Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Simposium pleit vir ‘n skuif van liefdadigheid na grondwetlike reg om hongerte aan te pak
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 12/09/2024

Terwyl miljoene Suid-Afrikaners honger ly, word tonne kos jaarliks vermors. Die land moet wegkom van die idee van “liefdadigheid" en eerder na die grondwetlik vasgelegde reg op voedsel beweeg wanneer daar na oplossings vir hongerte gekyk word. Dít was een van die belangrikste punte wat na vore gekom het by 'n simposium vir deskundiges wat onlangs deur die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (CSJ) by die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied is.

Die jaarlikse simposium se tema vanjaar was 'Sosiale Geregtigheid, Hongersnood en die Grondwet' (Social Justice, Hunger and the Constitution) en het insette deur akademici, beleidsmakers, regeringsamptenare, hulplenigingsorganisasies en korporatiewe verteenwoordigers ingesluit wat die saamgekom het om te besin oor hoe die voedselnood in Suid-Afrika aangespreek kan word.

Die simposium het die grondwetlike en universele reg op voedsel met die Verenigde Nasies se Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling (DVO'e) gepaar en het spesifiek op DVO2 gefokus wat daarna streef om hongerte te beëindig, voedselsekerheid en verbeterde voeding te bewerkstellig en volhoubare landbou te bevorder.

Die geleentheid is deur prof Thuli Madonsela, direkteur van die CSJ, gefasiliteer en deelnemers het beklemtoon dat hongerte in Suid-Afrika nie die gevolg van skaarste is nie, maar eerder van sistemiese mislukkings en ongelykhede.

Belangrike temas wat by die geleentheid uitgelig is, het ingesluit die belangrikheid om die wetlike raamwerk vir voedselsekerheid onder die lope te neem, asook beleidsimplementeringsgapings en die dringende behoefte daaraan dat die regering aanspreeklikheid moet aanvaar.

Madonsela het die reg op voedsel aan die ubuntu-geankerde maatskaplike geregtigheid gekoppel wat die konstitusionele hof herhaaldelik gesê het die samelewingsbloudruk in die Grondwet ondersteun. Onder ubuntu, wat 'n sterk menslike solidariteit-etos het, mag niemand honger ly nie, het Madonsela aangevoer.

Sy het gepraat oor hoe voedselonsekerheid in hoër onderwys manifesteer en het persoonlike verhale van studente gedeel wat dikwels gedwing word om tussen basiese benodigdhede soos vervoer, data en kos te kies.

Voedsel as 'n grondwetlike reg

Andries Nel, die adjunkminister van justisie, het in sy geleentheidstoespraak erken dat hongerte nie bloot 'n maatskaplike kwessie is nie, maar 'n diepgaande skending van menswaardigheid en 'n grondwetlike reg is wat gehandhaaf moet word.

Nel het na Artikel 27 van die Suid-Afrikaanse Grondwet verwys, wat elkeen die reg op voldoende voedsel en water waarborg, en het sy kommer oor die volgehoue gaping tussen die wet en die geleefde werklikheid uitgespreek. Hy het daarop gewys dat ongeveer 20 miljoen Suid-Afrikaners voedselonseker is en ondanks wetlike beskerming staar miljoene kinders wanvoeding en die belemmering van groei in die gesig.

"Wat die reg op kos betref, is daar 'n dissonansie tussen ons grondwetlike verpligtinge en die geleefde werklikheid van mense in hulle daaglikse lewe," het Nel gesê. In 'n land wat so hulpbronryk soos Suid-Afrika is, is dit onaanvaarbaar dat mense honger ly, het hy beklemtoon en na die "implementeringsgaping" in Suid-Afrika se voedselsekerheidsbeleid verwys, waar wette wat ontwerp is om toegang tot voedsel te verseker, nie doeltreffend in die praktyk realiseer word nie.

"Die regbank het 'n kritieke rol om te speel om te verseker dat die reg op voedsel verwesenlik word. Litigasie is egter nie 'n wondermiddel nie. Ons moet ondersoek instel na hoe regsaktivisme, ondersteun deur robuuste beleidsvoorspraak en openbare deelname, sistemiese verandering kan dryf," het Nel gesê.

Die situasie is veral haglik vir kinders. Dr Eileen Carter, provinsiale bestuurder van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie in die Oos-Kaap, het kommerwekkende statistiek van die provinsie gedeel, waar meer as 1 000 kinders tussen April 2021 en Maart 2022 honger gely het, met 116 sterftes weens ernstige wanvoeding. Hierdie kwessie, wat as 'voortslepende geweld' beskryf word, raak kinders jonger as vyf jaar buite verhouding, wat tot langtermyn-gesondheidskwessies soos groeibelemmering en uittering bydra. Die simposium het gehoor hoe hongerte 'n kritieke kwessie vir Suid-Afrika se kwesbaarste mense is wat dringende en volgehoue aandag vereis.

Voedselvermorsing en toegang

'n Belangrike onderwerp wat by die simposium by die simposium bespreek is, is die paradoks van honger te midde van oorvloed. Prof Linus Opara, 'n landbou-ingenieur aan die US, het beklemtoon dat hongerte nie weens voedseltekorte voorkom nie, maar weens ekonomiese en sosiale hindernisse wat toegang tot voedsel bemoeilik. Opara het verduidelik hoe massiewe hoeveelhede kos jaarliks vermors word, terwyl miljoene mense honger ly. Hy het 'n oproep gedoen vir sistemiese hervorming van die manier waarop voedsel geproduseer, versprei en bestuur word. Die probleem, het hy aangevoer, is nie skaarsheid nie, maar ongelykheid.

