Na ses jaar as dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW), het prof Ingrid Woolard ’n nuwe pos as uitvoerende dekaan van die Bestuurskool aan die Universiteit van Sussex aanvaar. Sy sluit later vanjaar by dié Universiteit aan.
Leier van ʼn fakulteit in diens van gemeenskap
As die eerste vrou wat die dekaansposisie by EBW beklee, het prof Woolard ongetwyfeld haar stempel op die Fakulteit afgedruk.
Gedurende haar dekaanskap het een van prof Woolard se belangrikste fokusareas – ʼn toename in navorsingsintensiteit en ’n bestendige toename in die getal akademiese personeel met doktorsgrade – vrugte afgewerp. Die Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange (CST) en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) het albei onder haar leierskap floreer met navorsing wat tot nasionale en internasionale beleidsveranderings bygedra het.
Met haar steun en die finansiële ondersteuning van die Allan & Gill Gray Philanthropies is die Sentrum vir Afrika Entrepreneurskap as deel van die Skool vir Publieke Leierskap tot stand gebring. Die Sentrum gebruik kennis vir die verbetering van data-en-dialooggedrewe entrepreneuriese ekostelselontwikkeling in Afrika ter bevordering van gemeenskapswelsyn deur entrepreneurskap. Sy het boonop met die herinterpretasie van die Afrika Sentrum vir MIV-/Vigsbestuur gehelp. As die Afrika Sentrum vir Inklusiewe Gesondheidsbestuur kan dit nou veel beter in die ontwikkelingsbehoeftes op die Afrika-vasteland voorsien.
“Dit was nog altyd vir my belangrik dat ons Fakulteit sy missie uitleef om etiese, betrokke, innoverende leiers te ontwikkel wat na ekonomiese en gemeenskapstransformasie streef deur hul verbintenis tot inklusiwiteit, betrokke leer, impakvolle navorsing en betekenisvolle gemeenskapsvennootskappe. Albei hierdie sentrums se fokus is die opheffing van die samelewing, hetsy ekonomiese opheffing of betrokkenheid by dringende gemeenskapskwessies soos toegang tot gesondheidsorg.”
’n Nuwe uitdaging
Die omvang van haar nuwe rol by die Bestuurskool van Sussex Universiteit stem baie ooreen met dié van EBW, sê prof Woolard. Boonop sluit dit ʼn befaamde wetenskaplike beleidsnavorsingseenheid in. “Die Skool lê besondere klem op beleidsbetrokkenheid en impakvolle navorsing, waarby ek baie sterk aanklank vind. And the University of Sussex is the global number 1 in the QS rankings for Development Studies.
“Wat my ook na die Universiteit getrek het, is dat dit ’n toonaangewende rol in die Britse anti-apartheidsbeweging gespeel het.”
Oudpresident Thabo Mbeki en struggle-ikone Essop en Aziz Pahad, Albie Sachs en Rob Davies het almal aan die Universiteit van Sussex gestudeer. Aan uitgeweke Suid-Afrikaanse studente en akademici het dit ʼn veilige hawe vir leer en studeer gebied.
"Ek dink dit is vennootskappe soos dié wat die krag van universiteite toon. Wanneer ons ons navorsing en opvoedkundige aktiwiteite gebruik om by die burgerlike samelewing en gemeenskappe betrokke te raak, kan dit ware verandering ten goede meebring,” het Woolard gesê.”
Afskeid met ’n knop in die keel
Prof Woolard erken dat dit die personeel is wat sy die meeste sal mis wanneer sy afskeid neem van die Fakulteit. “’n Instelling is net so sterk as die mense wat daar werk en in EBW het ons ’n ongelooflike span toegewyde en studentgesentreerde akademiese en professionele steundienspersoneel. Die gees van kollegialiteit en spanwerk maak dit ’n baie spesiale plek.”
Sy hoop dat die Fakulteit voortaan steeds sal gedy wat personeel- en studentesukses betref. “Ons het baie van personeel verwag gedurende die pandemie, maar hul deursettingsvermoë en verbintenis tot studente het my ongelooflik trots laat voel om deel te wees van die Fakulteit EBW. Met die onlangse stelselkomplikasies het ons personeel ondanks uitdagings weer gewys dat ons studente altyd voorop gestel word; hulle is van die grootste belang. Aangesien ek my kollegas ken, is ek positief dat dié verbintenis dwarsdeur hierdie tyd sal voortduur en ook nadat alles bedaar het.”
“Die Fakulteit EBW by die Universiteit Stellenbosch sal altyd ’n baie spesiale plek in my hart hê. Ek sal kontak behou en sien daarna uit om die Fakulteit te sien floreer.”