Die nalatenskap van die wêreldbekende ruimtewetenskaplike en Maties-alumnus, wyle dr Japie van Zyl, leef voort met Hydrosat se lansering van die VanZyl-1-satelliet aan boord van SpaceX se Transporter-11 wat na hom vernoem is.
Van Zyl was die medestigter van Hydrosat en 'n voormalige leier by NASA se straalaandrywingslaboratorium (JPL).
Volgens iGrow News sal die VanZyl-1-satelliet hoë-resolusie termiese beelde wêreldwyd lewer om te help met die monitering van waterstres in die landbou, die verbetering van voedselsekerheid en die verskaffing van kritieke data om landbou- en klimaatmodelle te verbeter. Verdere lanserings word ook beplan en VanZyl-2 is vir vroeg in 2025 geskeduleer.
"Dr. Van Zyl se merkwaardige en reuse bydrae tot ruimtenavorsing leef voort in die werk wat Hydrosat se VanZyl-1-satelliet doen. Dr Van Zyl, wat algemeen as een van die wêreld se voorste ruimtewetenskaplikes beskou word, se onuitwisbare nalatenskap sal ons altyd aan Afrika, en die Universiteit Stellenbosch (US), se bydrae tot tegnologiese vooruitgang op 'n internasionale skaal herinner," sê prof Wim de Villers, Rektor en Visekanselier van die US.
Prof Petrie Meyer, waarnemende Dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese by die US, sê die satelliet is 'n gepaste huldeblyk aan 'n "goeie vriend van die fakulteit" en "wêreldleier in die satellietbedryf".
Van Zyl het in 1979 'n HonsBIng in Elektriese Ingenieurswese cum laude aan die US verwerf, en 'n MS in Elektriese Ingenieurswese (1983) en 'n PhD in Elektriese Ingenieurswese (1986) aan die Kaliforniese Instituut van Tegnologie, Pasadena in die VSA behaal. Terwyl hy by die JPL was, het Van Zyl gehelp om die radarstelsel te ontwerp wat die robot Curiosity in staat gestel het om in 2012 op Mars te land. Hy was 'n buitengewone professor by die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese en het praatjies oor die verkenning van Mars vir US-studente aangebied.
Die US het Van Zyl in 2015 met 'n eredoktorsgraad vereer vir sy bydrae as "'n dryfkrag agter menige suksesvolle ruimteprojekte, ambassadeur vir Afrika en die Universiteit Stellenbosch in waarskynlik die mees gevorderde tegnologiese omgewing wêreldwyd, en 'n inspirasie vir jong wetenskaplikes op sy tuisvasteland".
Toe hy in 2020 oorlede is, het prof Christo Viljoen, 'n voormalige dekaan van ingenieurswese en viserektor van die US, die volgende gesê: "Japie is een van die grootstes van die US se graduandi, nie net in ingenieurswese nie, maar van alle alumni."
Meyer het die alumnus se onuitwisbare en blywende bydrae geloof. "Van Zyl het die afgelope dekades 'n beduidende rol gespeel om jong Stellenbosse ingenieurs te motiveer om die wêreldwye satellietbedryf te betree, en sy nalatenskap blyk duidelik uit die florerende satelliet-kleinsakebedrywighede in die Wes-Kaap."
Foto: Stefan Els