Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hawelose mense se besittings bly eiendom, ongeag die ekonomiese waarde daarvan
Outeur: Tanveer Jeewa & Sfiso Nxumalo
Gepubliseer: 29/07/2024

​Die Stad Kaapstad se Verordening op Onregmatige Besetting, wat voorsiening maak vir die beslaglegging op hawelose mense se persoonlike besittings, moet hervorm word om te verseker dat alle eiendom, ongeag die vorm en die eienaar daarvan, gelyk beskerm word. Só skryf Tanveer Jeewa (Departement Publiekreg) en Sfiso Nxumalo (Universiteit van Oxford) in ʼn meningsartikel vir die Daily Maverick.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Tanveer Jeewa en Sfiso Nxumalo*

In die nag se koue omhelsing, wanneer die stadsliggies geen warmte bied nie, spreek die verknorsing van hawelose mense uit elke moeë blik en elke bibberende liggaam. Dit ontlok innige empatie en noop ons om hierdie blywende tragedie die hoof te bied.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het die provinsie ná die onlangse vloede en ontwrigtende winde tot rampgebied verklaar. Daar is net 3 500 beddens in skuilings en derhalwe moet sowat 14 000 hawelose mense die hewige storms trotseer. En sedert 3 Julie is meer as 47 000 huise beskadig, wat ongetwyfeld tot die reeds verergerende behuisingskrisis in die provinsie bydra. Weens ʼn tekort aan skuilingsbeddens en die toename in haweloosheid, het hawelose mense geen ander keuse as om persoonlike eiendom soos tente, houtpalette, plastiek en ander materiale te gebruik om hulleself teen die elemente te beskerm nie. Maar hulle pogings om hulleself te beskerm is in gevaar.

Ingevolge die Verordening op Onregmatige Besetting, wat in 2021 deur die Stad Kaapstad uitgevaardig is, kan die Stad op hawelose mense se private eiendom beslag lê. Trouens, daar is al etlike kere berig oor die konfiskering van hawelose mense se persoonlike besittings, insluitend identifikasiedokumente en MIV-medikasie. Dit gebeur ondanks Artikel 25(1) van Suid-Afrika se Grondwet, wat waarborg dat niemand sonder ʼn wettige rede van hulle eiendom ontneem mag word nie.

Die gebruik van die woord “niemand" in Artikel 25 dui daarop dat geen onderskeid tussen hawelose mense en ander met betrekking tot eiendomsreg moet bestaan nie – in elk geval nie op grond daarvan dat iemand se eiendom van minder ekonomiese waarde is nie. Is hierdie (wan)behandeling van haweloses se eiendom te wyte aan ʼn wanvertolking van die Grondwet, of is dit omdat hawelose mense se eiendom weens die karige aard daarvan as onwaardig vir grondwetlike beskerming geag word? Dit ontlok vrae oor die grondwetlike belofte van gelykheid voor die reg en gelyke beskerming deur die reg, soos verskans in Art. 9 van die Grondwet.

Suid-Afrika, met ʼn Gini-koëffisiënt van 63 uit 100, word allerweë as die ongelykste land ter wêreld erken en ervaar ernstige inkomste-ongelykheid. Dit is ontmoedigend, maar die bevordering van gelykheid en om individue gelyk en met waardigheid en respek te behandel kos niks nie en verg nie finansiële hulpbronne nie. Dus behoort gelykheid voor die reg selfs in die wêreld se mees ongelyke land minstens bereikbaar te wees, maar dit is nie die geval nie.

In ʼn onlangse referaat beweer ons dat eiendomsverhoudinge in kapitalistiese “post"-apartheid-Suid-Afrika binne ʼn hiërargie van eiendomsbelange funksioneer en bestaan, wat meebring dat sekere vorme van eiendomsbelange meer beskerming geniet en dat minder (en soms geen) beskerming aan ander vorme van eiendomsbelange verleen word nie. So geniet sekere vorme van eiendom – wat ons “formele eiendom" noem, soos huise – meer beskerming as “informele eiendom", soos hawelose mense se tente. Dit is ʼn belediging vir Artikel 25(1) van die Grondwet omdat dit alles “eiendom" is, soos in hierdie artikel voorsien word. Hawelose mense se eiendom is eiendom, ongeag die ekonomiese waarde daarvan.

Ons voer aan dat eiendom kragtens Artikel 25(1) nie bloot na sekere vorme van eiendom kan verwys nie, maar ook materiaal insluit wat aan hawelose mense skuiling bied. Die beslaglegging op hawelose mense se besittings deur wetstoepassingsagentskappe is dus ʼn arbitrêre ontneming van eiendom, soos waarna in Artikel 25(1) verwys word. Wetstoepassingsagentskappe, insluitend die Stad Kaapstad, is geneig om “formele" eiendom bo “informele" eiendom te prioritiseer, wat ongrondwetlik is.

