Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Zureena Desai praat eerste keer oor beproewing van apartheidsera
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 10/06/2024

​​​​Die Universiteit Stellenbosch (US) was vandeesweek geëerd om 'n ikoniese figuur te verwelkom toe dr Zureena Desai (79) vir die eerste keer in die openbaar gepraat het oor die ontstellende ervaring wat haar gedurende die hoogtepunt van apartheid beroemd gemaak het.

Desai het die grootste deel van haar lewe in Ierland woon. Geklee in 'n elegante swart pak en treffende rooi serp, was sy sigbaar aangedaan toe sy 'n staande toejuiging van die Stellenbosse gehoor ontvang het.

Prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in opvoedkunde aan die US, was die gasheer van die geleentheid wat ter ere van Desai by die US Museum gehou is. Jansen het 'n deurslaggewende rol gespeel in die fasilitering van die lang agterstallige erkenning van 'n vrou wat die middelpunt van 'n opskudding was wat die wreedheid en absurditeit van apartheidswetgewing blootgelê het.

Die idee vir die geleentheid is gebore toe die navorser Susanne Klausen, Brill-professor in vroue-, geslags- en seksualiteitstudie aan die Pennsylvania-staatsuniversiteit in die VSA, in 'n gesprek met Jansen formele erkenning vir Desai voorgestel het. Klausen, wat die afgelope ses jaar gereeld met Desai in aanraking was, het haar oortuig om na Suid-Afrika te kom en het gedurende die beplanningsproses met haar geskakel.

Ouer Suid-Afrikaners sal sekerlik die swart-en-wit foto's van Desai, 'n mediese dokter, en haar wit lewensmaat, Wits Universiteit-akademikus dr John Blacking, 55 jaar gelede op die voorblaaie van koerante onthou. Die Veiligheidspolisie het op 11 Januarie 1969 die egpaar by Blacking se huis in Parkhurst, Johannesburg, in hegtenis geneem. Hulle saak was die opspraakwekkendste wat ooit uit die apartheidsera se berugte Ontugwet gespruit het. Hierdie wet het interrasverhoudings gekriminaliseer, met die doel om die apartheidsregime se rassesuiwerheids-ideologie te handhaaf.

Desai en Blacking is in die Johannesburgse landdroshof vervolg vir die oortreding van artikel 16 van die Ontugwet, wat heteroseksuele begeerte tussen wit en swart Suid-Afrikaners gekriminaliseer het. Die egpaar se verhouding is weke lank onder die loep geneem en veroordeel in 'n verhoor wat wêreldwyd opslae gemaak het. Hulle is skuldig bevind aan “sameswering" om seks te hê en opgeskorte vonnisse opgelê voordat hulle Suid-Afrika verlaat het om hulle in Ierland te vestig.

Desai het vir meer as vyftig jaar uit die kollig gebly en nooit in die openbaar oor haar ervaring gepraat nie. 'n Toevallige ontmoeting by STIAS (Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Wetenskap) in 2023 tussen Jansen en Klausen het die grondslag gelê vir die geleentheid by die US om Desai te erken vir haar aandeel in 'n geskiedkundige kruispad.

Wat Desai se verhaal nog meer merkwaardig maak, is die feit dat sy die dogter is van Amina Desai, die langsdienende vroulike Indiese politieke gevangene gedurende apartheid. Amina is in 1971 in hegtenis geneem en daarvan beskuldig dat sy met Ahmed Timol saamgesweer het om die doelwitte van die destydse onwettige African National Congress te bevorder. Amina het in 1996 op 76-jarige ouderdom voor die Waarheids- en Versoeningskommissie getuig en in 2013 is sy postuum met Suid-Afrika se nasionale Orde van Luthuli bekroon.

Polisiemanne in 'n boom

Klausen het in haar boeiende inleiding die intense ondersoek en openbare vernedering wat Desai en Blacking verduur het, uiteengesit. Sy het na die paartjie se “waardige weerstand" verwys en hoe hulle die verhoor in kritiek op apartheid eerder as 'n persoonlike nederlaag omskep het. Haar beskrywing van die twee minnaars se byna komiese inhegtenisneming het die gehoor verstom. “Daardie Januarie-aand in 1969 het legendaries geword, soos die polisie later in detail in die hof sou getuig. Die beamptes het die nag ure lank buite John se huis deurgebring en vir die regte oomblik gewag om in die twee se lewens in te bars, aangesien majoor Johan Coetzee aangeneem het dat die paartjie daardie aand in 'n stadium seks sou hê. Hy het dus die polisie opdrag gegee om lank te wag omdat hy soveel moontlik bewyse oor die paartjie se liggame, hulle beddegoed en klere wou bekom. Die polisie het ure lank tussen vrugtebome weggekruip terwyl hulle by hul kamervenster ingeloer het. Desai en Blacking is deur die ventilasie-opening bokant die kamervenster afgeluister en polisiemanne het selfs in 'n boom oorkant die straat geklim om in die huis te kan sien."​​

Hannelie_banner.jpg​​

​​Desai het ná die verhoor uitdagend gesê: “My enigste oortreding is dat ek met 'n gelaatskleur twee skakerings donkerder as wit gebore is. My misdaad was nie onsedelikheid nie."

