Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente se ‘Life Pod’-inisiatief kan tot 100 lewens per jaar red
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 15/04/2024

'n Groep mediese studente van die Universiteit Stellenbosch is op 'n missie om 'n gespesialiseerde intensiewesorgeenheid (ISE) vir orgaanskenkers by die Tygerberg-hospitaal te vestig. Hierdie toegewyde eenheid, genaamd die "Life Pod", het ten doel om die hospitaal se kapasiteit vir nadoodse orgaanoorplanting aansienlik te verhoog, en om so doende sowat 100 lewens jaarliks te red.

Hierdie Life Pod – 'n eerste in sy soort in Afrika – sal lewensondersteuning bied aan gewillige orgaanskenkers om hul organe lewensvatbaar te hou totdat dit vir oorplanting geoes kan word. “Hierdie gespesialiseerde eenheid sal skenkers veilig huisves vir die 12 tot 36 uur voor die operasie, in plaas daarvan om hul lewensreddende organe tot niet te laat gaan," sê Naazim Nagdee, 'n vierdejaar mediese student en vise-president van Save7, 'n nie-winsgewende organisasie gefokus op orgaanskenking bewustheid wat deur studente begin is.

Dié inisiatief spruit uit 'n persoonlike ervaring. "Ons het onlangs 'n gesin teëgekom wat desperaat 'n nier vir hul sesjarige seun soek," sê Suhayl Khalfey, bestuurder van Save7 se Tygerberg-tak. “Tragies genoeg het die tydsberekening van beskikbare organe en ʼn moontlike oorplanting nie ooreengestem nie, en is ʼn geleentheid vir ʼn oorplanting gemis. Hierdie Life Pod kan sulke verliese in die toekoms voorkom."

Die groep mediese studente, saam met fakulteitslede van die Departemente Chirurgie en Interne Geneeskunde, het 'n kamer in die hospitaal geïdentifiseer wat in 'n Life Pod omskep kan word. Hulle het die groen lig van die hospitaaladministrasie ontvang en die ondersteuning van departemente verseker wat noodsaaklik is vir die Life Pod se daaglikse bedrywighede.

"Die laaste struikelblok is om R400 000 in te samel om hierdie kamer in 'n 'pop-up' ISE te omskep," verduidelik Sachen Naidu, 'n kernlid van Save7. Hulle het 'n vennootskap aangegaan met The Health Foundation, 'n organisasie wat openbare gesondheidsorg ondersteun, wat elke rand wat deur die studente ingesamel word, sal verdubbel. Dit plaas die studente net R200 000 weg van hulle doelwit.

Om hul verbintenis tot die projek nog 'n stap verder te neem, gaan vier studente – Henri van der Westhuizen, Gerhard Niewoudt, Alexander van Wyk en Jonty Wright – op 21 April aan die Ironman 70.3 in Nelson Mandelabaai deelneem. Hul veldtog, gepas genaamd "Tri for Life", het ten doel om bewustheid van orgaanskening te bevorder en noodsaaklike fondse vir die Life Pod in te samel.

“Ons kan nie wag totdat ons graadvang om die 5 000 Suid-Afrikaners wat vir oorplantings wag te begin help nie," sê Save7-president Jonty Wright. “Onlangse nasionale begrotingsbesnoeiings in die openbare sektor het die kwessie vererger, met beperkte ISE-beddens wat bydra tot die verlies van potensiële skenkers. Elke skenker verteenwoordig tot sewe lewens wat gered kan word."

Save7, wat in 2021 deur Wright en sy medestudente gestig is, is gebore uit die hartseer van gesinne wat desperaat op orgaanskenkings wag. Hul kernboodskap is kragtig: deur as 'n orgaanskenker te registreer, het individue die potensiaal om sewe lewens te red nadat hulle sterf.

"Jaar na jaar sien ons dat pasiënte agteruitgaan terwyl hulle tevergeefs wag vir 'n lewensreddende orgaan," verduidelik Wright. “Die besef dat 'n goed toegeruste en bemande kamer die sleutel kan wees om hierdie organe by diegene te kry wat dit die nodigste het, was die katalisator vir aksie. Saam met personeel van Tygerberg-hospitaal het ons 'n geskikte kamer geïdentifiseer en begin mobiliseer." Die studente het reeds al die nodige toerusting vir die Life Pod verkry, insluitend 'n ISE-bed, monitors, 'n ventilator en noodsaaklike mediese lyne. Daarbenewens het hulle 'n netwerk van vrywilligers wat gereed is om die mediese personeel te ondersteun.

Prof Elmi Muller, Dekaan van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en president van The Transplant Society, 'n internasionale leier in oorplanting, het haar steun vir die Life Pod-projek uitgespreek. "In my ervaring as 'n oorplantingschirurg kan ek getuig van die diepgaande tragedie van orgaantekorte en die lewensbevestigende vreugde wat pasiënte en hul gesinne ervaar met die ontvangs van 'n lewensreddende orgaan. Die vestiging van hierdie Life Pod sal 'n transformerende impak hê op die lewens van orgaanontvangers. Ek prys die Save7-span vir hierdie belangrike inisiatief en bied my onwrikbare ondersteuning aan hierdie projek."

“Hierdie Life Pod verteenwoordig 'n groot vooruitgang in ons stryd om lewens te red deur orgaanskenking," sê prof André van der Merwe, hoof van oorplantingschirurgie en urologie by Tygerberg-hospitaal en die Universiteit Stellenbosch. "Om te sien hoe die volgende generasie mediese beroepslui hierdie belangrike projek met soveel passie en vasberadenheid lei, is werklik inspirerend."

Vir meer inligting oor Save7, besoek hul webwerf by save7.org, of skakel met hulle op Instagram @savevenlives of LinkedIn @save7, of bel Jonty by 063 612 2401 of stuur 'n e-pos na jonty@save7.org.

As jy 'n skenking vir die Life Pod wil maak, kan jy 'n EFT na SAVESEVEN maak by FNB rekeningnommer 630 2528 6823, takkode: 260548.

Gebruik asseblief "jou naam en LIFE POD" in jou verwysing, aangesien alle skenkers op 'n ereplaat in die Life Pod genoem sal word.


Onderskrif: Lede van die Save7-span: Naazim Nagdee, Jonty Wright, Sachen Naidu and Suhayl Khalfey.