Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Insiggewende JICA-lesing werp lig op Japan se massamedia-evolusie
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 30/07/2024

ʼn Fassinerende perspektief op die medialandskap is by ʼn onlangse lesing by die Universiteit Stellenbosch (US) deur ʼn Japannese mediakenner geskets. Die derde JICA-leerstoellesing (Japan International Cooperation Agency) is deur die US se Japan-sentrum (USJS) aangebied en het ʼn insiggewende bydrae ingesluit deur dr Kaori Hayashi, ʼn uitgelese professor in media- en joernalistiekstudies en Uitvoerende President van die Universiteit van Tokio.

In haar openingsrede het prof Scarlett Cornelissen, ʼn dosent in politieke wetenskappe en Direkteur van die USJS, melding gemaak van die lang samewerking tussen die US en Japan. Sy het die belangrikheid van die JICA-leerstoelinisiatief benadruk.

“Deur die JICA-lesingsreeks nooi die Japan-sentrum, in samewerking met JICA, vooraanstaande navorsers en geleerdes uit Japan om oor die land se moderniseringspad, sy ekonomiese geskiedenis en die Japanse samelewing te praat," het Cornelissen gesê.

Hayashi het in haar toespraak, met die titel 'Japan se massamedia: die goue verlede en toekomstige uitdagings', ʼn gedetailleerde uiteensetting van Japan se massamedia-evolusie gebied. Sy het die oorsprong van Japan se media na die 17de eeu nagespeur en vroeë vorms van gedrukte nuus vertoon.

Kleurvolle oorsprong

“Japannese joernalistiek het sy ontstaan in poniekoerante gehad; klein koerante met kleurvolle prente in gewone taal," het Hayashi verduidelik. “Die oorspronklike koerante was nie politieke meningsblaaie soos in Europese lande nie. Hierdie klein koerante het ʼn sentrale rol in die vorming van die konsep van joernalistiek in Japan gespeel. Hulle teenwoordigheid het gehelp om te definieer wat joernalistiek gedurende die land se modernisering beteken het."

Hayashi het gewys op die rol van geletterdheid en onderwys in die vinnige toename in gedrukte media, wat in die laat 19de eeu tot die stigting van koerante soos die Yomiuri Shimbun gelei het. Sy het die vinnige ontwikkeling van koerante, radio en televisie in die 20ste eeu en die massamedia se deurslaggewende rol in die vorming van die openbare mening en nasionale identiteit in tye van oorlog en gedurende die land se ekonomiese “wonderwerk" in die 1960's en 1970's beskryf. Die massamedia het gehelp om Japan se beeld as ʼn tegnologies gevorderde en ekonomies magtige nasie te bevorder.

Gedurende die “goue era" van Japannese massamedia het koerante ongekende sirkulasiesyfers bereik en die Guinness Book of World Records het in 1994 erkenning aan die Yomiuri Shimbun vir sy daaglikse sirkulasie van 10 miljoen eksemplare gegee.

“Koerante het deel van Japan se moderne infrastruktuur geword, met ʼn verwagting dat elke gerespekteerde huishouding op ten minste een koerant sou inteken. Die inhoud van hierdie koerante het vir ʼn wye gehoor voorsiening gemaak. Dit was volksgerig en selfs ten volle nasionalisties, en het grootliks op amptelike bronne staatgemaak," het Hayashi gesê.

Tydens die hoogtepunt van Japan se koerantbedryf in 1997 het gekombineerde sirkulasiesyfers ʼn hoogtepunt van 53,8 miljoen bereik. Oor die afgelope 26 jaar het koerantsirkulasie skerp gedaal en in 2023 is minder as 20 miljoen eksemplare daagliks verkoop, het Hayashi opgemerk. Sy skryf hierdie afname aan verskeie faktore toe, insluitend die opkoms van die internet, veranderende huishoudelike strukture en jong mense se ekonomiese uitdagings, wat tot ʼn afname in koerantinskrywings gelei het.

Die internet se oorheersing as ʼn primêre bron van nuus en vermaak sal aanhou om tradisionele media uit te daag, het Hayashi gewaarsku. “Daarbenewens is Japanners nie bereid om vir nuus te betaal nie. Dit beteken dat die sakemodel vir aanlyn joernalistiek nog gevestig moet word."