"Ons verloor 'n derde van alles wat ons produseer," het Opara gesê. "Dit gaan nie net oor die hoeveelheid kos nie, maar oor die gehalte en wie toegang daartoe het."

Zinzi Mgolodela, direkteur van korporatiewe sake by Woolworths, het die korporatiewe verantwoordelikheid beklemtoon om voedselonsekerheid aan te spreek. Sy het vertel hoe Woolworths begin het om kosprodukte wat pas hul vervaldatum bereik het, na voedingsprogramme, skole en gemeenskapsgroepe te herversprei. Mgolodela het opgemerk dat baie werkers in die voedselsektor self nie voedselsekerheid het nie, en het die dringende behoefte beklemtoon dat ondernemings uit 'n hoek van maatskaplike geregtigheid na hulle bedrywighede moet kyk. "Maatskaplike geregtigheid is goed vir besigheid," het sy gesê en het beklemtoon dat hierdie ingesteldheidsverskuiwing noodsaaklik is vir maatskappye om werklik tot hongerverligting by te dra.

Kenners was dit eens dat daar wel wetlike raamwerke bestaan om hongerte aan te spreek, maar die uitdaging lê in implementering.

Prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in die opvoedkunde aan die US, het in sy hoofrede op die verband tussen die reg op voedsel en die reg op onderwys gefokus. Hy het die staat se versuim om kos aan kinders te verskaf as "veragtelik" beskryf en die onwilligheid om kindervoeding, veral in skole, te prioritiseer, gekritiseer.

Jansen het na 'n studie deur die Universiteit van die Vrystaat verwys wat getoon het dat meer as 30% van universiteitstudente voedselonseker is. "Ons is geneig om aan hongerte in terme van wanvoeding met betrekking tot jonger kinders te dink en nie in terme van universiteitskampusse waar jy 'n baie ernstige probleem van hongerte vind nie," het hy gesê.

Die simposium het ook ondersoek ingestel na hoe wetgewing versterk kan word om voedselskenkings aan te moedig en voedselvermorsing te verminder. Dr Charlene Kreuser, 'n prokureur by die Legal Resources Centre, het betoog dat belastingwette voedselmaatskappye moet aanspoor om surplus-kos te skenk eerder as om dit weg te gooi. Sy het voorgestel dat korporasies belastingaftrekkings op voedselskenkings moet kan eis, soos in lande soos Colombia gedoen word, om groter korporatiewe deelname aan die aanspreek van hongerte te bevorder.

Meer as liefdadigheid

Een van die belangrikste uitkomste van die simposium was dat daar 'n verskuiwing in beskouing nodig is van hongerverligting as liefdadigheid na die erkenning daarvan as 'n grondwetlike verpligting. Madonsela het benadruk dat die reg op voedsel, wat in die Grondwet verskans is, gehandhaaf moet word as 'n saak van geregtigheid, nie welwillendheid nie. Hierdie sentiment is deur ander sprekers gedeel, wat beklemtoon het dat hongerte nie as 'n krisis gehanteer moet word wat deur ad hoc-skenkings opgelos kan word nie, maar as 'n strukturele kwessie wat langtermynoplossings vereis.

Die bespreking het dieper gedelf in die veelvlakkige oorsake van hongerte wat strek van ekonomiese ongelykheid tot die nalatenskap van die ruimtelike beplanning van apartheid. Opara en ander sprekers het beklemtoon hoe hierdie faktore oorvleuel, wat 'n stelsel skep waar toegang tot voedsame voedsel vir die armste en kwesbaarste bevolking beperk is.

"Voedsel is 'n fisiologiese behoefte wat aangespreek moet word voordat ons oor onderwys, ekonomiese vryheid of enige verhewe ideale kan praat," het Madonsela gesê.

Ondanks die ontstellende statistiek en sistemiese uitdagings, het die simposium op 'n hoopvolle noot afgesluit. Die kenners was dit eens dat Suid-Afrika beduidende vordering kan maak om hongerte aan te spreek deur robuuste beleide te implementeer, die regering se aanspreeklikheid te bevorder en vennootskappe tussen die openbare en private sektor te versterk.

Die CSJ het die regering versoek om 'n "strestoets" vir maatskaplike geregtigheid vir alle voorgestelde wette en beleide toe te pas om te verseker dat dit nie sosio-ekonomies benadeelde groepe buite verhouding beïnvloed nie. Dit sal help om die implementeringsgaping te oorbrug en ongelykheid te verminder, wat die reg op voedsel vir alle Suid-Afrikaners 'n werklikheid sal maak.

  • Die simposiumvoorleggings van deskundiges sal gebruik word om 'n beleidsdokument vir die regering op te stel. Die tema van honger sal ook onder die loep kom by die CSJ se 5de Internasionale Sosiale Geregtigheidskonferensie en 6de Jaarlikse Sosiale Geregtigheidsberaad wat vanjaar op 17 en 18 Oktober by die Kunstekaap-teatersentrum gehou word.