Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldboekdag: Die beste metodes om kinders te leer lees
Outeur: Zelda Barends
Gepubliseer: 23/04/2024

Wêreldboekdag word jaarliks op 23 April gevier. In ʼn meningsartikel vir die Cape Times verskaf dr Zelda Barends van die Departement Kurrikulumstudie enkele riglyne wat onderwysers en ouers kan volg om kinders se leesvaardighede te verbeter.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas

Zelda Barends*

Onderwysers speel in 'n land soos Suid-Afrika 'n baie belangrike rol in die verbetering van die leesvaardighede van leerders, veral dié in die grondslagfase (graad R tot 3). Deur leerders se  leesvaardighede te verbeter, help hulle om die grondslag vir toekomstige leer en akademiese sukses te lê.

Doeltreffende leesonderrig in die klaskamer is dus van uiterste belang. Intense debatte soos die 'Leesoorloë' oor watter metodes die beste is vir die onderrig van lees, woed egter steeds voort in geletterdheidsonderrig

Leesoorloë word gekenmerk deur meningsverskille oor die beste benaderings tot die onderrig van lees, veral met die fokus op die debat tussen die klankmetode ('n onderdeel van leesonderrig wat op die verhouding tussen individuele klanke en die letters wat dit voorstel, fokus) en heeltaalonderrigmetodes, dit wil sê metodes wat gebruik word om lees te onderrig. Dit gaan nie net oor verskillende pedagogiese benaderings nie, maar kan ook as 'n magstryd in besprekings oor leesonderrig gesien word.

Gelukkig het leesonderrig die afgelope paar jaar verskuif. Dit is nie meer op menings gegrond oor hoe kinders leer lees nie, maar word eerder deur die wetenskap ingelig. Die Nasionale Leespaneel (NRP) is in 2020 aangestel om leesnavorsing te hersien en die doeltreffendste metodes vir leesonderrig te bepaal. Die NRP het meer as 100 000 studies bestudeer en ontleed om te bepaal watter metodes die beste werk om kinders te leer lees. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat daar vyf noodsaaklike onderdele van lees – bekend as die 'Groot Vyf' – is wat onderrig moet word vir doeltreffende leesonderrig. Dit is fonemiese bewustheid, klanke, vlotheid, woordeskat en begrip.

Fonemiese bewustheid is die vermoë om die individuele klanke in woorde op te let, daaroor te dink en daarmee te werk. Klanke verwys na die begrip van hoe letters en groepe letters met klanke skakel om letter-klankverhoudings en spelpatrone te vorm. Dit behels die aanleer van letterklankkorrespondensies en algemene spelpatrone. Vlotheid is die vermoë om 'n teks akkuraat en vinnig te lees en woorde onmiddellik te herken, terwyl woordeskat behels om die betekenis van woorde deur direkte en indirekte onderrig te verstaan en die ontwikkeling van instrumente om die betekenis van 'n onbekende woord te ontdek. Begrip behels om sin te maak van dít wat ons lees. Leesbegrip vereis agtergrondkennis, begrip van sin- en teksstrukture, monitering van begrip en die koppeling van idees.

Leesonderrig moet sistematies, eksplisiet, kumulatief en opeenvolgend wees ten einde doeltreffend te kan wees. Dit impliseer dat onderwysers die leesvaardighede van leerders stelselmatig moet hersien om hulle geheue te verbeter, en hulle moet konsepte eksplisiet in die soorte lettergrepe van ons taal, klankpatrone en lettergreepverdelingsreëls onderrig. Lesse en onderrigroetines moet kumulatief wees en moet voortbou op vaardighede wat voorheen aangeleer is en onderrig moet opeenvolgend wees, wat beteken dit moet met die maklikste en mees basiese elemente begin en tot moeiliker en ingewikkelder materiaal moet vorder. Onderwysers moet ook 'n vasgestelde omvang en volgorde van konsepte volg.

Wanneer ons op 23 April Wêreldboekdag vier, moet ons ook 'n baie belangrike vraag vra: Wat beteken dit vir die ondersteuning van leerders op hulle leer-om-te-lees-reis?

Kinders kom dikwels in hul leeswerk sigwoorde of hoëfrekwensiewoorde teë wat 'n deel het wat nie uitgeklank kan word nie. Leerders moet leer watter foneme (klanke) ooreenstem met die grafeme (letters) en watter onreëlmatig is. Ouers en onderwysers moet leerders toelaat om verskeie kere te oefen om sulke woorde te skryf. Sulke woorde moet ook in speletjies en daaglikse onderrigroetines opgeneem word. Om lesers met klanke te ondersteun, verg geduld, want om te leer hoe die 26 letters in ons geskrewe alfabet gebruik word om die ongeveer 44 klanke in ons gesproke taal (in Engels) voor te stel, stel leerders in staat om die kode van ons geskrewe taal te ontsluit. Gee leerders tyd om die woord uit te klank en hulle van dekodeerbare tekste met sinne te voorsien wat geneig is om by letterpatrone te hou wat leerders leer of reeds geleer het. Hierdie tekste help kinders om te oefen om die klankreëls wat hulle leer, toe te pas. Ons moet leerders ook help om woorde en woordpatrone in die klaskamer of by die huis raak te sien.

Dit kan ook baie prettig wees om vlotheid te ondersteun. Wanneer dekoderingsvaardighede outomaties raak en lees vlot is, kan leerders makliker hulle aandag daarop toespits om woorde en teks te verstaan. Vlotheid is die brug na begrip! Onderwysers en ouers kan hulle kind help om leesvlotheid te ontwikkel deur 'n paar eenvoudige en prettige aktiwiteite soos lees in pare en om leerders op te neem terwyl hulle lees sodat hulle dan na hulle eie leeswerk lan luister. Op hierdie manier kan hulle hul leeswerk self regstel. Gedurende die lees word baie woordbetekenisse aangeleer, maar voordat kinders onafhanklik teks kan lees, moet woordeskat aangeleer word deur mondelinge taalinteraksies en deur boeke hardop te lees. Ouers en onderwysers moet elke geleentheid gebruik om nuwe woorde in gesprekke te gebruik.

Wat moet ons doen as jong lesers by 'n woord vassteek? Moet ons vir hulle sê wat die woord is? Moet ons hulle aanspoor om na die prentjie te kyk? Of moet ons vir hulle sê om te raai wat die woord is op grond van die konteks van die verhaal? Dit is soms baie moeilik om te weet wat om te doen as 'n leser vashaak. Ons moet egter onthou dat ons kinders se aandag op die teks moet vestig en nie daarvan af moet weglei nie. Sodoende kan ons hulle vra om na die woord te kyk, deur die klanke te gly om dekodering grafeem vir grafeem (letter- of lettergroepe) aan te moedig. Dit moedig die vermenging van die klanke (die kombinasie van individuele klanke om 'n woord te vorm) gladweg aan sonder 'n groot pouse na elke klank (deurlopende vermenging of gekoppelde fonasie). As daar geen ander uitweg is nie, moet ons leerders help om die dele wat hulle in die woord ken, te identifiseer.

Om te leer lees is 'n ingewikkelde proses wat van soveel faktore en veranderlikes afhanklik is. Op Wêreldboekdag moet ons alle onderwysers loof wat probeer sin te maak uit hierdie kompleksiteit en elke kind leer lees.

*Dr Zelda Barends is 'n senior dosent in die Departement Kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings wat gehuldig word, is dié van die skrywer en weerspieël nie noodwendig dié van die Universiteit Stellenbosch nie.