Kanker is die hoofoorsaak van sterftes onder mense wat met MIV leef in hoë- en lae hulpbronlande. En die uitkoms vir daardie pasiënte is dikwels minder suksesvol. Met meer as 20 jaar ondervinding in sy vakgebied is Professor Hennie Botha, medeprofessor en Hoof van die Departement Verloskunde en Ginekologie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, en sy span aan die voorpunt van navorsing oor kankers wat MIV-positiewe mense raak. “Ons het baie ondervinding op die gebied van servikale kanker, maar baie minder is bekend oor ander anatomiese dele wat deur die menslike papillomavirus-verwante (MPV) kankers geraak word, soos manlike geslagskankers, anale karsinome en orofaringeale kanker (agterkant van keel). Ons sal dit nou in meer detail bestudeer," sê Botha.
Hul pogings het onlangs 'n aansienlike hupstoot gekry toe Botha, in samewerking met navorsers in Amerika, Zimbabwe en Duitsland, 'n toekenning van die Nasionale Kankerinstituut in Amerika ontvang het om virus-verwante gewasse onder MIV-positiewe mense in sub-Sahara Afrika te ondersoek. “Ons weet mense met MIV het 'n laer immuunrespons, selfs op effektiewe ARV-terapie, en kankers wat met MPV geassosieer word, kom algemener voor en het dikwels 'n swakker uitkoms in vergelyking met MIV-negatiewe pasiënte," sê Botha.
Die toekenning van $5,5 miljoen (R100 miljoen) – wat oor vyf jaar uitgerol sal word – is 'n enorme hulpbron. “Hierdie navorsing vereis menslike hulpbronne, sowel as spesiale toerusting, en toetse vir virusse en immuunmerkers, en dit is alles duur. 'n Toekenning soos hierdie maak dit moontlik om die beste wetenskaplike metodes beskikbaar te gebruik, en nog 'n belangrike aspek daarvan is die ontwikkeling van jong akademici en navorsers. 'n Beduidende deel van die toekenning sal vir ontwikkelingsprojekte onder die toesig en mentorskap van meer ervare navorsers gebruik word."
Die navorsing by die Universiteit Stellenbosch fokus grotendeels op die bestudering van die immuunlandskap van individue wat met MIV leef wanneer hulle 'n MPV-verwante kanker ontwikkel. “Dit is belangrik om die onderliggende biologiese meganismes wat lei tot die ontwikkeling van kanker te verstaan om oplossings te probeer vind in die vorm van nuwe medisyne of ander voorkomende maatreëls," sê hy.
“Meeste kankers kom algemener voor onder mense wat met MIV leef as gevolg van verswakte immuunmeganismes, veral kankers wat met MPV-infeksies geassosieer word – spesifiek servikale kanker, anale karsinoom en orofaringeale kanker. MPV is 'n algemene virus wat onder mense sirkuleer, maar sekere kankerwekkende stamme kan lei tot abnormale selle wat uiteindelik in kanker sal ontwikkel."
Botha sê kanker wat met MIV verbind word, word dikwels op 'n gevorderde stadium gediagnoseer omdat dit geneig is om vinniger te ontwikkel. “Dit is moeiliker om te behandel en selfs al ontvang die pasiënt effektiewe en volledige behandeling, is die langtermyn uitkoms nie dieselfde as met MIV-negatiewe pasiënte nie. Ons mik om die oorsake vir hierdie vinnige ontwikkeling tot kanker, die swak reaksie op behandeling en die swakker oorlewingskoers ná suksesvolle behandeling te probeer vasstel om sodoende potensiële veranderlike faktore of selfs potensiële ingrypings te identifiseer wat die uitkoms van hierdie kankers kan verbeter."
Botha lys faktore wat kan help om die risiko van hierdie kanker vir MIV-positiewe pasiënte te verminder. “Verminder rookgewoontes, handhaaf 'n gesonde gewig, gereelde oefening en verminderde risiko vir infeksies wat kanker kan veroorsaak deur inenting. MPV-entstowwe is nou al meer as 'n dekade op die mark en behoort algemeen gebruik te word in die voorkoming van MPV-verwante kankers. Ons sal enigeen wat met MIV gediagnoseer is, aanmoedig om drie dosisse MPV-entstof te ontvang om nuwe infeksies te voorkom en sodoende die risiko van kanker te verminder."