Suid-Afrika gaan vir die eerste keer die gasheerland wees vir die Internasionale Universiteite Sportfederasie (FISU) se 2026 Rugby Seweskampioenskap en die Universiteit Stellenbosch (US) gaan die voorreg hê om slegs die tweede Universiteit uit Afrika te word wat hierdie tweejaarlikse internasionale universiteite rugby skouspel aan te bied.
Die Universiteit van Namibië het die 2018-uitgawe aangebied. Trouens, dit was ook die jaar wat die Suid-Afrikaanse manspan die goue medalje verwerf het terwyl die vroue in die vierde plek geëindig het nadat hulle naelskraap teen België in die bronsmedalje-wedstryd verloor het.
“Dit is 'n geweldige voorreg en geleentheid vir Stellenbosch om die 2026 FISU Rugby Seweskampioenskap aan te bied. Die toernooi bied die geleentheid om ons uitnemende sportfasiliteite op Coetzenburg, ons pragtige kampus en ons rugbykultuur met studente van vyf kontinente ten toon te stel. Sewesrugby is 'n vinnige en opwindende rugbykode en ons studente, personeel en die plaaslike gemeenskap sal die toernooi geweldig geniet," sê prof Stan du Plessis, die US se Bedryfshoof.
"Ons het die laaste paar dae die gasvryheid van ons Franse gashere in Aix-en-Provence geniet, waar die Suid-Afrikaanse mans- en vrouegroepe uitgeblink het. Natuurlik verwag ons dat ons spanne albei trofeë in 2026 sal verower, maar die doel van die toernooi is nie net om te wen nie; hierdie kampioenskap is 'n geleentheid vir studente-atlete van regoor die wêreld om mekaar in 'n inspirerende omgewing te ontmoet waar ons mik om die grootste aantal spanne nog by 'n FISU Wêreldrugby-kampioenskapsbyeenkoms te lok," het Du Plessis gesê.
Vanjaar se toernooi is in Aix-Marseille-Provence, Frankryk, aangebied en het oor twee dae, van 10 tot 12 Junie, plaasgevind.
Ilhaam Groenewald, hoofdirekteur vir Maties Sport, het opgewondenheid uitgespreek oor die vennootskap met Universiteitsport Suid-Afrika (USSA) en die US om atlete, afrigters, personeel, familie, vriende en gemeenskappe van regoor die wêreld op ons kampus te verwelkom vir die Rugby Seweskampioenskap. "Die Universiteit Stellenbosch bly 'n top-sportbestemming wat daartoe verbind is om wêreldklasfasiliteite en kundigheid aan atlete te versaf om hul talente ten toon te stel en hul hoogste sport te bereik. Ons Universiteit is toegewyd om hierdie geleentheid te gebruik om in rugby te belê en sportuitnemendheid, kulturele diversiteit en internasionale kameraadskap te bevorder. Ons verwag 'n onvergeetlike ervaring vir alle deelnemers en toeskouers," het Groenewald gesê.
Lees meer hier
Vir verdere navrae
Kimara Singh
kimaras@sun.ac.za
0218082141