Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sosiale Impak: Loopbaanvoorligtingsprojek verander jong lewens
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 30/07/2024

​Met die Universiteit Stellenbosch (US) wat gedurende Julie op bewustheid van sosiale impak fokus, vier hierdie reeks profiele merkwaardige individue en spanne wat 'n betekenisvolle bydrae buite die Universiteit se lesinglokale lewer. Die onlangse eerste Sosiale Impak-toekennings het erkenning gegee aan akademiese en professionele administratiewe steundienste- (PASD-)personeel aan die US wat positiewe verandering op uiteenlopende terreine van die lewe dryf. Prof Aletta Odendaal, dr Michelle Visser en prof Tony Naidoo het 'n toekenning namens die Loopbaanvoorligtingsprojek vir hoërskole ontvang, 'n inisiatief wat die Universiteit se verbintenis tot maatskaplike verantwoordelikheid en gemeenskapsbetrokkenheid versinnebeeld.

In 'n wêreld waar vakkeuses op hoërskool 'n jongmens se toekoms beduidend kan beïnvloed, het 'n dinamiese span akademici en studente aan die US 'n proaktiewe benadering gevolg om hoërskoolleerders deur een van die belangrikste besluite van hulle akademiese lewens te begelei. Die Loopbaanvoorligtingsprojek vir hoërskole bied deurslaggewende ondersteuning aan graad 9-leerders voordat hulle die Verdere Onderwys en Opleiding- (graad 10–12) fase van hul skoolopleiding betree.

Hierdie inisiatief het die afgelope paar jaar so 'n groot impak gehad dat die Wes-Kaapse onderwysdepartement gretig is dat dit na alle graad 9-leerders in die provinsie uitgebrei moet word om ingeligte skoolvakkeuse vir die laaste drie jaar van hoërskool te fasiliteer.

Dr Michelle Visser, 'n senior dosent in die Departement Bedryfsielkunde en een van die projekleiers, is al sedert die inisiatief byna 13 jaar gelede afgeskop het, 'n dryfkrag daaragter. Wat oorspronklik met twee skole begin het, het sedertdien na tien skole in gebiede soos Franschhoek, Kayamandi, Kylemore, Cloetesville, Jamestown en Delft uitgebrei, verduidelik Visser. Die projek het ses jaar gelede 'n groot hupstoot gekry toe die Rupert-stigting met finansiering aan boord gekom het. Dit het die beroepsvoorligtingspan in staat gestel om meer as 2 300 leerders per jaar te bereik.

Werkboeke open nuwe wêrelde

"Ek is al so lank as wat ek kan onthou by gemeenskapswerk betrokke, en hierdie projek is 'n groot deel van daardie reis," sê Visser. "Ons het 'n vak oor loopbaanvoorligting en een van ons dosente het vroeër na skole gegaan om werksessies vir die leerders aan te bied. Toe noem prof Tony Naidoo van die Departement Sielkunde dat hulle ook 'n skool-inisiatief het, en toe besluit ons om koppe bymekaar te sit en saam te werk aan die beroepsvoorligtingsprojek."

Die program, wat nou 'n gesamentlike inisiatief tussen die Departement Bedryfsielkunde (Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) en Sielkunde (Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe) is, se volgehoue gemeenskapsbetrokkenheid strek deesdae verder as werksessies vir graad 9-leerders en sluit nou ook pragtig geïllustreerde beroepsvoorligtingsboekies, 'n toegewyde webwerf met hulpbronne en praktiese wenke, asook waardevolle ondersteuning vir lewensoriënteringonderwysers in.

In elke beroepsvoorligtingsessie help twee of drie fasiliteerders die leerders om deur die boekie te werk en om die verskillende afdelings te voltooi. Die aktiwiteite in die werkboek moedig leerders aan om hulle karaktereienskappe, belangstellings, prestasies, gunstelingvakke, droomwerke, sterkpunte en hulle rolmodelle te identifiseer.

Visser beklemtoon die belangrikheid van selfassessering in hierdie proses. "Die boekie help hulle om persoonlike sterkpunte en omgewingsuitdagings te identifiseer en verskaf inligting oor verskeie loopbaangeleenthede. Ons verduidelik dat jy eendag 'n werk moet kry wat by jou belangstellings, persoonlikheid en aanleg pas. Maar jy kan net daardie werk wat nommerpas is vir jou, kry as jy meer van jouself en jou profiel weet. Ná die sessie kan hulle die werkboek hou sodat hulle later daaroor kan nadink of dit met hulle ouers kan bespreek."

Leerders word ook by hierdie sessies gewys hoe om vir beurse en lenings aansoek te doen as hulle van plan is om na 'n universiteit of kollege te gaan. Vir baie leerders open inligting oor vakleerlingskappe, vrywilligerswerk en internskapopsies 'n wêreld van nuwe moontlikhede. Hulle leer oor werkskadu, loopbaanuitstallings, opedae en aanlyn bronne. Die pas-voltooide graad-10 werkboek bou voort op die gevestigde graad-9-vlak boek en het byvoorbeeld stap-vir-stap wenke oor hoe om 'n curriculum vitae saam te stel, asook ander relevante inligting vir die graad.

Lukrake besluite oor vakkeuses

Die belangrikheid van beroepsvoorligting word dikwels misgekyk totdat leerders op die randjie staan om hulle skoolloopbaan te voltooi, verduidelik Francois van den Berg, 'n meestersgraadstudent in sielkunde. Hy is as projekkoördineerder instrumenteel in die vestiging van sterk vennootskappe tussen die US en die verskillende skole. "Ons het uitstekende verhoudings met die lewensoriënteringsonderwysers en skoolhoofde by ons vennootskole gebou," sê hy. "Hulle ondersteuning en terugvoer is van kardinale belang om te help om die projek te vorm."

