Die Fakulteit Ingenieurswese by Universiteit Stellenbosch vier hierdie jaar sy 80ste bestaansjaar – ʼn groot mylpaal in die geskiedenis van die Fakulteit. In 1941 het die Fakulteit begin as ʼn klein departement binne die Fakulteit Wiskunde en Fisiese Wetenskappe, met 42 eerstejaarstudente en ʼn personeelkorps wat bestaan het uit een professor (Prof HL Reitz) en twee senior lektore (Dr RL Straszacker en Dr JM le Roux). Sedertdien het die Fakulteit ontwikkel tot ʼn volwaardige ingenieursfakulteit. Vandag is dit een van die grootste fakulteite by Universiteit Stellenbosch met meer as 4000 studente en 300 personeellede.
Gedurende hierdie tyd het die Fakulteit baie struikelblokke oorkom, insluitend ʼn wêreldoorlog, groot politieke omwentelings, sanksies, ʼn waterkrisis, COVID, en meer onlangs, ʼn elektrisiteitskrisis – wat alles bygedra het tot die vorming van die Fakulteit tot sy huidige status as een van die voorste navorsingsintensiewe ingenieursfakulteite op die Afrika-kontinent.
Die vroeë jare
Daar is reeds in 1941 ingenieursvakke ingestel as deel van ʼn BSc-graad, maar dit is eers in Januarie 1944 wat die Fakulteit Ingenieurswese formeel tot stand gekom het met ʼn vyf-jaar BScIng-graad in siviele, meganiese of elektrotegniese ingenieurswese. Studente kon egter hulle vroeëre BSc module oordra na hulle nuwe graadprogramme, en die eerste 16 Stellenbosch-ingenieurs het in Desember 1945 graad gekry – ses elk in meganiese en siviele ingenieurswese en vier in elektrotegniese ingenieurswese.
Oor die volgende twee dekades het die Suid-Afrikaanse regering verskeie groot industriële inisiatiewe van stapel gestuur om ekonomiese groei in die land te ondersteun, en soos die vraag na ingenieurs meer geword het, so het die Fakulteit met rasse skrede gegroei. In 1961 is die Departement Landbou-ingenieurswese gestig, wat later sou ontwikkel tot die Fakulteit Agriwetenskappe, en in 1969 is ʼn Departement Chemiese Ingenieurswese by die Fakulteit Ingenieurswese gevestig.
Gedurende hierdie tyd het die Fakulteit homself gevestig as ʼn omgewing vir uitmuntende onderrig, ondersteun deur sterk interaksie met die plaaslike industrie. Hierdie aspekte is vandag steeds twee van die belangrikste bakens van die Fakulteit, en het merkbaar meer belangrik geword in die afgelope dekade.
Hoewel die navorsingslandskap heelwat anders gelyk het as wat ons tans beleef, met die klem baie op die ontwikkeling van ʼn sterk groep ingenieurs vir die behoeftes vir ontwikkeling in Suid-Afrika, het die Fakulteit toe reeds ʼn beduidende rol gespeel in die ontwikkeling van die nuutste tegnologieë van die era. Een van die hoogtepunte is ongetwyfeld die ontwerp en vervaardiging van die eerste analoogrekenaar op die Afrika-kontinent, ontwikkel deur Prof CL Olien in 1950. Hierdie was die eerste van vele suksesse in die nuwe, vinnig-ontwikkelende veld van rekenaars en sagteware, wat sedertdien nog nie gestop het nie.
Nog ʼn area waar die Fakulteit pionierswerk gedoen het, is dié van waterstof as alternatiewe brandstof. Navorsing oor hierdie opwindende nuwe tegnologie was reeds in die laat 70s aan die gang, waar ʼn volledig werkende waterstofaanleg in die laboratoriums van die nuut-gestigde Departement Chemiese Ingenieurswese geskep is. Hierdie navorsingsarea het in die afgelope jare baie belangrik geword, en die Fakulteit speel weer ʼn leidende rol in die land deur ʼn volledig-befondsde SARCHI-Leerstoel en ʼn spesiale strategiese fondsprogram.
In die dekades na die oorlog, deur te bou op die aansienlike mineraalbronne van die land, was Suid-Afrika besig om homself as ʼn mynbouland te vestig. Die Fakulteit het hierdie inisiatief heelhartig ondersteun, deur uitgebreide navorsing in ekstraktiewe metallurgie, spesifiek in die goudbedryf. Hierdie navorsing is steeds aan die gang, en African Rainbow Minerals het onlangs ʼn Leerstoel begin befonds.
Hierdie tydperk het ook ʼn sterk fokus gehad op watervoorsiening en die Fakulteit het ʼn leidende rol gespeel in die vestiging van die grootste pompkapasiteit kus- en hidrolise laboratorium in die Suidelike Halfrond, waar grootskaalse modelle vir damme regoor Suid-Afrika gebou en getoets kan word.
Die tagtigs en negentigs
Die eerste ingenieursgebou het vinnig geblyk om te klein te wees vir die groeiende fakulteit, en daar is in die laat 60s ʼn nuwe gebou in Banhoekweg opgerig. Destyds is die gebou ontwerp vir 1500 studente – ʼn getal wat toe enorm geklink het. (Niemand kon toe eers dink dat die Fakulteit in 2024 ʼn eerstejaarsinname van 1300 studente sou hê nie!) Die eerste gebou van die huidige ingenieurskampus is op 1 Mei 1970 ingehuldig, en die laaste gebou, dié van Chemiese Ingenieurswese, in 1979. Die Fakulteit kon dus die laaste dekades van die millennium betree in ʼn splinternuwe gebou wat aansienlike groei in beide personeel- en studentegetalle moontlik gemaak het.
Ook maar goed, want die tyd wat gevolg het, het ʼn baie skerp en vinnige oorgang vir die Fakulteit beteken: van primêr ʼn instelling vir onderrig na een wat ʼn leidende rol speel in navorsing op nasionale en internasionale vlak. Ons aantal akademici wat deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS (National Research Foundation (NRF))) beoordeel word, het vinnig begin toeneem, en aansienlike beleggings is gemaak om uit te reik na internasionale akademiese instellings.
Sommige hoogtepunte wat uitgelig kan word, is die ontwerp, vervaardiging en lansering van die eerste satelliet wat in die Suidelike Halfrond (genoem SUNSAT) ontwerp en gebou is, die eerste gebruik van Kunsmatige Intelligensie in die beheer van chemiese aanlegte, innoverende werk vir die gebruik van droë-verkoeling in kragopwekking, en die vestiging van die Stellenbosch Tegnopark.
Daarbenewens is aansienlike aandag gegee aan navorsing oor biobrandstowwe, insluitend die oprigting van een van die grootste loodsaanlegte vir distillasie by enige universiteit wêreldwyd.
Om die groeiende bedryf in die land te dien, het die padnetwerk van die 70s af baie belangrik geword. Ter ondersteuning hiervan het die Fakulteit, deur opeenvolgende industrie-geborgde Navorsingsleerstoele, baanbrekerswerk gedoen op die gebied van plaveiselingenieurswese. Hierdie navorsing brei voortdurend uit, en het ook onlangs gelei tot die splinternuwe plaveisel-laboratorium wat in 2021 voltooi is.
Dieselfde tydperk is gekenmerk deur groot politieke verandering in Suid-Afrika, wat gelei tot die afskaffing van Apartheid, en die eerste volledig demokratiese verkiesing in 1994. Dié politieke veranderinge het Universiteit Stellenbosch en die Fakulteit Ingenieurswese in staat gestel om van ʼn slegs-Afrikaanse Fakulteit te verander na een wat aktief inskrywings van studente uit verskeie kulturele agtergronde en tale aanmoedig.
Laaste paar jaar
Die eerste dekade van die nuwe millennium het aansienlike verandering in die Fakulteit meegebring. Na die politieke veranderinge in die land, het die Fakulteit ʼn omvattende stel kurrikulum-veranderinge aangebring, wat studente uit alle taalgroepe toelaat om hul BIng-graad in Engels, binne ʼn meertalige raamwerk, te voltooi. Die eerste jaar van al die programme is verander om toe te laat vir taalspesifieke groepe, en, as ʼn eerste in die Universiteit, het die Fakulteit ʼn program vir intydse tolking in al die ander modules ingebring.
Hierdie veranderinge het daartoe gelei dat ons studentegetalle in ʼn tydperk van ongeveer ag jaar verdubbel het, met die totale studentegetalle wat 4000 bereik het in 2017, teenoor 1000 in 1997. Boonop is daar konsekwente groei in ons swart, bruin en Indiër studente, en staan ons tans op naastenby 40% van die totale studentegetalle.
Gedurende hierdie tydperk het Universiteit Stellenbosch ʼn nuwe navorsingsgerigte visie ontwikkel, en die Fakulteit het sy navorsingsvoetspoor aktief uitgebrei. Tans werk die Fakulteit saam met meer as honderd internasionale vennote, waarvan die meeste in Wes-Europa en Afrika geleë is. In Europa het ons interaksie, veral met die Germaanse lande, aansienlik ontwikkel en instellings in Nederland, België, Duitsland en die Skandinawiese lande het langtermynvennote geword.
