Twee nuwe psigotropiese sampioenspesies in die Psilocybe-genus uit Suider-Afrika, is onlangs beskryf. Dit bring die getal bekende spesies inheems tot Afrika op ses te staan.
Die Psilocybe-spesies is van die mees bekende en goed bestudeerde psigotropiese sampioenspesies waarvan ongeveer 140 spesies reeds beskryf is.
In 'n artikel wat vandeesweek in die vaktydskrif Mycologia gepubliseer is, het navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) en burgerlike mikoloë die twee nuwe spesies as Psilocybe ingeli en Psilocybe maloti beskryf.
Psilocybe ingeli is in 2023 in 'n weiveld in KwaZulu-Natal ontdek deur mnr. Talan Moult, 'n selfgeleerde burgerlike wetenskaplike. Psilocybe maluti is in 2021 vir die eerste keer op 'n Vrystaatse kleinhoewe deur me. Daniella Mulder gevind wat foto's van die sampioene vir identifikasie gestuur het na een van Suid-Afrika se voorste burgerlike mikoloë, Andrew Killian.
In beide gevalle is hierdie ongewone sampioene hierná na mnr. Breyten van der Merwe en Prof. Karin Jacobs by die US se Departement Mikrobiologie gestuur vir DNS-opeenvolging en -analise. Van der Merwe, 'n voormalige mikrobiologie-student in die US se Fakulteit Natuurwetenskappe en tans nagraadse student in chemiese ingenieurswese, is 'n opgeleide mikoloog en eerste outeur van die artikel.
Die artikel bevat ook inligting oor die tradisionele gebruik van P. maluti deur tradisionele Basotho-genesers vanaf Lesotho. Volgens die navorsers blyk dit die eerste gedokumenteerde eerstehandse verslag van psigotropiese sampioengebruik deur tradisionele genesers in Afrika te wees.
Cullen Taylor Clark, 'n burgerlike mikoloog en mede-outeur, het met 'n Mosotho tradisionele geneser, Mamosebetsi Sethathi, gewerk om die gebruik van P. maluti (plaaslik bekend as koae-ea-lekhoaba) in tradisionele genesingspraktyke te dokumenteer. Dit vorm deel van 'n groter projek, wat deur Clark gelei word, om die gebruik van sampioene deur inheemse groepe in suider-Afrika te boekstaaf.
Van der Merwe sê daar is waarskynlik meer Suider-Afrikaanse spesies in hierdie genus, en dat meer burgerlike wetenskaplikes betrokke moet raak: “Dis burgerlike wetenskaplikes wat hierdie twee spesies vir my gestuur het. Dit is onmoontlik vir 'n enkele navorser om 'n fraksie van die gebied waartoe hierdie sampioen-entoesiaste toegang het, te dek. Dit is die enigste manier waarop ons in staat sal wees om Afrika-mikologie verder te bestudeer."
Jacobs stem hiermee saam: “Daar is slegs 'n handjievol mikoloë in Afrika wat plaaslike biodiversiteit dokumenteer. Gegewe die omvang van mikologiese diversiteit, bly dit 'n uitdaging. Samewerking met burgerlike mikoloë is daarom baie voordelig. Behalwe vir meer materiaal om mee te werk, open sodanige samewerking ook geleenthede vir gesprekke en verdere ondersoek, wat alles bydra tot die dokumentering van mikofilie ('n voorliefde vir sampioene) op die Afrika vasteland."
EINDE
FOTO'S
Psilocybe maluti is tot dusver gevind in die Vrystaat en KwaZulu-Natal waar dit op koeimis in weiding gegroei het, asook die hooglande van Lesotho. Foto's: Cullen Taylor Clark
'n Enkele versameling van Psilocybe ingeli is in KwaZulu-Natal gevind, waar dit op weiding gegroei het. Foto: Talan Moult
Breyten van der Merwe van die Universiteit Stellenbosch met sy versameling van sampioene in die Departement Mikrobiologie. Foto: Stefan Els