Klausen het egter beklemtoon dat die verhoor uiteindelik meer as net lagwekkende vermaak was. “Dit was ook 'n belangrike episode in die 35 jaar waarin die apartheidsregime Suid-Afrikaners gestraf het wie se begeertes die kleurgrens oorskry het, hoewel dit nie op die manier was wat die regering verwag het nie. Op die oog af was die saak 'n groot sukses vir die Nasionale Party – nóg 'n gemengde paartjie is skuldig bevind en Suid-Afrikaners is nóg 'n les geleer oor die gevare daarvan om dit te waag om oor die wit/swart raslyn intiem te wees.

“Maar die saak was 'n Pyrrhusoorwinning. Die wye verslaggewing oor die verhoor het Afrikanernasionalisme se puriteinse, dog brandende obsessie met seks in Suid-Afrika ten volle ten toon gestel. Teenstanders én ondersteuners van apartheid was diep gewalg deur die hele episode. Die metodes wat die polisie gebruik het, het woede en bespotting veroorsaak. Reaksies in die buiteland was hoofsaaklik dié van ongeloof en minagting. Oral is mense deur die egpaar se gedrag, hulle oënskynlike vreesloosheid regdeur die sage beïndruk."

Desai en Blacking het as gesertifiseerde misdadigers uit die ondervinding na vore getree, maar het moreel geseëvier, heeltemal ongebroke deur hul oortuigings, het Klausen bygevoeg. “Die kumulatiewe uitwerking was om die Ontugwet en apartheidsideologie tuis en internasionaal verder te ontken. Die egpaar was ten volle bewus daarvan dat die verhoor 'n mislukking vir die regering was, en hulle het groot genot geput uit die wete dat dit húlle was wat die Nasionale Party in die skande gesteek het, en nie andersom nie."

Voordat hy sy onderhoud met Desai begin het, het Jansen vertel watter diepgaande invloed Desai se uitdaging op hom as jong bruinman gedurende apartheid gehad het. Die saak het die verloop van Suid-Afrika se geskiedenis verander, het Jansen gesê. “Ek dink nie apartheid het geval as gevolg van een groot ding nie. Dit het gesneuwel weens al hierdie soort dinge wat die sekerhede van die belaglike stelsel weggekalwe het. Jy en John was ongelooflik dapper. Ek wil julle bedank dat julle op so 'n pragtige en waardige manier op julle beginsels gestaan het. Dankie vir julle bydrae tot hierdie land."

Saam in 'n sel

Jansen het Desai gevra of haar verset destyds in politieke aktivisme gewortel was. Sy het verduidelik dat hoewel haar familie polities liberaal was, haar standpunt nie openlik polities was nie. “My pa het altyd vir my gesê, jy is net so goed soos enigiemand anders in die wêreld. Ek was te goed om iemand anders vir my te laat sê ek is nie goed genoeg nie. In daardie sin was dit nie polities nie. Ek bedoel, hier was 'n man wat aangetrokke was tot my, en tot wie ek ook aangetrokke was. En dit was dit."

Ná die aanvanklike skok van hulle inhegtenisneming, het Desai vertel, het sy en Blacking het na mekaar gedraai en gesê: “Dit sal alles oukei wees."

“Nadat hulle ons in hegtenis geneem het, het majoor Coetzee ons persoonlik na die Hillbrow-polisiekantoor geneem. Ons het in die middel van die nag daar aangekom. Hy het in Afrikaans gesê: 'Dit is John Blacking. Hy is in hegtenis geneem. En dit is Zureena Desai. Sy is 'n dokter.' En toe sit hulle ons in dieselfde sel! Dit was heeltemal belaglik."

Familie en vriende se ondersteuning van het haar en Blacking deur die moeilike weke van die verhoor gedra, het Desai gesê. “Die hegte Indiese gemeenskap in Roodepoort waar my gesin gewoon het, was ongelooflik ondersteunend. Ons het boodskappe en briewe van regoor die wêreld ontvang, ook van talle Afrikaanse mense."

