Die fassinerende wêreld van plante sal in die internasionale kollig wees
wanneer plantliefhebbers wêreldwyd op Saterdag
18 Mei 2024 die sewende Internasionale Fascination of Plants Day vier.
Die Fascination of Plants Day word jaarliks aangebied onder die sambreel
van die European Plant Science Organisation (EPSO) en die Global Plant Council.
Dr Itumeleng Moroenyane, ’n plantkundige van die Universiteit Stellenbosch
(US) en nasionale koördineerder vir hiérdie vieringsgeleenthede in Suid-Afrika,
sê dit is belangrik om erkenning te gee aan die betekenisvolle bydraes wat die
Suid-Afrikaanse plante gelewer het tot ons kulturele identiteit en tradisionele
kennissisteme. “Ons flora is ongelooflik divers en waardevol - van die genesende
eienskappe van inheemse medisinale plante tot die kulinêre genietinge van ons
eetbare flora. Van die ikoniese fynbos van die Kaap tot die majestueuese
kremetartbome van die Limpopo Provinsie, gryp Suid-Afrikaanse plante die
verbeelding aan en onderhou dit lewe op ontelbare maniere. Die plante in
Suid-Afrika verryk ons lewens op tallose wyses en herinner ons aan die diepe
verbondenheid tussen mense en plante wat al
eeue lank betaan.”
Dit is die eerste maal dat Suid-Afrika aan hierdie globale gebeurtenis
deelneem.
Dr Moroenyane het ’n program vir leerders van plaaslike skoleby die US se
Departement Plant- en Dierkunde georganiseer. Hierdie program sal uit ’n
miskroskoopwerkswinkel, toere van die laboratoriums, ’n voedseltoer te voet,
asook besprekings bestaan.
Op Saterdag 18 Mei bied die Departement Plant- en Dierkunde en die
Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin ’n openbare geleentheid aan met
begeleide voedseltuintoere, interaktiewe werkswinkels, kreatiewe handwerk,
lewendige musiek en kosstalletjies. Klik hier vir meer inligting en besprekings
- Events (sun.ac.za)
Meer oor plante
Plante is unieke organismes. Hulle kan suikers produseer uit sonlig, koolstofdioksied en water. Hierdie
vermoë om hulle eie kos direk te kan sintetiseer, het plante in staat gestel om
suksesvol te koloniseer, aan te pas by, en te diversifiseer binne byna elke nis
op die planeet. Bioloë skat die totale aantal plantspesies op ongeveer
250 000.
Hierdie vermoëns maak plante
die primêre vervaardigers van biomassa wat diere en die mensdom van voedsel,
voer, papier, medisyne, chemikalieë, energie en ’n mooie landskap voorsien.
Wêreldwyd is enigeen wat ’n bydrae wil lewer tot die
Fascination of Plants Day (FoPD), welkom om deel te neem. Jy kontak net jou nasionale
koördineerder (klik op "countries" by www.plantday18may.org) om dit te bespreek en toegang te verkry tot al die
ondersteuningsmateriaal.
Die Fascination of Plants
Day dek alle plantverwante onderwerpe en sluit basiese plantwetenskap, landbou,
tuinbou, bosbou, plantkweking, plantbeskerming, voedsel en voeding, omgewingsbewaring,
tempering van klimaatsverandering, slim bioprodukte, biodiversiteit, volhoubaarheid,
hernubare hulpbronne, plantwetenskapsonderrig, en kuns in.
Foto’s vryelik beskikbaar by https://plantday18may.org/pr-toolbox/