In 2007 is die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies (Centre for Renewable and Sustainable Energy Studies (CRSES)) gestig, met die huidige dekaan, Prof Wikus van Niekerk, as direkteur. Dit was ʼn belangrike stap om die Fakulteit in ʼn leidende posisie in die land se energie-omgewing te posisioneer, en het al hoe belangriker geword namate Suid-Afrika op pad was na dekades van beurtkrag, gekombineer met internasionale druk om oor te skakel na groen energie.
Gedurende hierdie tyd het die deelname en leierskap van die Fakulteit ook gelei tot die skepping van die grootste radioteleskoop in die wêreld in die Noord-Kaap, die Square-Kilometre Array (of SKA) , asook innoverende werk oor bioprodukte en afvalbestuur, die ontwikkeling van innoverende navorsingsareas soos brand-ingenieurswese en die 3D-druk van betonstrukture, die gebruik van masjienleer (of KI) in vervaardiging en voorspelbare onderhoud, toetrede tot die wêreld van digitale tweelinge, en navorsingsprogramme befonds deur maatskappye soos BMW en Gibela.
Erfenis en Toekoms
Oor die afgelope 80 jaar het die Fakulteit Ingenieurswese ʼn leidende rol gespeel in die vestiging en ontwikkeling van die dissipline van ingenieurswes in Suid-Afrika. Afgestudeerde studente van die Fakulteit het hulself oor die wêreld versprei en het beduidende bydraes gelewer waar hulle ook al gegaan het. Die Fakulteit was die tuiste van verskeie legendariese akademici wie se werk die basis gevorm het vir die werk waarop ons steeds voortbou. Dit sluit mense in soos Prof Christo Viljoen, die dryfkrag agter Stellenbosch Tegnopark; Profs Detlev Kröger en Fred Hugo wat onderskeidelik die Fakulteit as wêreldleier gevestig het in droëverkoeling en pad- en plaveiselontwerp, Prof PW van der Walt wat instrumenteel was in die stigting van die eerste kommersiële RADAR-maatskappy in die land, en Prof Jan du Plessis wat die vernaamste dryfkrag agter die SUNSAT-program was.
Personeel van die Fakulteit het nie net leidende rolle in die Fakulteit en plaaslike bedryf gespeel nie, maar ook in die breër Universiteit, waar Prof Reitz ongetwyfeld beskou word as die vader van die Fakulteit. Drie van die vyf dekane wat gevolg het, het SU viserektore geword, waaronder die eerste dekaan, Prof Roux de Villiers en later Profs Christo Viljoen en Arnold Schoonwinkel.
Die toekoms is onmoontlik om te voorspel, maar op 80 jaar is die Fakulteit sterker as ooit tevore. Beide die getal en akademiese vlak van die 2024 eerstejaarsinname is op rekordhoogtepunte. So ook ons navorsingsuitsette, internasionale samewerking en industrie-gebordge navorsing. Oor elk van die afgelope drie jaar het die Fakulteit die hoogste aantal PhD-grade in die Universiteit toegeken. Binne die volgende drie jaar sal die hele ingenieurskampus vernuwe wees, wat sal beteken dat dit die modernste fakulteit in die land sal wees, met die nuutste navorsings- en onderrigfasiliteite. ʼn Aantal nuwe nagraadse programme is reeds bekendgestel, of is in proses, om aan die groeiende behoefte aan vaardigheidsontwikkeling in die land te voldoen, veral met die oog op die digitale- en KI-rewolusie
Danksy die pogings van ons destydse en huidige personeel, kan die Fakulteit voortbou op sy sterk fondament om ʼn beter toekoms vir ons land te help vorm deur die ontwikkeling van uitstekende jong ingenieurs, en volhoubare navorsing vir impak, om die omgewings- en gemeenskaps-uitdagings wat ons in die gesig staar aan te spreek
Ons hoop dat die volgende 80 jaar net so suksesvol sal wees as die vorige 80, inderdaad, selfs beter!
(Ons is opgewonde om ʼn spesiale webblad te loods, spesifiek gemik om ons 80 jaar van uitnemendheid te herdenk. Die blad vier ons ryk geskiedenis en ons nooi ons gemeenskap om positiewe stories en ervarings met ons te deel deur die “Share Your Story" vorm in te vul.)