Desai het voor die uitspraak gesê sy is baie senuweeagtig en seker hulle sal tronk toe gestuur word. “Ek het vir ons advokaat, George Bizos, gesê: 'Ek wil regtig nie tronk toe gaan nie'." Die saak het gedurende die uitspraak 'n onverwagte wending geneem, waarskynlik weens politieke ingryping, het Desai aan die hand gedoen. “Terwyl landdros De Wet besig was om sy uitspraak te lewer en gepraat het oor hoe uitdagend ons was, het 'n klerk van die hof skielik die verrigtinge onderbreek. Landdros De Wet het vir hom gesê: 'Ek verstaan nie.' Hy is aangesê om 'n telefoonoproep te ontvang. Toe hy terugkom van die oproep, het hy eenvoudig gesê: 'Ek vonnis julle tot ses maande opgeskort.' Boef. Klaar. Ek dink dit was druk van buite. Want die laaste ding wat die wit Suid-Afrikaanse regering in daardie stadium nodig gehad het, was dat ons tronk toe moes gaan. Hulle sou belaglik gelyk het. Hulle was belaglik, maar dit sou hulle nog belagliker laat lyk het."

Herinnering aan jongmense

Volgens Desai was respek vir Blacking se gesin (hy was voorheen getroud) een van die groot redes waarom sy al die jare stilgebly het. Sy wou nie vir Blacking se eerste vrou en kinders pyn veroorsaak nie, het sy verduidelik. “Ons het 'n goeie verhouding gehad. Die kinders het by ons kom kuier nadat ons Ierland toe getrek het en ek en Paula het Kerskaartjies aan mekaar gestuur. Ek wou aan haar skryf toe ek hoor sy is siek. Maar tot my spyt het ek het nooit sover gekom nie. Jy is altyd spyt oor die dinge wat jy nie doen nie. En ek dink dit was een van die redes waarom ek nooit daaroor wou praat nie. Die rede waarom ek vandag hier is, is omdat ek met my tannie gepraat het, wat ongelukkig nie vandag hier kan wees nie. Sy het gesê: 'Gaan praat. Dit is belangrik dat jongmense weet hoe dit was.' So dis waarom ek vandag hier is."

Op 'n vraag oor haar gevoelens jeens Afrikaners wat destyds privaat hulle meelewing aan haar betuig het, maar in die openbaar stilgebly het, het Desai gesê sy verkies om op die gedeelde menslikheid van mense te fokus. “Dit was almal net mense. Ek is by die Kongresskool waar ek skoolgegaan het, deur die anti-apartheidsaktivis Bram Fischer se vrou Molly en dogter Ilse, wat Afrikaners was, onderrig. Hierdie mense was ons helde. Niemand het my gefrustreer nie, want wie weet onder watter druk hulle verkeer. Ek dink baie daarvan het met onderwys te doen. Daar sal altyd stamgebondenheid, rassisme of antisemitisme wees. Die beste manier om dit te vermy, is dat ons almal saam onderrig word sodat ons mekaar kan leer ken."

Nadat Blacking Suid-Afrika in November 1969 verlaat het, is hy onmiddellik verbied om na die land terug te keer. Hy het 'n pos as professor in sosiale antropologie aan Queen's-universiteit in Belfast aanvaar. Desai het Suid-Afrika vyf weke later verlaat en uiteindelik by Blacking in Noord-Ierland aangesluit en in Belfast in hematologie gespesialiseer. Sy het as konsultant-hematoloog en dosent by Queen's-universiteit gewerk en later 'n konsultant in hematologie in 'n gesamentlike aanstelling tussen Queen's en die Royal Victoria-hospitaal geword. Desai en Blacking is getroud en het tussen 1974 in 1987 vier dogters gehad voordat hy in 1990 aan kanker oorlede is.

Desai is later met dr Michael Hutchinson getroud, wat haar op haar besoek aan Stellenbosch vergesel het. Hutchinson het aan die gehoor gesê sy vrou se Suid-Afrikaanse wortels lê steeds diep. “Sy het 'n fanatiese rugbyliefhebber geword. Sy kyk altyd wanneer die Suid-Afrikaanse spanne speel."

Jansen het hulde gebring aan Desai se nalatenskap en gesê wat hom getref het, was die krag van haar gesin se ondersteuning, maar ook die invloed wat sy as rolmodel gehad het. “In die 1960's was daar baie min nie-wit vroue wat mediese dokters was. En jy kom uit 'n baie standvastige middelklasgesin wat 'n sterk politieke bewussyn gehad het, al was hulle dalk nie aktivisties op straat nie. Ek dink dit is waarom jy nie teruggedeins het vir hierdie verspotte mense nie. Jy het 'n sterk besef van jou eie waarde gehad."

Jansen het Desai as 'n inspirasie vir jongmense bestempel en haar bedank dat sy “al die pad van Ierland af gekom het" om Suid-Afrikaners aan 'n donker hoofstuk in die land se geskiedenis te herinner wat uiteindelik ook vol hoop en inspirasie was.

Dr Klausen het 'n hoofstuk oor die Desai en Blacking-verhoor geskryf vir haar komende boek genaamd Criminal Desire: Nationalism, Gender, and the Criminalization of Interracial Desire in Apartheid South Africa. Dit sal in 2025 deur Oxford University Press gepubliseer word.