Prof Sara Grobbelaar van die Departement Bedryfsingenieurswese in die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) het Donderdag 18 April 2024 haar intreerede, getiteld “Om 'n gedeelde toekoms te skep: innovasie vir inklusiewe ontwikkeling", gelewer.
Grobbelaar, wat ook 'n navorsingsgenoot by die US se Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie (SENWET) is, het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe haar werk oor inklusiewe ontwikkeling poog om Suid-Afrikaners se toegang tot onder meer voedsel, gesondheidsorg en onderwys te verbeter.
Vertel ons meer oor jou navorsing en wat jou belangstelling in hierdie spesifieke veld geprikkel het.
My navorsing fokus daarop om die rol en proses van innovasie te verstaan om die ernstige gevolge van welvaart- en inkomsteverskille te versag. Ondanks 'n afname in wêreldwye armoede, bly die verspreiding van rykdom uiters verwring: Sedert 2015 besit die rykste 1% meer rykdom as die res van die wêreld saam, met 3,4 miljard mense wat op minder as $5,50 per dag leef. Hierdie konsentrasie van rykdom en mag in die hande van slegs 'n paar het 'n beduidende invloed op die toewysing van hulpbronne en hou 'n werklike bedreiging vir demokratiese regimes in. Die gaping tussen welvarendes en armes neem toe, 'n neiging wat deur die Coronavirus-epidemie benadruk is en wat ongelykhede in toegang tot werksgeleenthede, belangrike dienste soos gesondheidsorg en onderwys, asook tegnologie beklemtoon.
Die armoedeboete is 'n bekende konsep wat beskryf hoe verarmde individue meer kan betaal om te lewe, te verbruik en aan 'n markekonomie deel te neem. Dit kan verskillende vorme aanneem: armes het moontlik geen toegang nie of toegang tot kommoditeite van 'n laer gehalte wat vir hulle duurder is as vir die rykes nie. Hoë koste of kommoditeite van swak gehalte het meer onmiddellike uitsluitingsgevolge, soos nie-toegang of nie-gebruik. Nie-toegang kan ook voorkom weens onbehoorlike of ontoeganklike produkte. Mediese toestelle val byvoorbeeld gereeld in onbruik as onderhoud nie moontlik of ekonomies haalbaar is nie. Gesondheidsorg veral is ook 'n dienskategorie waarin nie-gebruik dikwels nie 'n opsie is nie, wat tot 'n bestedingslas lei wat katastrofiese gevolge kan hê. Mense moet dalk kies tussen die mediese behandeling van 'n familielid en om 'n kind skool toe te stuur. Oxfam sê gesondheidsorguitgawes wêreldwyd veroorsaak dat 100 miljoen mense elke jaar verarm.
My navorsing fokus op Innovasie vir Inklusiewe Ontwikkeling, wat die ontwikkeling van praktiese idees ondersoek om toegang tot veral voedsel, gesondheid en opvoeding te verhoog. Deur op hierdie gebiede te fokus, poog ons om tot die grondslag by te dra om te verstaan hoe om meer inklusiewe ontwikkeling te bevorder wat almal – veral die kwesbaarstes – bevoordeel. Ek stel in hierdie navorsingsgebied belang omdat ek in die gebruik van ingenieurswese en wetenskap glo om belangrike kwessies aan te spreek. Ek wil help om 'n nuwe geslag professionele praktisyns op te lei wat daaraan werk om hierdie probleme aan te spreek.
Hoe sou jy die relevansie van jou werk, veral vir 'n land soos Suid-Afrika, beskryf?
Die toepaslikheid van my werk kom duidelik na vore as jy na die uitdagende situasies kyk wat baie Suid-Afrikaners vandag in die gesig staar. Volgens Statistieke Suid-Afrika het die land vanaf Februarie 2024 'n werkloosheidsyfer van 32,1%. Dit het tot gevolg dat baie mense – sowat 28 miljoen – op staatstoelaes staatmaak wat nie ver genoeg strek nie, wat baie Suid-Afrikaners vir voedselonsekerheid kwesbaar maak voordat die maand eindig, veral met voedselinflasie wat op sowat 18% staan. Een van ons projekte op hierdie gebied is byvoorbeeld om saam met FoodForward Suid-Afrika te werk. Dié voedselbank bedien daagliks deur sy netwerk van begunstigde organisasies byna een miljoen maaltye in Suid-Afrika. Ons programme hier het ten doel om 'n wetenskaplike grondslag vir die meting en verslagdoening van die sosiale, ekonomiese en omgewingsimpakte en die kwantifisering, normstelling en verslagdoening oor die vermindering van die koolstofvoetspoor en ander besoedelingstowwe te ontwikkel. Dit help om hulle werk te verdedig en hopelik nuwe inkomstestrome deur byvoorbeeld koolstofkrediete te skep en ook om hulle bedrywighede doeltreffender en effektiewer te maak.
