Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MSc-student Francisca Darkoh ontvang gesogte Mandela Rhodes-beurs
Outeur: Faculty of Science (media & communication)
Gepubliseer: 16/04/2024

​Toe Francisca Darkoh verlede jaar vir “net nog" 'n beurs aansoek gedoen het om haar nagraadse studies in fisiologiese wetenskappe  aan die Universiteit Stellenbosch (US) te kan voortsit, het sy geen idee gehad dat die Mandela Rhodes-beurs (wat deur die Mandela Rhodes-stigting geadministreer word) een van Nelson Mandela se drie amptelike nalatenskapprojekte is nie.  

“Ek het nie geweet dis so 'n groot ding nie! Ek het gedog dit was net nog 'n beurs wat aan Mandela se naam gekoppel was, soos so baie ander goed,"lag sy. Die Mandela Rhodes Scholarship bied omvattende befondsing wat onderrig- en registrasiegelde insluit, toelaes vir studiemateriaal, navorsing en mediese fonds, akkommodasie en etes, asook   persoonlike en reistoelae.

Tot haar verbasing het sy boonop uitgevind dat die beurs nie slegs finansiële ondersteuning bied nie: “Hulle gee nie net geld vir jou studies nie, maar daar is selfs 'n program in plek om jou te help om sukses te behaal in jou studies," verduidelik sy.

Komende uit 'n gesin wat finansieel swaarkry, is Francisca gewoond daaraan om rond te skarrel om uit te kom met wat sy het. Geïnspireer deur haar Ghanese ma, het sy aansoek gedoen vir 'n magdom beurse en ook drie besighede op die been gebring tydens haar studies – wat wissel van die aanbied van persoonlike oefensessies aan medestudente, tot die verkoop van Jollof  – 'n tradisionale rysgereg van Wes-Afrika.  

Sy is tans ingeskryf vir 'n MSc in Fisiologiese Wetenskappe onder die studieleiding van Dr Theo Nell en Professor Resia Pretorius in die Departement Fisiologiese Wetenskappe by die US.

Francisca, 'n voormalige leerder van Stirling High School in Oos-Londen, het aanvanklik na die Universiteit Stellenbosch gekom met 'n sportbeurs, aangesien sy sedert o.16 op nasionale vlak hokkie gespeel het. Gedurende haar studentejare het sy uitgeblink in haar studies en verskeie leierskapsrolle vervul, onder meer as huiskomiteelid van die vrouekoshuis Erica, en voorsitter/primaria van Huis Russell Botman.

Haar grootste en mees onvoorsiene terugslag het egter in die midel van haar HonneursBSc-jaar gekom toe sy vir maande aaneen gehospitaliseer is as gevolg van sepsis. In die proses het sy ses operasies binne die bestek van vyf maande ondergaan wat haar met 'n gedeeltelike voet-amputasie gelaat het.  

“Gelukkig het die fisioterapeut my weer leer loop nét voor gradeplegtigheid en kon ek darem sélf oor die verhoog stap!"

Aartsoptimis wat sy is fokus haar navorsing nou op sepsis, met die hoop om 'n betekenisvolle bydrae te lewer tot die vroeë opsporing en diagnose van sepsis in die Afrika- en  Suid-Afrikaanse konteks.  

Die titel van haar tesis is: “Characterizing hemostatic and vascular blood parameters in systemic inflammatory processes during sepsis: a multidimensional analysis".

Op die foto bo: MSc student Fransisca Darkoh op die Universiteit Stellenbosch kampus. Foto: Wiida Fourie-Basson