Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se Beleidsinnovasielaboratorium ’n eerste in Afrika
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (Anél Lewis)
Gepubliseer: 08/04/2024

Die Universiteit Stellenbosch (US) het vandeesweek Afrika se eerste Beleidsinnovasielaboratorium amptelik bekend gestel danksy 'n vennootskap met die Presidensie, die Duitse regering en die Bill & Melinda Gates-stigting.

Die laboratorium, wat in die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenkegevestig is, ondersoek hoe datawetenskap- en kunsmatige intelligensie-instrumente ingespan kan word om probleme binne die beleidskeppingomgewing die hoof te bied. “Suid-Afrika staar ernstige en ingewikkelde ontwikkelingsuitdagings in die gesig," het prof Willem Fourie, hoof en medeprofessor van die Beleidsinnovasielaboratorium, verduidelik. Die laboratorium sal met behulp van 'n veelvlakkige benadering en aan die hand van dialoog met kundiges by universiteite landwyd, asook belanghebbendes in die openbare sektor en burgerlike organisasies, beleidsinnovasie ondersteun om die bereiking van die 17 Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling (DVO'e) te bespoedig.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het in sy verwelkomingstoespraak die laboratorium as 'n "voorpunt"-inisiatief beskryf wat aanklank vind by die Universiteit se strewe om transdissiplinêre navorsing te doen wat die samelewing beïnvloed. De Villiers het gesê hoewel die Beleidsinnovasielaboratorium nog in sy kinderskoene is, lewer dit reeds 'n beduidende bydrae. Die amptelike bekendstelling by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) het 'n hoëvlakgesprek oor digitale transformasie in die openbare sektor ingesluit. Baie van die laboratorium se projekte word in samewerking met die tak Beleids- en Navorsingsdienste in die Presidensie, sy regeringsvennoot, uitgevoer. De Villiers het ook opgemerk dat die laboratorium reeds met vennote saamwerk om bewyse van konsepte te bou om die waarde van datawetenskap in beleidsvorming te toon.

Ander projekte word deur die Beleidsinnovasielaboratorium se lidmaatskap by die ARUA-Gilde se kluster vir navorsingsuitnemendheid oor die politiek van volhoubare ontwikkeling bestuur. "Die US is geweldig trots daarop dat projekte by die kruising van navorsing en maatskaplike impak ontwikkel word. Die Beleidsinnovasielaboratorium sal vennootskappe kweek wat positiewe verandering aandryf om 'n beter, meer volhoubare toekoms vir ons almal te verseker," het De Villers gesê.

Die laboratorium fokus ook op sosiale impak. Dit ondersteun die opstel van Suid-Afrika se tweede VOD-verslag wat as 'n Vrywillige Nasionale Oorsig (VNO) bekend staan. Die VNO, wat reeds in sy finale stadium is, sal by die Verenigde Nasies se hoëvlak Politieke Forum in Julie 2024 aangebied word. “Ons is opgewonde oor die aanbevelings wat uit hierdie verslag sal voortspruit om die dringende uitdagings wat ons in die gesig staar, die hoof te bied," het Fourie gesê. "Ons benader die DVO'e aan die hand van doelwit 17* en veral die klem wat hierdie doelwit op die belangrikheid van beleidsamehang en beleidskoördinering plaas. Daarom fokus sy huidige projekte op die verbetering van koördinasie en doeltreffendheid in Suid-Afrika se beleidskepping en die vermindering van duplisering en beleidskonflik deur die toepassing van datawetenskap en KI-instrumente en -benaderings.

Daarom fokus sy huidige projekte op die verbetering van koördinasie en doeltreffendheid in Suid-Afrika se beleidskepping en die vermindering van duplisering en beleidskonflik deur die toepassing van datawetenskap en KI-instrumente en -benaderings.

As die bewaarder van die Suid-Afrikaanse netwerk van die Gates Foundation se Goalkeepers-inisiatief – 'n projek wat daarop gemik is om verhale oor die invloed van VOD'e van regoor Suid-Afrika verder te versterk, fokus die laboratorium se werk ook veral op sosiale impak

Matshidiso Masire, streeksverteenwoordiger van die Bill & Melinda Gates-stigting vir Suider-Afrika, het gesê die laboratorium “verteenwoordig 'n deurslaggewende stap om positiewe verandering in 'n steeds-ontwikkelende wêreld aan te wakker". Sy het die US geloof vir die instelling se “onwrikbare verbintenis" om samewerking tussen die regering, die akademie, die burgerlike samelewing en die private sektor te kweek. “Ons is verheug om saam met die US, die Beleidsinnovasielaboratorium, die Duitse Agentskap vir Internasionale Samewerking (GIZ) en die Suid-Afrikaanse regering te kan werk om 'n gemeenskaplike verbintenis tot innovasie te deel."

Die laboratorium bied 'n belangrike platform vir interdissiplinêre navorsing, het Thulani Mahlangu, hoof tegniese beampte van GIZ, bygevoeg. “Dit weerspieël ons gedeelde visie van innovasie en inklusiwiteit." Uiteindelik sal die laboratorium deur sy vennootskappe deel word van die digitale transformasie wat nodig is om Suid-Afrikaners se lewensgehalte te verbeter, het Lawrence Matemba, hoofbeleidsontleder in die Presidensie, afgesluit.

*Doelwit 17 lui soos volg: “Versterk die implementeringsmiddele en blaas nuwe lewe in die globale vennootskap vir volhoubare ontwikkeling."

 Onderskrif: Prof Petrie Meyer, waarnemende Dekaan: Fakulteit Ingenieurswese, Thulani Mahlangu, hoof- tegniese beampte, Deutsche Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit; Prof Willem Fourie, hoof van die Beleidsinnovasielaboratorium; prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US; Thami Ngwenya, adjunk-direkteur-generaal in die Presidensie; Matshidiso Masire, streekverteenwoordiger van die Bill & Melinda Gates-stigting in Suider-Afrika; prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Kommunikasie; prof Kanshukan Rajaratnam, Direkteur: Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke; Lawrence Matemba, hoofbeleidsontleder in die Presidensie; Pulane Kole, hoofbeleidsontleder in die Presidensie; en prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies.


Foto: Stefan Els​