Wat ons gesondheidsorgfokus betref, het 71% van Suid-Afrikaners nie mediese versekering nie. Die openbare gesondheidsorgstelsel is oorlaai, met slegs een openbare gesondheidsdokter wat vir elke 2 500 mense en een dokter in die privaat sektor wat vir elke 500 mense beskikbaar is. Arm Suid-Afrikaners het oor die algemeen nie toegang tot gesondheidsorg van 'n hoë gehalte nie. 'n Voorbeeldprojek hier is om saam met Unjani Clinics, 'n private netwerk van klinieke, te werk om beter te verstaan waar hulle hul volgende klinieke moet vestig en hoe hulle hul bedrywighede suksesvol kan uitbrei. Ons het ook saam met Vlaamse vennote gewerk om 'n produk te toets en 'n sakemodel te ontwikkel vir 'n passiewe kouekettingtegnologie wat die potensiaal het om (danksy ingeboude opsporingsmeganismes en opsporingstegnologieë) uitkomsgebaseerde modelle vir die lewering van entstowwe moontlik te maak.
Suid-Afrika se onderwysstelsel is van die ongelykste ter wêreld, met 'n groot verskil in prestasie tussen die top-skole en die res. Hierdie stelsel faal Suid-Afrika se kinders, waar net sowat 50–60 uit elke 100 leerders matriek bereik, en nóg minder, sowat 40–50, slaag. Slegs 14 uit elke 100 leerders betree die hoër onderwys, wat talle sonder die nodige vaardighede en kwalifikasies laat om armoede te ontsnap. Twee voorbeelde van projekte in ons program sluit infrastruktuurverbeterings by skole, soos die installering van doeltreffender beligting en 'n studie om die luggehalte van klaskamers te tipeer, in. Ons hoop om skole se uitgawes te help verminder en om kinders se leeromgewings te verbeter.
Ter samevatting en met hierdie massiewe uitdagings wat Suid-Afrikaners daagliks in die gesig staar, in gedagte, het my werk ten doel om beter te verstaan hoe innovasie toegang tot noodsaaklike dienste soos voedsel, gesondheidsorg en onderwys kan verbeter. Ons praat oor werklike, praktiese oplossings om hierdie diepgewortelde kwessies aan te spreek. Deur te verstaan hoe om innoverende idees suksesvol in werking te stel en dan uit te brei, poog ons om meer inklusiewe ontwikkeling te bevorder wat almal bevoordeel, veral diegene wat dit die nodigste het. Die probleme is baie groot, maar dit is juis waarom ons hierdie werk doen!
Jy is reeds baie jare in die uitdagende hoëronderwysomgewing. Hoe bly jy gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Ek ervaar my werksomgewing as uiters ondersteunend en vriendelik. Werksdruk sal altyd daar wees en is deel van die lewe. Dit hang alles af van beplanning, realistiese lyste van take wat afgehandel moet word, goeie oefengewoontes, 'n goeie ondersteuningstelsel en om vakansie te neem wanneer dit nodig is.
Watter aspekte van jou werk is vir jou die lekkerste?
Ek is gek oor my werk, want ek werk saam met van die beste mense op hierdie gebied en doen dinge wat werklik die potensiaal het om 'n verskil in die wêreld te maak. Namate my loopbaan gevorder het, het ek ook al hoe meer geleenthede gekry om saam met kundiges van regoor die wêreld te werk (byvoorbeeld Brasilië, die VSA, Swede, Nederland, België, Duitsland, Indië). Dit dryf ons werk vorentoe en open baie deure vir ons hele navorsingsgroep. Dit is nogal opwindend!
Jy het jou stempel op die ingenieurswese afgedruk. Wat sal jou boodskap aan ander vroue in die ingenieursberoep wees?
Staan jou plek vol, moenie terughou nie, en kies 'n man wat jou ten volle sal ondersteun – dit is die belangrikste besluit wat jy ooit sal neem.
Vertel ons iets opwindends oor jou lewe wat mense nie sou verwag nie.
Ek het onlangs 'n kreatiewe projek aangepak om kinderboeke met behulp van generatiewe kunsmatige intelligensie (GKI) te skryf en te illustreer met my seun (wat nou sewe word) en my dogter (wat nou vyf word) as hoofkarakters. Hierdie karakters gebruik ingenieurswese en wetenskap tot voordeel van die samelewing. My primêre doel is om 'n liefde vir lees te kweek en 'n lewensles of twee in die verhaal te verweef. My seun vertolk byvoorbeeld die rol van 'n seunsingenieur wat 'n vliegtuig gebou het (om aan die wolke te raak), 'n bakkersoond reggemaak het (om die stad te help voed), en selfs 'n ruimtevuurpyl gebou het (om mense op die internasionale ruimtestasie te red)! Ek poog om deur hierdie stories aspirasies te kweek en kreatiwiteit by my kinders aan te wakker. Ek is gretig om te sien hoe ek verder GKI gaan inspan om hulle te help leer en te ontwikkeling.
Wat doen jy in jou vrye tyd?
Ek bring baie graag tyd saam met my gesin en vriende deur om pret te hê en baie te lag. Ons sosiale kalender is gewoonlik nogal propvol, wat my perfek pas – dis hoe ek herlaai en myself geniet!
- Foto deur Ignus Dreyer (Die Stellenbosch-sentrum vir Fotografiese Dienste).