Sy het die kulturele implikasies van hierdie veranderinge bespreek en opgemerk dat Japanners oor die algemeen onverskillig jeens politiek is en nuus passief verbruik. Daar is ʼn onwilligheid om by die openbare diskoers betrokke te raak of politieke menings uit te spreek, wat tot ʼn gebrek aan politieke diskoers bydra.

“Mense in Japan is nogal onverskillig oor hoe media-inhoud geskep word. Die publiek voel polities magteloos, wat ʼn verdere verlies aan belangstelling in politieke sake meebring. Dit is een van die redes waarom mense al hoe minder nuus lees."

Sy het daarop gewys dat hierdie houding ʼn bose kringloop tot gevolg het, wat beteken dat mense in Japan nie aktief aan politieke besprekings deelneem nie en dat hulle nie by nuus betrokke raak nie. Sy het studies aangehaal wat toon dat Japan die laagste posisie uit 46 lande behaal het wat betrokkenheid by nuus betref.

Hayashi se navorsing dui daarop dat Japanners dit weens die risiko van sosiale isolasie vermy om politieke menings in die openbaar uit te spreek. “Hulle vermy oor die algemeen dit om politieke menings in die openbaar uit te spreek en verkies om sulke kwessies net in hul naaste persoonlike kringe te bespreek. Hierdie kulturele neiging sorg dat harmonie gehandhaaf en potensiële isolasie vermy word."

Lae mediageletterdheidskoerse

Hayashi het voorts opgemerk dat mediageletterdheid in Japan baie laer is as in ander lande, met minder bewustheid van media-vooroordele, die optimalisering van inligting op digitale platforms, fopnuus en die belangrikheid daarvan om feite na te gaan.

“Hierdie uitdagings manifesteer uniek in Japan se politieke betrokkenheid en mediaverbruik vergeleke met ander liberale demokrasieë. Waar politieke polarisasie ʼn belangrike kwessie in talle Westerse lande is, is Japan se uitdaging en primêre bekommernis wydverspreide politieke onverskilligheid en openbare onttrekking aan die politieke proses.

“Die gebrek aan mediageletterdheid, tesame met die gewildheid van die gebruik van die internet vir vermaaklikheidsdoeleindes eerder as om inligting te versamel, skep ʼn beduidende uitdaging vir die toekoms van joernalistiek en ingeligte publieke burgerlike deelname in Japan.

“Terwyl ons hierdie uitdagings aanpak, is dit van kardinale belang dat die Japanse samelewing die waarde van verantwoordelike mediaverbruik en die belangrikheid van aktiewe deelname aan die politieke proses moet erken. Deur ʼn kultuur van kritiese denke te bevorder en oop en ingeligte dialoog aan te moedig, kan Japan ʼn meer betrokke en polities bewuste publiek ontwikkel, wat sal verseker dat sy demokratiese prosesse robuus bly en die stem van die burgers weerspieël word," het Hayashi afgesluit.

Na afloop van die JICA-leerstoellesing was prof Mehita Iqani van die Departement Joernalistiek aan die US vol lof vir Hayashi se omvattende oorsig en het sy die potensiaal vir samewerkende navorsing tussen Japan en Suid-Afrika benadruk. Sy het gewys op die waarde van vergelykende navorsing om verskillende volke se unieke uitdagings en geleenthede in die ontwikkelende globale medialandskap te verstaan. Iqani het opgemerk dat ofskoon die kognitiewe dryfvere van nuusverbruik tussen lande kan verskil, daar gedeelde emosionele dryfvere kan wees wat openbare betrokkenheid by die media beïnvloed en wat 'n vrugbare kweekgebied vir verdere navorsing bied.

Die geleentheid is afgesluit met ʼn boeiende V&A-sessie wat deur Cornelissen gemodereer is en waartydens gehoorlede, insluitend vakkundiges en studente, vrae aan die sprekers gestel het. Onderwerpe het gewissel van die kulturele aspekte wat mediastelsels beïnvloed tot die rol van politieke beheer in die vorming van openbare vertroue in die media.

FOTO: Prof Mehita Iqani, prof Scarlett Cornelissen en dr Kaori Hayashi by die JICA-leerstoellesing. (Foto geneem deur Ignus Dreyer)