Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Responsiewe en verantwoordelike internasionalisering werp vrugte af
Outeur: Prof Hester Klopper, Deputy Vice-Chancellor: Strategy, Global and Corporate Affairs
Gepubliseer: 27/05/2024

'n Mens kan kwalik glo dat die akademiese jaar reeds die halfpadmerk bereik het. ​

Deur die hele eerste semester van 2024 het die Universiteit Stellenbosch (US) voortgegaan om hom as 'n toonaangewende Afrika-universiteit met 'n wêreldwye voetspoor te posisioneer. Vir dié doel het ons responsiewe en verantwoordelike internasionalisering as ons strategiese benadering aanvaar om ons werk oor grense heen uit te brei en terselfdertyd bewus te bly van ons impak en ons eie unieke behoeftes. Hierdie tipe internasionalisering vereis gevoeligheid vir maatskaplike, kulturele, ekonomiese en omgewingsfaktore, en die vermoë om daarby aan te pas en verantwoordbaar te bly. Ons sal vir die res van die jaar hierop bly konsentreer, en voortbou op die suksesse wat ons reeds behaal het.

Danksy ons verbintenis tot responsiewe en verantwoordelike internasionalisering het ons die afgelope maande impakryke vennootskappe met hoëronderwysvennote wêreldwyd geskep en gekoester. Ons het ook verdere vordering gemaak om 'n internasionale, interkulturele en globale element by ons institusionele werksaamhede en akademiese programme in te sluit. Sodoende maak ons internasionalisering toeganklik vir ál ons studente en personeel.

Uiteindelik wil ons sorg dat alle lede van die US-gemeenskap baat vind by 'n ryke internasionaliseringservaring en 'n kans kry om globale bevoegdhede te ontwikkel. Hierdie verbintenis sluit ook ons vennote en medewerkers in sodat ook húlle studente en personeel wat op Stellenbosch 'n draai kom maak die vrugte pluk van verrykte opvoedkundige interaksies.

Lees gerus die artikels in hierdie nuusbrief om 'n gevoel te kry vir die werk wat ons in dié verband doen. Dit vertel van hoe ons die US se voetspoor wêreldwyd uitbrei, ons universiteit as 'n eerste keuse vir studente van oor die vasteland en wêreld posisioneer, en ons internasionale studente en personeel uitmuntende bystand en geleenthede bied.

Ons pak die tweede semester aan, vasberade om verdere bande met diverse instellings te smee en die meeste te maak van ons betrokkenheid by multilaterale hoëronderwysnetwerke en -konsortiums. Ons sien uit na die res van ons reis saam met ons vennote en medewerkers in die wêreldwye hoëronderwyslandskap. 

Prof Hester Klopper

Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake