Die Fakulteit Opvoedkunde het in 2022 begin om onderwysers op te lei vir nie-amptelike tale, veral Frans, Duits en Mandaryns. Nie baie universiteite lei onderwysers in hierdie tale op nie. Die laaste opname wat Mbohwa-Pagels en Roode in 2014 gedoen het, het byvoorbeeld gemeld dat twee universiteite, Universiteit Stellenbosch en Universiteit van Pretoria, onderwysers van Duits as 'n vreemde taal oplei. By die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Opvoedkunde was dit moontlik om 'n module in Frans of in Duitse Vreemdetaalonderrig in die Nagraadse Onderwyssertifikaat te doen, maar Frans is uit die boeke geneem en Duits is nie aangebied nie weens die vereiste dat ten minste 15 studente registreer vir 'n module voordat dit aangebied word. Aangesien die aantal studente wat hierdie tale as hoofvakke neem, normaalweg klein is, het die moontlikheid baie skraal gelyk om ooit onderwysers vir hierdie tale op te lei. 'n Oplossing moes gevind word.
Aangewese nie-amptelike tale sluit tale soos Gujarati, Hebreeus en Spaans in. Die drie tale wat egter blykbaar die meeste teenwoordig is in Suid-Afrikaanse staatskole is Frans, Duits en Mandaryns. Eksamens in alle nie-amptelike tale word deur die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) bestuur eerder as die nasionale Departement van Basiese Onderwys en om daardie rede volg hierdie tale almal min of meer dieselfde riglyne. Boonop erken vreemdetaalonderrig as 'n eiesoortige veld algemene beginsels wat (met omsigtigheid!) op die onderrig en leer van enige vreemde taal toegepas kan word. 'Vreemde taal' sou in hierdie geval verwys na 'n taal wat nie buite die klaskamer teëgekom word nie, of 'n taal wat bykomend tot 'n huis en 'n tweede taal bestudeer word. Hierdie oorwegings het gelei tot die idee dat al drie hierdie nie-amptelike tale in een module vir vreemdetaalonderrig ingesluit kan word. Aangesien dit moeilik sou wees om 'n dosent met die vereiste vlakke van vaardigheid in Frans, Duits en Mandaryns te kry, was die idee dat algemene beginsels in die klas (in Engels) bespreek sou word en dat taalspesifieke ondersteuning dan deur onderwysers gebied sou word wat tans hierdie tale in plaaslike skole onderrig.
Hierdie module is enig in sy soort in Suid-Afrika. Studente wat enige van hierdie drie tale as hoofvak geneem het, volg lesings (as een groep) in Engels, gebaseer op die IEB-riglyne en die beginsels van vreemdetaalonderrig. In hul spesifieke taalgroepe gaan hulle dan na plaaslike skole vir leiding deur 'n onderwyser van die betrokke taal. Vir hierdie jaar was daar agt voornemende onderwysers vir Duits, vier vir Frans en twee vir Mandaryns. Die dosent (vanjaar Prof C van der Walt) hou kontak met die onderwysers deur die spesifieke aspekte wat in die klas bespreek moet word te kommunikeer en die onderwysers sal dan vir die studente taalspesifieke onderrigstrategieë en -uitdagings wys. Daarbenewens moet studente taalspesifieke opdragte voorberei wat hulle met die onderwysers bespreek en aanpas op grond van hul (die onderwysers) se advies.
Wat gaan in die toekoms gebeur? Die Departement van Basiese Onderwys beplan om Swahili in die Intermediêre Fase in te sluit, wat beteken dit sal stelselmatig tot en met graad 12 ingestel word. 'n Module soos hierdie het die potensiaal om enige vreemde of nie-amptelike taal in te sluit, solank daar onderwysers is van daardie tale wat die dosent kan ondersteun. Daar word gehoop dat dit die begin is van 'n lewendige tradisie om onderwysers vir hierdie tale op te lei sodat daar goeie aansoekers vir moderne vreemde tale op voorgraadse vlak is.