Nog erger is dat hierdie verskil in behandeling en die beskerming wat aan informele eiendom verleen word, ook diskriminasie op grond van armoede behels. Ofskoon die formulering van die Verordening op Onregmatige Besetting neutraal is, benadeel die skut van “voornemende" besetters se besittings hawelose mense indirek deurdat dit die beskerming kragtens Artikel 25(1) van hulle eiendom weens hulle armoede weerhou word en hulle aan die risiko van moeilike toestande sonder skuiling blootstel. Indirekte diskriminasie vind plaas wanneer gedrag, praktyk of, in hierdie geval, die toepassing van wetgewing onskadelik en neutraal lyk, maar tot differensiële behandeling lei, waarvan die impak diskriminerend is. Maar dit is nie al nie.

Die Verordening is ook ʼn belediging vir die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, Wet 4 van 2000 (Pepuda), en skend die gelykheidsklousule kragtens Artikel 9(3) van die Grondwet. Soos reeds verduidelik is, is hawelose mense op die allerminste geregtig op eiendomsreg van die bietjie wat hulle het. Wat hulle besit, onderhou hulle en beskerm hulle teen die elemente. Daar is geen twyfel dat dít wat hulle het, eiendom behels nie. Hulle word egter behandel asof hulle nie eiendom het nie en die reg beskerm hulle nie. Daar lê die ding. Hawelose mense word as ʼn oorlas, as dwelmverslaafdes en as misdadigers pleks van as eienaars van eiendom beskou.

Artikel 25(1) is nie net van toepassing op ʼn spesifieke klas van houers van regte nie – die term “niemand" word in die bepaling gebruik. Voorts is die bepaling nie slegs van toepassing op ʼn kategorie van eiendomsbelange of ʼn bepaalde ekonomiese waarde van iets nie. Tóg het ʼn studie oor haweloosheid deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing bevind dat 68% van mense wat op straat woon, gesê het een van hulle grootste uitdagings is viktimisering en teistering deur die polisie. Die definisie van geweld sluit in “beslaglegging op persoonlike eiendom, onvanpaste arrestasies en om hulle gewelddadig te verwyder van die omgewings waar hulle dikwels toegang tot dienste verkry".

Konfiskering van persoonlike private eiendom kan tog sekerlik nie die eerste metode wees wat munisipaliteite en wetstoepassers probeer gebruik nie – ten minste nie in ʼn samelewing wat private eienaarskap so hoog op prys stel soos Suid-Afrika nie. Hawelose mense moet toegelaat word om hulle eiendom elders heen te skuif indien bevind word dat hulle grond onwettig beset het. Natuurlik moet daar ook baie meer skuilings beskikbaar wees en moet voldoende toegang tot behuising verskaf word om onwettige besetting te voorkom. Die Verordening op Onregmatige Besetting misluk die proporsionaliteitstoets klaaglik, omdat die beoogde doel van openbare regulering van grond nie meer gewig behoort te dra as ʼn reg wat ingevolge die Handves van Regte, naamlik Artikel 25(1) van die Grondwet, beskerm word nie. Die verskil in die behandeling van formele en informele eiendomseienaars toon duidelike differensiasie op grond van armoede.

Die Verordening verwys na die “voornemende besetter", wat dui op die mag van ʼn stadsamptenaar om te bepaal dat iemand die voorneme het om ʼn stuk grond te beset. Dit is uit die Verordening se taalgebruik duidelik dat die Stad Kaapstad wye diskresie het om te bepaal wie in staat is om oor die voorneme te beskik om grond onregmatig te beset. Sodanige assessering deur wetstoepassers sal waarskynlik oorweging vereis van wie by die stereotipe van ʼn onwettige besetter pas. Dit verg selfs meer stereotipering, vernedering en verkleinering van verarmde mense.

Hierdie Verordening kan nie toegelaat word om voort te bestaan nie. Haweloosheid is nie so vergesog as wat ons graag wil glo nie en “baie van ons is nader daaraan om op straat te woon as wat ons dink". Kaapstad se Verordening ontbloot die diepgaande ongelykhede in die beskerming van hawelose individue se eiendomsregte. Dit maak voorsiening vir beslaglegging op hulle persoonlike besittings, wat Artikel 25(1) van die Grondwet skend. Die Verordening perpetueer diskriminasie op grond van armoede deurdat informele eiendom, soos tente en persoonlike items van hawelose mense, minder beskermingswaardig as formele eiendom geag word. Dit ondermyn die grondwetlike waarborg van gelykheid voor die reg.

Om hierdie onreg die hoof te bied is dit van kardinale belang om die Verordening op Onregmatige Besetting te hervorm om te verseker dat alle eiendom, ongeag die vorm en die eienaar daarvan, gelyk beskerm word. Die handhawing van die waardigheid en regte van elke individu, veral die mees kwesbares, is noodsaaklik vir ʼn regverdige samelewing. ʼn Verbintenis tot hierdie beginsels kan sistemiese ongelykhede regstel en ʼn stap wees in die rigting van ʼn meer regverdige toekoms vir almal wat in Suid-Afrika woon.

*Tanveer Jeewa is ʼn junior dosent en LLD-kandidaat in die Departement Publiekreg aan die Universiteit Stellenbosch. Sfiso Nxumalo is ʼn stipendium-dosent en ʼn DPhil-kandidaat by die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit van Oxford. Hierdie artikel is gegrond op hulle referaat “(In)equality in Property Ownership: The Rhetoric of Homelessness", wat onlangs in Obiter verskyn het.​