Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-navorsers met Vroue in Wetenskap-toekennings vereer
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 20/08/2024

Twee talentvolle vrouenavorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) het die vrugte van hulle harde werk gepluk toe hulle met die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI) se gesogte Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap-toekennings (SAWiSA) vereer is. Prof Lieketseng Ned, Hoof van die Afdeling Gestremdheid- en Rehabilitasiestudies, en Mienke Knipe, ʼn doktorale student in vervoerekonomie, het hulle toekennings op Donderdag 15 Augustus 2024 by ʼn spoggeleentheid in Mbombela, Mpumalanga, ontvang.

Ned het die Toekenning vir Uitgelese Jong Vroue-navorsers in die Menslike en Sosiale Wetenskappe en Knipe ʼn Esther Mahlangu-genootskap vir doktorale studies van die DWI ontvang.

Die jaarlikse Vroue in Wetenskap-toekennings vier vroue wat uitblink in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (oftewel STEM), profileer vroue-wetenskaplikes en -navorsers wat as rolmodelle vir jonger vroue dien en moedig diegene aan wat hulle loopbane as navorsers en wetenskaplikes begin en dan STEM-verwante beroepe volg. Geregistreerde meesters- en PhD-studente kan beurse vir hulle studies verower op gebiede wat wissel van inheemse kennisstelsels tot astronomie.

Lieketseng Ned

Ned is vereer vir haar werk oor gestremdheid-inklusiewe gesondheidstelsels, gemeenskapsgebaseerde rehabilitasie, kritieke gestremdheidstudies, dekoloniale gesondheid en onderwys en inheemse metodologieë. As ʼn arbeidsterapeut en gestremdheidsnavorsingswetenskaplike bevorder Ned gestremdheidstudies in die globale suide deur ʼn vars en kritiese lens te bied waardeur gestremdheid “gelees" word.

Sy het deurlopende verbintenisse met verteenwoordigers van die gestremdheidsektor in haar onderrig en navorsing in stand gehou. Dit sluit in samewerking met die gestremdheidsektor as mede-navorsers. Ned was in 2022 die mede-stigtersdirekteur van die Gestremdheidsnavorsingsentrum by die US. Sy is ook die inkomende voorsitter van die African Network of Evidence to Action on Disability – ʼn streeksnetwerk wat daarop fokus om bewyse in aksie te omskep en wat die African Journal of Disability tot stand gebring het. Sy het talle nasionale en internasionale toekennings ontvang en het wyd oor gestremdheid en gesondheid gepubliseer.

Oor haar jongste prestasie sê Ned: “Hierdie toekenning bevestig die bestaande grondslag van gestremdheidsbewyse wat ons saam met my span gegenereer het. Dit gaan ook daaroor om meer jong vroue aan te moedig om aktief as agente van verandering aan die wetenskappe deel te neem. Ek sou trouens graag wou sien dat meer mense gestremdheidsinsluiting prioritiseer.

“Die toekenning is ʼn ware weerspieëling van ons harde werk om voorspraak vir gestremdheidsinsluiting en die belangrikheid daarvan in die samelewing te doen. Deur hierdie werk daag ons negatiewe houdings en vooroordele rondom gestremdheid uit en bevorder ons gelyke deelname en geleenthede vir mense met gestremdhede."

Ned het bygevoeg dit sal help om hulle navorsing aan wyer gehore en belanghebbendes bloot te stel, terwyl potensiële befondsers gelok word om in gestremdheidstudies te belê, asook om hulle navorsing te gebruik om insluiting te bevorder in die verskeie ruimtes waarin hulle hulle in die samelewing bevind.

Mienke Knipe

Knipe het ʼn doktorale genootskap ontvang vir ʼn navorsingsprojek wat die ekonomiese rol van vervoer kwantifiseer. Sy sê om te weet in watter mate verkorte reistyd, laer reiskoste en beter toegang tot vervoer ekonomiese aktiwiteit op ʼn subnasionale vlak vergemaklik, verskaf motivering vir, seleksie van en prioritisering van staatsgefinansierde vervoerbeleggings. Die verkleining van die kennisgaping kan tot regverdiging vir groter staatsgefinansierde vervoerinvestering lei.

“Ek voel bemagtig om meer navorsing oor vervoerekonomie/-beplanning te doen, te versprei en te inspireer. Die vervoerbedryf word deur mans oorheers. Die minister van vervoer, Barbara Creecy, het trouens onlangs bekend gemaak dat slegs 22% van Suid-Afrikaners in die vervoerbedryf vroulik is.

“Die statistieke oor mense met ʼn gestremdheid in die vervoerbedryf (soos ek) is selfs swakker. Geleenthede wat erkenning aan vroue in vervoer deur inisiatiewe soos SAWiSA verleen, inspireer dus hopelik meer jong vroue met en sonder gestremdhede om hulle plek by ʼn manlik oorheerste tafel in te neem.

“Met prysgeld van nagenoeg R100 000 bied hierdie genootskap die geleentheid om vervoerverwante idees, -uitdagings en -oplossings op internasionale platforms via publikasies en konferensies te deel met die doel om met ander uit multidissiplinêre velde saam te werk."

Knipe se navorsingsuitset is gebruik om kommentaar te lewer op die konsepbeleid oor Suid-Afrika se Nasionale Openbare Vervoersubsidie. Hierdie beleid het ten doel dat pendelaars se reiskoste nie meer as 10% van hulle inkomste moet bedra nie. Suid-Afrikaners bestee byna dubbeld soveel. ʼn Hoofstuk van haar PhD-tesis wys hoe Suid-Afrikaners ʼn besparing in hulle reiskoste sal herverdeel as die beleidsdoelwit van 10% bereik word.

Knipe het ervaring in die passasiersvervoerbedryf in die openbare, private en akademiese sektore. Haar projekbetrokkenheid in die private en openbare sektore sluit omvattende geïntegreerde vervoerplanne, die Provinsiale Landvervoerraamwerk MyCiti en Dial-a-Ride in, in samewerking met entiteite soos die Stad Kaapstad, Stellenbosch se munisipaliteit, Intercape en die Wêreldbank. Met ʼn skerp fokus op inkomste-optimalisering het sy as inkomstebestuurder vir ʼn streeklugredery gewerk en ʼn passasierstevredenheidsprojek vir twee langafstand-busoperateurs in Suid-Afrika gelei.

Sy het haar werk ook by die African Transport Research Conference, die jaarlikse Southern African Transport Conference en die Union Internationale des Transports Publics aangebied.

  • Foto: Prof Lieketseng Ned en Mienke Knipe by die toekenningsplegtigheid.