Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoogtepunte van die SUPAN-konferensie
Outeur: SUPAN
Gepubliseer: 19/04/2024

​Die Universiteit Stellenbosch professionele assistente-netwerk (in Engels SUPAN) se 5de jaarlikse byeenkoms sedert die ontstaan daarvan in 2019 het op Vrydag 5 April 2024 plaasgevind, met die klem by dié dinamiese en insiggewende konferensie op die ontwikkelende aard van die moderne werkplek. SUPAN dien as 'n informele dog waardevolle platform vir universiteitsassistente om kennis uit te ruil, professioneel verder te ontwikkel, en 'n gevoel van samehorigheid in die instelling te kweek. 

Die konferensie het met 'n boeiende boodskap deur dr Choice Makhetha, Senior Direkteur van die Afdeling Studentesake aan die Universiteit Stellenbosch (US), begin. Dr Makhetha het die belang daarvan beklemtoon om met die hart uit te reik en nie die impak van 'n eenvoudige “hallo" te onderskat wanneer daar met belanghebbers van die Universiteit geskakel word nie. Sy het die belangrike rol van professionele assistente as voorpunt-ambassadeurs en eerste kontakpunte binne die instelling uitgelig, en verwys na hul vermoë om die kultuur van die werksplek te beïnvloed en 'n gevoel van tuishoort te skep. 

'n Konferensiehoogtepunt was die insiggewende sessie deur die Taalsentrum, wat diep gedelf het en op die rimpeleffek van taal in kommunikasie gewys het. Die Direkteur van die Taalsentrum, dr Kim Wallmach, en haar span, Fatima Halday, Hoof van Kommunikasie fokusarea en Michelle Pieters, Kommunikasielab Koördineerder, het gesamentlike insigte gedeel oor die belang van aktiewe luister en begrip by die bevordering van effektiewe kommunikasie. Hulle het deelnemers aangemoedig om die impak van taal vir die bou van betekenisvolle netwerke te omarm. Konferensiegangers is ook bekend gestel aan die English Style Guide 2023, 'n waardevolle hulpbron van die Taalsentrum wat helder en konsekwente kommunikasie oor die universiteit heen wil verbeter. 

Tydens die konferensie kon deelnemers aan besprekings deelneem, beste praktyke deel, en maniere uitpluis om die ontwikkelende landskap van die werksplek te ontgin. Die geleentheid het gedien as 'n bewys van die toewyding en professionaliteit van assistente binne die universiteit, en hul leiersrol wat betref uitnemendheid en innovasie oor verskeie fakulteite, departemente en funksies heen. 

Namate SUPAN verder ontwikkel en groei, bly hulle getrou aan hul verbintenis tot die skep van 'n ondersteunende en samewerkende omgewing vir professionele assistente. Met elke byeenkoms en geleentheid verstewig die netwerk se missie om hul lede te bemagtig sodat hulle in hul rol kan floreer en die US se sukses kan aanhelp. 

Indien jy 'n sekretariële rol by die US vervul, en graag by SUPAN wil aansluit, reik gerus uit na Wildré Kok, SUPAN-voorsitter, by supan@sun.ac.za.