Samewerkende omgewingsbestuur is ʼn sleutelbenadering om die uitdagings aan te pak wat gestel word deur die dinamiek en onsekerhede wat verband hou met die globale ekologiese krisis en die maniere waarop dit in Suid-Afrika afspeel. Só skryf prof Anél du Plessis van die Leerstoel in Stedelike Reg en Volhoubaarheidsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch in ʼn meningsartikel vir die Mail & Guardian ter viering van Wêreldomgewingsdag op 5 Junie.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Anél du Plessis*
Die tentakels van die globale ekologiese krisis strek wêreldwyd en manifesteer in “reuse" uitdagings soos klimaatsverandering, verlies aan biodiversiteit en plastiekbesoedeling. Baie min lande word nie geraak deur die voortgesette vernietiging van die stelsels op Aarde wat die menslike lewe ondersteun nie.
Vanjaar se Wêreldomgewingsdag (5 Junie) volg kort nadat miljoene Suid-Afrikaners hul stem uitgebring het vir die verkiesing van ʼn nuwe Nasionale Vergadering en provinsiale wetgewers in elk van die land se nege provinsies. Dit bied ʼn gulde geleentheid om stil te staan en na te dink oor wat ons land se Grondwet van politieke leiers vereis wat betref die beskerming van water, grond, lug en biodiversiteit, asook die bevordering van omgewingsgeregtigheid.
Art. 24 van die Grondwet bepaal dat elkeen in Suid-Afrika die reg het op ʼn omgewing wat nie nadelig vir hul gesondheid of welstand is nie en dat die omgewing tot voordeel van huidige en toekomstige geslagte beskerm moet word. Dieselfde reg vereis redelike wetgewing en “ander maatreëls" wat besoedeling en ekologiese agteruitgang voorkom, bewaring bevorder en ekologies volhoubare ontwikkeling en die gebruik van natuurlike hulpbronne verseker. Dit dui daarop dat regeringsingryping onontbeerlik is.
Suid-Afrika het oor die afgelope 30 jaar goed gevaar met die vestiging van ʼn stewige wetlike (wetgewende) basis vir omgewingsbeskerming, omgewingsgeregtigheid en rigtinggewende ontwikkelingsbesluite met inagneming van die feit dat die meeste natuurlike hulpbronne beperk en uiters kwesbaar is. Ondanks die afwesigheid van toegewyde omgewingshowe of ʼn omgewingsombudsman, het die regbank tot dusver nie daarvan weggeskram om respek vir, asook beskerming, bevordering en nakoming van, die omgewingsreg by rolspelers in die regering en die private sektor af te dwing nie. Oor die algemeen is die regsargitektuur vir gesonde omgewingsbestuur ongeskonde – veral in die nasionale regeringsfeer.
Ons regering se Verslag oor die Stand van die Omgewing het in 2023 verskyn. Hierdie verslag dui daarop dat die land se natuurlike hulpbronne en ekostelsels onder erge druk verkeer en ernstige kommer word geopper oor kwessies soos hoogs bedreigde riviermonding- en binnelandse vleilandekostelsels, kwynende waterbeskikbaarheid en ʼn verswakking van rivier-ekostelseltoestande, hoë vlakke van omgewingslugbesoedeling en die impak daarvan op menslike gesondheid, asook toenemende afvalproduksie en die gebrekkige beskerming van spesies soos skoenlappers, soogdiere, plante en amfibieë.
Ons het die afgelope jare gesien hoe blootgestel gemeenskappe in Suid-Afrika is wanneer gure weersomstandighede toeslaan. Ons het gesien hoe ʼn droogte van 1-in-400 jaar tussen 2015 en 2018 die Stad Kaapstad met sy sowat 4,6 miljoen inwoners tot op die randjie van “Dag Zero" geneem het. ʼn Soortgelyke historiese droogte het omstreeks dieselfde tyd in Gqeberha voorgekom, maar dit het baie langer geduur. Die Knysna-brande in Junie 2017 het verwoesting in dié dorp gesaai en die meeste geboue tot nog toe in ʼn brand in Suid-Afrika in puin gelaat, met die gepaardgaande lewensverlies.
In April 2022 het meer as 300 mm reën binne 24 uur in die KwaZulu-Natalse kusgebied, insluitend die groter Durban-gebied en die Suidkus, geval. Dit het tot rampspoedige oorstromings en die dood van meer as 400 mense gelei. Meer as 4 000 huise is vernietig en 45 000 mense is tydelik werkloos gelaat. Die koste van die vernietigde infrastruktuur en die verwante besigheidsverliese het na raming US$2 miljard of R37 miljard bedra.
Hierdie gebeure, wat deur ʼn voortdurende nasionale kragkrisis en groter stedelike en landelike armoede en die veroudering van diensleweringsinfrastruktuur vererger word, plaas al hoe meer klem op relevante regsvrae oor verlies, skade, aanspreeklikheid en verantwoordbaarheid. Op hul beurt laat hierdie vrae ʼn mens wonder of grondwetlike omgewingsregte en ʼn klomp nasionale omgewingswette enigsins waarde het? En voorts wat die stand en wisselvalligheid van die omgewing vir die inkomende leierskorps inhou?
Dit is hoog tyd dat ons politici die globale ekologiese krisis as krities relevant en as ʼn werklike probleem in Suid-Afrika beskou en die belangrikheid van kollektiewe optrede buite wetgewing internaliseer om te verseker dat ons natuurlike hulpbronne verantwoordelik gebruik en beskerm word. Heeltemal te min aandag word geskenk aan Hoofstuk 3 van die Grondwet wat die nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede sowel as departemente oor die drie sfere van regering opdrag gee om saam te werk. Die hele land se leiers word opdrag gegee om “die welstand van die mense te verseker", om “doeltreffende, deursigtige, verantwoordingspligtige en samehangende regering vir die Republiek as geheel te voorsien", om “in wedersydse vertroue en goeie trou met mekaar saam te werk" deur “mekaar te help en te ondersteun" en deur “hulle optrede en wetgewing met mekaar te koördineer". Dit is ʼn boodskap wat uit die Grondwet voortspruit, maar ook een wat weerklink in menige wet wat van toepassing is op inter-regeringsverhoudinge en samewerking in verskillende regeringsektore.
Die stand van die omgewing en die voortgesette bestaan van gebiede waar omgewingsongeregtigheid voortduur, vereis waarskynlik ʼn koalisie of vennootskap van ʼn ander aard. Op Wêreldomgewingsdag is dit nodig dat leiers wat partye verteenwoordig wat meer of minder van mekaar verskil, sowel as diegene wat vir hulle gestem het, die krag van samewerking aangryp. Omgewingsvernietiging raak ons almal en sal aanhou om toekomstige geslagte te beïnvloed. Samewerkende omgewingsbestuur is ʼn sleutelbenadering om die uitdagings aan te pak wat gestel word deur die dinamiek en onsekerhede wat verband hou met die globale ekologiese krisis en die maniere waarop dit in Suid-Afrika afspeel. Samewerkende omgewingsbestuur vereis toewyding en solidariteit om toe te sien dat meervlakkige bestuursplanne en omgewingsbestuursbeginsels ʼn blywende positiewe impak het.
Met ʼn nuwe politieke era wat ingelui word, weergalm die oproep van die grondwetlike omgewingsreg vir “ander maatreëls" om mense se gesondheid en welstand te verseker. Soos wat ons demokrasie volwasse word en politieke partye met mekaar onderhandel om te prioritiseer en kompromieë aan te gaan in die hoop om gedurende die vyf jaar wat voorlê goed te regeer, vertrou ʼn mens dat Suid-Afrikaners se gesondheid en welstand ʼn deurslaggewende faktor sal wees. Hopelik sal ons diep afhanklikheid van natuurlike hulpbronne en ons kollektiewe verantwoordelikheid om na die omgewing om te sien as ʼn verenigende rol dien binne ʼn nuwe regering wat nie juis ʼn ander keuse het as om hande te vat om hierdie land op ʼn volhoubare manier vorentoe te neem nie.
* Prof Anél du Plessis is ʼn professor in Regte en beklee die Leerstoel in Stedelike Reg en Volhoubaarheidsbestuur in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch.