Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch en Universiteit van Groningen versterk hulle strategiese vennootskap
Outeur: Compiled in collaboration with Prof Vasti Roodt, Alison April, Anita Veldtmaat and Sarah Van der Westhuize
Gepubliseer: 19/04/2024

​'n Afvaardiging van die Universiteit Stellenbosch (US) het van 7 tot 12 April 2024 die Universiteit van Groningen (UG) besoek om die twee instellings se strategiese en omvattende vennootskap verder te versterk. Die US-afvaardiging, wat uit die Rektor en Visekanselier, drie viserektore, dekane en senior personeellede bestaan het, het aan 'n aantal hoofsessies, individuele en groepvergaderings sowel as besoeke aan UG se verskeie voorpuntnavorsingsfasiliteite deelgeneem.

Die week het intense gesprekke oor akademiese leierskap in onstuimige tye en verantwoordelike internasionalisering ingesluit as agtergrond vir die volgende fase van samewerking tussen die twee universiteite. Die US-UG-vennootskap het ook een van hulle groot suksesse, hulle aansienlike getal gesamentlike PhD-studente, gevier met aanbiedings deur huidige studente en oordenkings deur UG-studieleiers oor hulle ervarings.

Onder die week se hoogtepunte was 'n dinee wat aangebied is deur UG se Energie-akademie, wat beoog om transdissiplinêre samewerking deur openbare-privaat-akademiese vennootskappe te bevorder. Die drie temas van energieoorgange, digitale transformasie en biomediese oplossings – die kernsamewerkingsgebiede tussen die US en UG – is by die dinee bespreek.

Die besoek het voorts gekonsentreer op samewerking tussen die twee instellings se transdissiplinêre skole, die ontwikkeling van navorsings- en wetenskapvermoëns, onderwysinnovasie en -leierskap, gesamentlike akademiese personeelaanstellings, fondswerwing, inligtingsoorsigbestuur, en die belyning van institusionele beplanning en beleide.

Benewens die sterk bilaterale samewerking tussen die US en UG, is die twee instellings ook medewerkers in multilaterale netwerke, waaronder die onlangs gevestigde Afrika-Europa Klusters van Uitnemendheid (CoRE) – 'n inisiatief van die Afrikanavorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA) en die Gilde van Europese Navorsingsintensiewe Universiteite. Samewerking as deel van die CoRE oor Hernubare Energie was juis een van die hooffokusse van die week se verrigtinge.

Daarbenewens was die besoek 'n belangrike geleentheid om konkrete planne vir die toekoms te ontwikkel. Dít sluit in spesifieke gesamentlike fiannsieringsaansoeke, die uitbreiding van die gesamentlike PhD-program, die vestiging van 'n gesamentlike US-UG Nagraadse Skool en projekkantoor, en ambisieuse 'reik na die sterre'-projekte om wêreldwye uitdagings deur openbare-privaat-akademiese vennootskappe die hoof te bied.

Die US en UG het ná die besoek 'n gesamentlike verklaring uitgereik wat die uitkomste en toekomsrigting van hulle vennootskap saamvat.

Volgende stappe sluit in 'n aantal opvolggesprekke in die volgende maand om duidelike mikpunte te stel en planne af te handel. Verdere aktiwiteite van die US-UG-vennootskap in die nabye toekoms sluit in:

deelname aan die Strategiese Vennootskapsforum wat in Mei 2024 by UG sal plaasvind.