Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mikrobes en hul interaksies die fokus van groot internasionale byeenkoms
Outeur: Faculty of Science (media & communication)
Gepubliseer: 07/08/2024

Een van die akademiese wêreld se grootste internasionale vergaderings wat onderwerpe in die mikrobiese ekologie sal bespreek, die 19de Internasionale Simposium oor Mikrobiese Ekologie (ISME), sal in Augustus in Kaapstad, Suid-Afrika plaasvind.

Meer as 1 500 wetenskaplikes van meer as 50 lande sal van 18 tot 23 Augustus 2024 by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum (KIKS) byeenkom. Dit sal die eerste keer wees dat hierdie gessaghebbende byeenkoms op die Afrika-kontinent plaasvind.

Prof. Thulani Makhalanyane, voorsitter van die ISME-reëlingskomitee en professor in mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê die bywoning van hierdie vergadering as 'n PhD-student was instrumenteel in die vorming van sy wetenskap: “Dit bied 'n uitstekende geleentheid om met wêreldleiers op die gebied van mikrobiese ekologie skouers te skuur. Deur hierdie vergadering in Kaapstad te hou sal dit hopelik soortgelyke geleenthede vir ander jong akademici bied en 'n platform verskaf om mikrobioomnavorsing in Afrika ten toon te stel".

Hy sê mikrobiese gemeenskappe – wat bakterieë, archaea, swamme en virusse insluit – dryf belangrike ekosisteemdienste wat bevorderlik is vir die omgewing en vir mens- en dieregesondheid: “Die veld van mikrobiese ekologie poog om die verwantskap tussen mikroörganismes en hul omgewing te verstaan. Alhoewel vooruitgang in genoom- volgordebepaling merkwaardige insigte oor die omvang van mikrobiese diversiteit gebring het, kort ons belangrike meganistiese insig," verduidelik hy.

Mikrobiese ekoloë wat op menslike gesondheid fokus, het byvoorbeeld die diepgaande belangrikheid van die mikrobioom in die verkryging van voedingstowwe en groei getoon. 

In sy hoedanigheid as direkteur van die Ambassadeursprogram van die Internasionale Vereniging vir Mikrobiese Ekologie, organiseer Makhalanyanis ook 'n openbare uitreikgeleentheid oor “Mikrobes en Klimaatsverandering" by die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin op Woensdag 21 Augustus. Tydens hierdie geleentheid sal die publiek die geleentheid kry om te gesels met internasionaal bekende navorsers oor klimaatsverandering en mikrobiese ekosisteme.

Makhalanyane sê hulle hoop om mense aan te moedig om bewaarders van die mikrobes in hul omgewings te word – van mikrobiese gemeenskappe in die grond en oseane tot jou eie dermmikrobioom. Kliek hier vir meer inligting en registrasie.

Verskeie vooraanstaande mikrobioomwetenskaplikes sal as sprekers by die simposium optree, waaronder: Prof. Rob Knight van die Universiteit van Kalifornië San Diego wat onlangs in die treffer-Netflix-dokumentêr “Hack Your Health: The Secrets of Your Gut" opgetree het; Prof. Jillian Banfield, van die Universiteit van Berkeley en bekend vir haar baanbrekerswerk en die ontdekking van CRISPR-Cas9; asook as Prof. Tulio de Oliveira van die US se Sentrum vir Epidemiese Respons en Innovasie (CERI).

  • Klik hier vir 'n oorsig van die program.