Om 'n nuwe taal aan te leer is baie soos om 'n verafgeleë land te besoek: Elke woord ontsluit 'n wêreld van nuwe moontlikhede, en elke sin bou brûe na 'n nuwe kultuur. Dít was ook die ervaring van 16 studente van Ivoorkus wat in Junie en Julie die vier weke lange Intensive English Programme (IEP) by die Universiteit Stellenbosch (US) se Taalsentrum voltooi het.
Die studente, almal van die Skool vir Bedryfsadministrasie by die Institut National Polytechnique Félix Houphouët-Boigny (INPHB) in Yamoussoukro, is die tweede kohort van Ivoorkus wat by die US kom Engels leer. “'n Groep van 22 INPHB-studente het ons verlede jaar vir die IEP besoek," sê Norma Derby, programbestuurder van Afrikavennootskappe in US Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika. “Die INPHB het ons daarna deur die Ivoorkus-ambassade in Pretoria gekontak om te vra dat ons vanjaar nóg 'n groep ontvang."
Die IEP bied Engels-taalkursusse aan internasionale studente op sowel voor- as nagraadse vlak. Die doel van die program is om studente se lees-, skryf-, luister- en praatvaardighede sowel as tersaaklike grammatika en woordeskat te ontwikkel. Uitstappies en werksessies deur die hele program bied studente boonop die geleentheid om hulle Engels buite die klaskamer te oefen terwyl hulle die besienswaardighede en kulture op en om Stellenbosch beleef.
Positiewe terugvoer
Die program slaag klaarblyklik in sy doel, te oordeel na terugvoer soos dié van Mohamed Fadel Junior Binate, 'n finalejaarstudent wat vir sy magister in Bedryfsadministrasie aan die INPHB studeer. “My Engels het beslis verbeter sedert ek op Stellenbosch aangekom het," sê hy. “In my land leer ons Engels op laer- en hoërskool, maar ons oefen nie die taal nie, want niemand daar praat Engels nie. Hierdie program bied ons die geleentheid om ons Engels te verbeter deur klasse, toetse, en uitstappies waar ons aangemoedig word om ons Engels-vaardighede in werklike omstandighede te oefen."
Hy besef maar alte goed wat goeie Engels-taalvaardighede vir hom kan beteken. “As 'n student in die bestuurswetenskappe, is dit belangrik om Engels-vaardig te wees, veral in die internasionale domein waar almal Engels praat en alle kontrakte en ooreenkomste in Engels is," verduidelik Mohamed. “Ek wil graag 'n konsultasiefirma begin, so om my Engels deur die IEP te verbeter sal my daardie droom 'n werklikheid help maak."
Mohamed sien ook daarna uit om sy opgeknapte Engels-vaardighede te gebruik om sy kultuurkennis uit te brei. “Om 'n nuwe taal aan te leer kan jou help bande bou met mense wat anders is as jy, en bied jou die geleentheid om van nuwe kulture en nuwe plekke te leer. Ek het dít eerstehands hier in Suid-Afrika ervaar, waar Engels my meer oor hierdie ongelooflike land help leer het deur met plaaslike mense te gesels."
Vertoonvenster vir vaardighede
By die afsluitingsgeleentheid vir die program op 12 Julie het elke student 'n aanbieding oor hulle tyd by die US gelewer om sodoende te toon hoeveel hulle Engels-taalvaardighede verbeter het. Onder die gaste by die geleentheid was die direkteur van INPHB se Fakulteit Bedryfstudie en -bestuur, dr Moustapha Traore, en mnr Diomandé Gondo Serge Siaba, minister en raadgewer, as verteenwoordiger van die Ivoorkus-ambassadeur.
Siaba was ingenome met die studente se vordering in hulle kort tyd by die US. “Ons is baie tevrede met wat ons tot dusver gesien het," het hy gesê. “Die resultate van die eerste groep studente wat die US besoek het, was uitmuntend, en ons het geen twyfel dat die projek nog vele ander kohorte sal oplewer nie."
Versterk boonop streeksbande
Buiten dat die US se IEP-kursus moontlikhede vir studente ontsluit, versterk dit ook Suid-Suid-betrekkinge. Dr Traore verduidelik dat sy instelling die strategiese besluit geneem het om INPHB-studente na die US te stuur om Engels te leer eerder as na 'n universiteit in die globale Noorde. “Ons visie is om Suid-Suid-samewerking te bevorder. Ons het besluit op Suid-Afrika, as 'n land van uitnemendheid, en die US was ons voorkeurinstelling."
Dit lyk of die vennootskap tussen die US en INPHB in die toekoms ook verder kan uitbrei. “Ons sou graag op méér as taalgebied wou saamwerk deur 'n groter vennootskap tussen ons fakulteit en die US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe tot stand te bring, onder andere deur studente-uitruilprogramme," sê dr Traore. “En ons wil ook navorsingsuitruilprogramme tussen die akademici van die twee instellings skep."
Koester 30 jaar oue vriendskap
Suid-Afrika en Ivoorkus gedenk vanjaar drie dekades van diplomatieke bande. Om die verhouding tussen die twee nasies te vier, word 'n Suid-Afrika–Ivoorkus-week van 7 tot 11 Oktober in Abidjan beplan. Volgens Siaba sal 'n Suid-Afrikaanse afvaardiging van staatsamptenare en bedryfsleiers onder leiding van adjunkpresident Paul Mashatile dit bywoon. Afgevaardigdes van albei lande sal wys wat hulle op die gebied van mynbou, landbou, toerisme, kultuur en onderwys bied.