Prof Carine Smith van die Departement Geneeskunde in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US) het haar intreerede op Dinsdag, 30 Julie 2024 gelewer. Die titel van haar lesing was “Eksperimentele geneeskunde: My pad na die BOOST-teorie".
Smith het met die Korporatiewe Kommunikasie- en Bemarkingsafdeling gesels oor haar navorsingsgroep se werk oor hoe die liggaam se regulatoriese stelsels wanaangepas raak en die eksperimentele strategieë wat hulle ontwikkel om hierdie stelsels vir terapeutiese voordeel te manipuleer.
Vertel ons meer oor jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld belanggestel het.
Ek wou nooit ʼn mediese dokter word nie. In plaas daarvan het die kompleksiteit van die menslike liggaam en die verwikkeldhede van die stelsels wat homeostase reguleer, my nog altyd gefassineer (dalk is ek net ʼn beheervraat?!). My groep bestudeer hoe die liggaam se regulatoriese stelsels in chroniese inflammatoriese toestande wanaangepas raak. Ons werk ook aan eksperimentele strategieë om hierdie stelsels vir terapeutiese voordeel te manipuleer.
Ons benadering is om eers siektes by mense te profileer (in samewerking met klinici) en dit dan in selle, knaagdiere en selfs sebravisse te modelleer, sodat ons behandelingsmodaliteite in hierdie modelle kan ontwikkel en toets voordat ons na menslike kliniese proewe vorder. My onderwerp is argumentshalwe seker een van die uitdagendste in biologie – maar dit is ook hoekom dit my steeds boei.
Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?
Die stelsels wat ons bestudeer, reguleer homeostase (ʼn toestand van balans tussen al die stelsels wat nodig is vir die liggaam om te oorleef en korrek te funksioneer). Wanaanpassing in hierdie stelsels lei tot siektes en hoe beter ons hulle verstaan, hoe beter is ons kanse om medikasie te ontwikkel om siektes te behandel. As ons nie die normalisering van die regulatoriese stelsel kan teiken nie, kan ons nie siektes genees nie.
Julle fokus is op die liggaam se regulatoriese stelsels in die konteks van chroniese stres en inflammatoriese siektes. Hoekom is dit so ʼn belangrike navorsingsveld?
Suid-Afrika is een van die lande met die hoogste voorkoms van chroniese stres ter wêreld. Dit bring mee dat die liggaam al hoe meer ongevoelig raak vir streshormone (glukokortikoïede), wat ook ons endogene anti-inflammatoriese stelsel is. Ons eindig derhalwe met chroniese inflammasie, wat die basis van byna alle moderne siektes is.
Beskryf die hoogtepunte op jou pad na ʼn volle professorskap?
Ek het toesig oor omtrent 20 PhD-studente gehou en elkeen van hierdie reise was vir my ʼn hoogtepunt, want ek put groot plesier daaruit om die ontwikkeling van briljante jong intellekte te aanskou.
Ek was gelukkig genoeg om vir twee volle siklusse (agt jaar lank) finansiering te ontvang van die Nasionale Navorsingstigting Blue Skies-program, wat 'buite-die-boks'-idees finansier. Afgesien van die kreatiwiteit wat dit in ons navorsing toegelaat het, het die betrokke projek – wat tot ʼn internasionale patent en verskeie publikasies gelei het – die eksponensiële uitbreiding van die stel vaardighede in my groep moontlik gemaak. Dit het ons werklik as ʼn internasionaal mededingende groep geposisioneer.
Om die eerste eenheid vir die teel van en navorsing oor sebravisse by die US te begin was (en is steeds!) ʼn groot avontuur. Die deursigtige larwestadium van sebravisse stel ons letterlik in staat om interne fisiologie in lewende organismes in reële tyd waar te neem. Om met hierdie wonderlike model te werk, is steeds die hoogtepunt van elke werksdag! Die spoed waarteen hierdie eenheid nasionale én internasionale bekendheid verwerf het, asook die ondersteuning van die FGGW vir hierdie nuwe onderneming, was ook fenomenaal.
Jy het al baie jare in die uitdagende omgewing van hoër onderwys deurgebring. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Ek is ʼn uiters positiewe persoon, so dit kos veel om my te ontmoedig! ʼn Wyse mens het eens vir my gesê ek moet myself net toelaat om bekommerd te wees oor dinge wat ek kán verander en ek probeer dié raad volg. Ek dink ook die handhawing van ʼn balans tussen jou loopbaan en jou persoonlike lewe is van sleutelbelang – ek is ʼn ywerige handwerker en enige kreatiewe aktiwiteit herlaai my batterye.
Deesdae stap ek sommer by die akwarium in waar ʼn honderdtal sebravisse altyd honger is en bly is om my te sien en dit dien as onmiddellike motivering! Om ʼn goeie, komplekse navorsingsprobleem vir afleiding te hê – asook ʼn ongelooflike span – help natuurlik altyd.
Wat is jou boodskap aan jong meisies wat ʼn loopbaan in die gesondheidswetenskappe nastreef?
Moenie aan jouself as ʼn 'meisie in die wetenskap' dink nie. Jy is enige ander wetenskaplike se gelyke. Doen dit net. En maak seker jy het pret terwyl jy dit doen, dan sal al die res volg.
Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?
Dis moeilik om te kies, maar ek weet dis nie die administrasie nie!
Die opwinding van ʼn nuwe vonds in die laboratorium kan werklik verslawend wees, en ek geniet dit terdeë om ʼn nuwe manuskrip te skryf. Ek put ook groot bevrediging daaruit om te sien hoe diegene onder my bestuur goed vaar in hulle eie loopbane.
Vertel vir ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.
As daar enigiets opwindends was, sou almal geweet het. Ek is ʼn oop boek!
Hoe bring jy jou vrye tyd deur?
Ek hou daarvan om in die natuur te wees en van lang wandelinge op die strand. Ek bring ook heelwat tyd by kwekerye deur om plante te versamel om my kantoor in ʼn tuin te omskep! By die huis geniet ek verskillende vorme van handwerk en om kos vir vriende en familie te maak.
- Foto deur Alexio dos Santos