Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tulio de Oliveira verskyn op TIME100 Gesondheidslys vir 2024
Outeur: Centre for Epidemic Response and Innovation (CERI) [Maambele Khosa]
Gepubliseer: 02/05/2024

TIME Magazine het prof Tulio de Oliveira in sy eerste 2024 TIME100 Health-lys erken, 'n nuwe jaarlikse lys wat 100 individue vier wat vanjaar die meeste impak op globale gesondheid gehad het.

Hierdie erkenning, soos bepaal deur TIME se internasionale netwerk van redakteurs, denkleiers en vorige vereerdes, is De Oliveira se tweede verskyning op TIME se invloedryke ranglys, en volg op sy insluiting in die 2022 TIME100 lys van die wêreld se invloedrykste mense. Die volledige 2024 TIME100 Health-lys is beskikbaar by time.com/time100health 

De Oliveira is 'n wêreldbekende wetenskaplike op die gebied van genomika. Hy is die direkteur van die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (CERI) aan die US, direkteur van die KwaZulu-Natal Navorsingsinnovasie- en Volgordebepalingsplatform (KRISP) aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) en adjunkdirekteur van die genomiese toesigeenheid by die Wellcome Sanger-instituut in die Verenigde Koninkryk.

De Oliveira het in 2021 'n grensverskuiwende multidissiplinêre span navorsers en wetenskaplikes gelei in die ontdekking van die Omikron-variant van SARS-CoV-2 wat vinnig na vore getree het as die dominante globale variant van dié virus. In 2020 het hy die span gelei wat die SARS-CoV-2 Beta-variant ontdek het. De Oliveira het die afgelope dekades verskeie netwerke van wetenskaplikes in Suid-Afrika en Afrika gelei en in 2023 het hy die konsortium Climate Amplified Diseases and Epidemics (CLIMADE) bekendgestel. Dit is 'n wêreldwye konsortium om siektes en patogene wat deur klimaatsverandering versterk word, te karakteriseer.

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die US, het in reaksie op hierdie merkwaardige prestasie gesê: "Prof Tulio de Oliveira se onvermoeide toewyding aan die bevordering van wetenskaplike kennis en sy uitsonderlike leierskap op die gebied van genomika en bioinformatika is 'n voorbeeld van die gees van innovasie en samewerking wat ons instelling definieer."

"Ek voel uiters geëerd om weer eens deur TIME Magazine erken te word en om opgeneem te word in die prestigeryke TIME100 Health-lys van 2024. Hierdie erkenning beklemtoon die belangrikheid van samewerkende navorsingspogings om globale gesondheidsuitdagings die hoof te bied." De Oliveira het sy dank uitgespreek en bygevoeg: "Toe ek sien die Covid-19-pandemie is besig om af te neem, het ek besluit om saam met ons span van meer as 100 wetenskaplikes in Suid-Afrika en saam met die grootste genomika-fasiliteit ter wêreld, die Wellcome Sanger-instituut, te werk om 'n nuwe werkprogram te skep, hierdie keer om die veelvuldige siektes wat deur klimaatsverandering vererger word, te beveg. Dit sluit siektes soos dengue, chikungunya, die Zika-virus, griep en cholera in."

De Oliveira het reeds talle toekennings in sy loopbaan ontvang vir sy bydraes tot navorsing oor openbare gesondheid en aansteeklike siektes. Benewens die feit dat hy deur die vaktydskrif Nature aangewys is as een van die top tien mense wat in 2021 gehelp het om die wetenskap te omvorm, is hy ook by die MIT Technology Review-lys ingesluit as een van die leiers van die top-tien deurbraaktegnologieë in 2022. Hy het ook die Lifetime Leadership Award van Discovery Health ontvang en het die Orde van Meriete-medalje van die Portugese president, die goue medaljetoekenning van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) en die Batho Pele-toekenning van die Suid-Afrikaanse regering vir sy bydraes tot die samelewing ontvang en was in 2022 die wenner van die Duitse Afrika-prys. Sy verbintenis tot uitnemendheid en innovasie inspireer kollegas en navorsers wêreldwyd.

  • De Oliveira is ook professor in Bioinformatika aan die US Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke en verbonde aan die Fakulteite Natuurwetenskappe en Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die US.

 

MEER INLIGTING: