aan geleenthede, bespreek. Hierdie holistiese benadering vereis staatsgedrewe ingrypings om hierdie hindernisse uit die weg te ruim.
- Impak van klimaatsverandering en konflik: Die besprekings sal ook die dwingende bedreigings uitlig wat klimaatsverandering en konflik vir voedselsekerheid inhou, en daardeur die behoefte aan internasionale samewerking en regsraamwerke om zero honger te bereik, beklemtoon.
Hierdie oplossingsgerigte besprekings sal gelei word deur ʼn uitgelese groep nasionale en internasionale akademici en leiers, waaronder:
- Me Maria Fernanda Espinosa (voormalige president van die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies)
- Minister Ronald Lamola (Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking)
- Oudregter Edwin Cameron (afgetrede regter van die Grondwethof, Suid-Afrika)
- Minister Khumbudzo Phophi Ntshavheni (Minister in die Presidensie)
- Prof Scott Drimie (Direkteur van die Suider-Afrikaanse Voedsellaboratorium, Fakulteit AgriWetenskappe, Universiteit Stellenbosch)
- Prof Julian May (Universiteit van die Wes-Kaap)
- Mnr Nelson Muffuh (inwonende koördineerder van die Verenigde Nasies, Suid-Afrika)
- Me Neo Sediti (Direkteur: Nasionale Skoolvoedingsprogram, Departement van Basiese Onderwys)
- Prof Thuli Madonsela (Direkteur van die Sentrum vir Maatskaplike Geregtigheid, Universiteit Stellenbosch)
ʼn Koalisie van vennote wat daartoe verbind is om oplossings te vind
In erkenning van die dringendheid van die kwessie, het ʼn koalisie van nasionale en internasionale vennote hande gevat om die konferensie en spitsberaad te ondersteun in ʼn kollektiewe verbintenis tot die vind van volhoubare oplossings vir die globale hongerkrisis. Hierdie vennote sluit, onder andere, die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering, die Verenigde Nasies se Suid-Afrikaanse kantoor, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, die Suider-Afrikaanse Voedsellaboratorium en die Daily Maverick in.
Direkteur-Generaal van Internasionale Betrekkinge, Zane Dangor: “Die 2024 Internasionale Konferensie oor Sosiale Geregtigheid en Sosiale Geregtigheidberaad vind plaas op 'n kritieke tydstip, met slegs ses jaar oor tot 2030. Vandag sien ons vlakke van honger in dele van die wêreld wat nie gesien is sedert 2005 nie. Die reeds wankelende vordering word verder vererger deur die huidige voedsel-, energie- en finansiële krisisse, asook voortdurende klimaatsverwante rampe, konflikte en buitelandse besetting. Al hierdie uitdagings vereis dat ons multilateralisme en 'n globale vennootskap vir ontwikkeling versterk"
Volgens mnr. Nelson Muffuh, die hoof van die VN in Suid-Afrika en inwonende koördineerder, “Om SDG 2 oor Nul Honger te bereik, is nie net 'n doelwit om na te streef nie, maar 'n fundamentele mensereg. Alle sektore en belanghebbendes moet gesamentlik verseker dat niemand agtergelaat word in ons strewe na voedselsekerheid en sosiale geregtigheid deur 'n getransformeerde voedselsisteem nie," het hy gesê en bygevoeg, “Hierdie konferensie bied vir ons die geleentheid om saam te kom en 'n wêreld en toekoms te bou waar almal toegang het tot voldoende voeding, welstand en waardigheid."
Besonderhede van die geleentheid
Die geleentheid sal in ʼn hibridiese formaat aangebied word, wat aan deelnemers die buigsaamheid bied om dit in persoon by die Kunstekaapteatersentrum in Kaapstad, of aanlyn by te woon. Kaartjies vir die 2024 Internasionale Konferensie oor Maatskaplike Geregtigheid en Zero Honger en die 6de jaarlikse Spitsberaad oor Maatskaplike Geregtigheid is nou beskikbaar. Sluit in Kaapstad by ons aan om deel te wees van hierdie kritieke globale gesprek en by te dra tot die oplossings wat nodig is om ʼn regverdige en hongervrye wêreld te bewerkstellig.
Inligting oor kaartjies
Kontakbywoning:
- Internasionale Konferensie oor Maatskaplike Geregtigheid en Zero Honger: R500 per persoon
- Spitsberaad oor Maatskaplike Geregtigheid: R500 per persoon
- Gekombineerde kaartjie vir albei geleenthede: R850 per persoon
- Groepafslag en borgskappe is beskikbaar
Aanlyn kaartjies vir die hoofrede- voltallige sessies:
Kaartjies is by Quicket beskikbaar: https://bit.ly/4dZa3yQ
Meer oor die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Maatskaplike Geregtigheid
Die SMG is ʼn platform wat navorsing, innoverende ontwerp van beleidshulpmiddele, opleiding en belanghebberbestuur onderneem om die akademieskap en bewustheid van maatskaplike geregtigheid, en ontwerpvaardighede in openbare beleid en samewerking, in die akademie en die samelewing te bevorder, ten einde maatskaplike geregtigheid te versnel.
Mediakontak(te)
Lindokuhle Xaba
Intern by SMG
0637251073
lxaba@sun.ac.za
Thembalethu Seyisi
Projekbestuurder: 5de Internasionale Konferensie oor Maatskaplike Geregtigheid
0727853218
tseyisi@sun.ac.za