Die wedersyds voordelige verhouding met skole is een van die redes vir die sukses van die projek, sê Van den Berg. "Van die Universiteit se kant af bied dit 'n geleentheid vir studente om hulle kennis toe te pas en praktiese ondervinding as fasiliteerders van die werksessies op te doen. Dit is ook 'n geleentheid om leermateriaal te toets en te ontwikkel. Van die skool se kant af is die onderwysers geweldig dankbaar vir die ekstra ondersteuning om leerders te help om die beste vakkeuses te maak."

Die sukses van die projek kan ook toegeskryf word aan die navorsingsgedrewe benadering. Oor die jare het studente op verskeie akademiese vlakke navorsing gedoen wat die intervensies en hulpbronne wat aan leerders verskaf word, gevorm het. Hierdie wisselwerking verseker dat die program toepaslik en doeltreffend bly.

Volgens Van den Berg is daar 'n ernstige gebrek aan loopbaanvoorligtingsdienste en hulpbronne in skole. Gevolglik neem leerders dikwels lukrake besluite oor vakkeuses. "Ons het gevind dat leerders 'n baie beperkte kennis van verskillende loopbane het. Hulle weet van beroepe soos dokters, prokureurs en polisiebeamptes. Deel van wat ons doen, is om hulle aan 'n baie groter verskeidenheid loopbaanopsies bloot te stel. Nog 'n uitdaging is dat leerders dikwels nie bewus is daarvan dat daar meer vakke is wat hulle kan neem nie. Hulle dink die vakke wat hulle skool aanbied, is die enigstes waaruit hulle kan kies."

'n Graad 12-leerder wat medies wou studeer, het onlangs na die beroepsvoorligtingspan uitgereik omdat hy ontdek het dat hy 'n vak wat hy nie neem nie, nodig het om aansoek te doen om medies te studeer. "Sy punte is uitstekend en hy het so hard gewerk, maar hy het nie geweet sekere vakke is verpligtend as jy vir 'n mediese graad by 'n universiteit wil registreer nie," vertel Van den Berg.

Die span is bedag op die unieke uitdagings wat jongmense in Suid-Afrika in die gesig staar. Met jeugwerkloosheid wat op 'n verbysterende 45% staan, is baie hoërskoolleerders afgesit en ontmoedig. "Ons kan nie die sistemiese uitdagings oplos nie, maar ons kan jongmense inspireer om meer kreatief oor hulle toekoms te dink," beklemtoon Van den Berg.

Kan nie op 'n leë maag leer nie

Visser onthou hoe hulle gesukkel het om leerders se aandag in van die eerste werksessies by skole te behou. "Ons het besef die kinders kan nie konsentreer nie omdat hulle honger is. So, vir elke werksessie bring ons nou voedsame peuselpakkies saam vir die kinders. Van die mammas by die skool help ons om die kospakkies te pak, en so raak almal betrokke. Dit is werklik 'n gesamentlike poging om hierdie leerders na 'n beter toekoms te lei.

"Net om een lewe te kan verander, maak dit die moeite werd. Ek onthou een seun wat 'n prentjie van 'n polisiebeampte geteken het en vir my gesê het: 'Ag tannie, ek wil só graag 'n polisieman word.' Ek het vir gom gesê: 'Weet jy wat, ons gaan alles doen om jou te help om die beste polisieman te word wat jy kan wees.' Ek sal nooit ophou met hierdie projek nie, dit gaan oor 'n saak wat groter is as ons en om 'n verskil te maak," merk Visser op.

Sy beklemtoon ook die transformerende ervaring wat die projek vir die nagraadse studente wat daarby betrokke is, bied. "Ons het nog altyd op sosiale impak gefokus – om dít wat ons in die lesingsaal vir die studente leer, op die gemeenskap toe te pas. Dit is ongelooflik bevredigend om te sien hoe ons studente 'n beter begrip ontwikkel wanneer hulle met leerders in skole omgaan. Hulle begin die werklikheid van uiteenlopende gemeenskappe verstaan en die uitdagings wat baie leerders in die gesig staar."

Die projekspan het groot planne vir die toekoms. Hulle hoop om die loopbaanvoorligtingsprogram na leerders in graad 10–12 uit te brei en om pasgemaakte intervensies vir elke graad te ontwikkel. “Ons het 'n vier- tot vyfjaarplan om materiaal vir die hoër grade te ontwikkel en bekend te stel," verduidelik Visser. “Ons uiteindelike doel is om 'n gestandaardiseerde raamwerk te skep wat landswyd in werking gestel kan word, maar ons het meer hulpbronne nodig om dit te kan doen. Met die volgehoue steun van ons vennote en die gemeenskap sal ons aanhou streef om meer leerders na sukses te lei."

Visser sê was 'n fantastiese verrassing om 'n Sosiale Impak-toekenning te ontvang. "Ons het dit nie verwag nie, want ons het maar net voortgegaan soos ons nog altyd gedoen het. Maar dit was 'n lekker pluimpie om formele erkenning te ontvang. Hoewel ek dink die toekenning sal ons motiveer, is dit nie die hoofdryfveer vir wat ons doen nie."

FOTO: Prof Nico Koopman (Viserektor : Sosiale Impak, Transformasie en Personeel), prof Aletta Odendaal (uitgaande voorsitter van die Departement Bedryfsielkunde), dr Michelle Visser (senior lektor, Departement Bedryfsielkunde), prof Tony Naidoo (emeritus professor, Sielkunde) Dr Leslie van Rooi (Senior Direkteur: Sosiale Impak & Transformasie) by die Sosiale Impak-toekennings. (Foto geneem deur Stefan Els)