Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Christie Dorfling se navorsing help verbeter ontginning van waardevolle metale
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 19/04/2024

Prof Christie Dorfling van die Departement Chemiese Ingenieurswese in die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch het Donderdag (18 April 2024) sy intreerede, getiteld “Hidrometallurgiese ekstraksie van metale uit primêre en sekondêre bronne" gelewer.

Dorfling het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe sy navorsing help om die ontginning van ekonomies waardevolle metale uit onder meer minerale, mynuitskot, elektroniese afval en gebruikte katalitiese omsetters (toestelle wat 'n katalisator bevat wat giftige uitlaatgasse van voertuie in minder skadelike stowwe omskep) te verbeter.

Vertel ons meer oor jou navorsing en wat jou belangstelling in hierdie spesifieke veld geprikkel het.

Ek het my loopbaan as ingenieur by Mintek begin en in die mynbou- en metaalbedryf gewerk. Gedurende hierdie tyd het ek ondervinding in 'n reeks aspekte opgedoen wat met die mineraalverwerkings- en onttrekkingsmetallurgiese bedrywe verband hou. Dit het by my 'n waardering vir die tegniese uitdagings inherent aan komplekse prosesse en voortdurend veranderende omstandighede gekweek, asook vir die belangrike rol wat die mynbou- en metaalbedryf in Suid-Afrika speel. Toe ek as dosent aan die Universiteit Stellenbosch aangestel is, het dit my laat besluit om deur middel van navorsing tot die mynbou- en metaalbedryf by te dra. Hidrometallurgie (die onttrekking van waardevolle metale uit hulle ertse, dit wil sê minerale of gesteentes wat natuurlik voorkom), is baie relevant omdat dit dikwels as 'n potensiële verwerkingsroete beskou word wanneer daar na verwerkingsoplossings vir laegraadse hulpbronne gesoek word.

Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?

Die beskikbaarheid van hoëtegnologiemetale is van uiterste belang vir die ontwikkeling en vervaardiging van toerusting en toestelle wat deesdae 'n integrale deel van ons daaglikse bestaan is. Metaalproduksie uit primêre hulpbronne word egter al hoe moeiliker weens die geleidelike daling in ertsgehalte en die evaluering van alternatiewe, meer komplekse ertsmassas. Nuwe tegnologieë soos hidrometallurgiese prosesse moet ontwikkel word om die ekonomiese ontginning van hierdie metale moontlik te maak.

Jou navorsing fokus op die hidrometallurgiese ekstraksie van metale. Hoe word jou werk werklik toegepas in die wêreld?

Hidrometallurgie speel 'n belangrike rol in die ontwikkeling van prosesse vir die behandeling van sekondêre metaalhulpbronne soos mynuitskot, elektroniese afval en gebruikte katalitiese omsetters. Die herwinning van metale uit hierdie sekondêre bronne is belangrik vanuit 'n ekonomiese én omgewingsbestuursperspektief en ondersteun die wêreldwye strewe na 'n sirkulêre ekonomie (die vermindering van die verbruik van roumateriale, die ontwerp van produkte sodat dit maklik uitmekaar gehaal kan word ná gebruik vir hergebruik, die verlenging van die lewensduurte van produkte deur onderhoud en herstel, die gebruik van herwinbare materiale in produkte en die herwinning van roumateriale uit die afvalvloei).

Jy is reeds baie jare in die uitdagende hoëronderwysomgewing. Hoe bly jy gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?

Vir my help dit om die groter prentjie in die oog te hou en 'n realistiese perspektief te behou: Ek probeer my tyd en energie aan besluite en aktiwiteite binne my beheer spandeer wat betekenisvol is, waarde toevoeg en 'n positiewe invloed het. Ek is ook bevoorreg om deel te wees van 'n uitstekende span in die Departement Chemiese Ingenieurswese, en ek is baie dankbaar vir kollegas wat altyd bereid is om mekaar te ondersteun.

Watter aspekte van jou werk is vir jou die lekkerste?

Ek is bevoorreg om op 'n gereelde grondslag deur middel van voorgraadse onderrig en navorsing, asook nagraadse studieleiding met uitsonderlike studente om te gaan. Dit is vervullend om op die een of ander manier 'n rol in hulle ontwikkeling te kan speel, en om hulle in staat te stel om hulle potensiaal te verwesenlik en hulle doelwitte as toekomstige ingenieurs na te streef.

  • Foto deur Ignus Dreyer (Die Stellenbosch-sentrum vir Fotografiese Dienste).