Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Holmes-Watts verwesenlik ’n droom van 20 jaar
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 28/03/2024

Dit was om verskeie redes 'n emosionele dag vir dr Tania Holmes-Watts toe sy op 25 Maart haar PhD by die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeweek verwerf het.

Haar medestudieleier en rolmodel, dr Cyrill Walters, is in Desember verlede jaar oorlede. In een van haar laaste boodskappe aan Holmes-Watts skryf Walters: “Tania, ek is so trots op jou. Onthou, niemand kan jou PhD van jou af wegneem nie."

Sy sal altyd die boodskap koester, sê Holmes-Watts. "Ek het dr Walters as 'n ware rolmodel ervaar, iemand wat sonder versuim 'n stem aan ondergeskiktes gebied het. Ek verbind my daartoe om dieselfde te doen. Ek koester haar nagedagtenis, waarvoor sy gestaan het en ons tyd saam."

Om vir 'n PhD te studeer, is 'n droom wat Holmes-Watts vir meer as twintig jaar gekoester het. Maar vroeg in haar loopbaan moes sy hoor sy is “nie PhD-materiaal nie". “As hierdie etikettering bedoel was om my gees te verpletter, het dit die teenoorgestelde gedoen – soos vandag gesien kon word in my PhD in Wetenskap- en Tegnologiestudie," sê Holmes-Watts trots.

“Ek het in Atlantis grootgeword, 'n dorp waar maatskaplike euwels soos bendebedrywighede, werkloosheid en armoede aan die orde van die dag is. Nie een van my ouers het hulle skoolloopbaan voltooi nie, maar my pa het gereeld vir my gesê: 'Tania, opvoeding is die sleutel'.

“Ek was 'n eerstegenerasie-gegradueerde in my familie wat met 'n buitelander van Suid-Soedan, Scotney Watts, getrou het. Ek was 20 jaar oud toe ons mekaar ontmoet het. Hy het pas sy PhD aan die US voltooi in die destydse Bewaringsekologie Natuurbewaring. Die volgende jaar het ons swanger geraak en getrou. Ons is nou al meer as twintig jaar getroud en het drie seuns. Scotney was nog altyd my grootste, passievolste ondersteuner. Ek dank die Here vir hom."

Holmes-Watts het haar loopbaan as 'n eerstegenerasie-gegradueerde by die Nasionale Navorsingstigting begin waar sy in die Menslike en Institusionele Kapasiteitsontwikkelingseenheid in Pretoria werksaam was.

“Ek het vir twee jaar daar gewerk voordat ek die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie verskuif het en het vir meer as 'n dekade die rol van navorsingstoekenningsbestuurder vervul. My pligte het onder meer behels om akademici op te lei om finansiering te bekom en om met hulle doktorale studie voort te gaan. Ek het vir 'n geruime tyd gevoel dat dit oneerlik van my was om kollegas aan te moedig om 'n PhD te doen terwyl ek nie self daardie pad gestap het nie.

“My onderskeie rolle in die navorsingsbestuursruimte was vir my 'n groot motivering om toepaslike, betekenisvolle navorsing op doktorale vlak te doen. In 2022 is ek as uitvoerende bedryfsbestuurder by die Universiteit van Fort Hare aangestel. Verskeie gebeure het daartoe gelei dat ek met die seën van my gesin 'n anderhalfjaar later uit die pos bedank het om hoofsaaklik ook die finalisering van regstellings aan my PhD-dissertasie te verseker."

Die bevindinge van haar doktorale navorsing het tot die ontwerp van 'n intervensiemodel gelei wat ten doel het om navorsingsprestasie by openbare universiteite in Suid-Afrika te verbeter. “My navorsingsresultate is 'n verweer teen algemene narratiewe met betrekking tot sistemiese ongelykheid wat verband hou met wetenskaplike navorsing en navorsingsbestuur wat aansluiting vind by persepsies van 'wit uitnemendheid' en 'swart mislukking' by onderskeidelik histories bevoordeelde universiteite en histories benadeelde universiteite ."

Holmes-Watts sê sy is baie dankbaar vir die ondersteuning en leiding wat sy van prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in opvoedkunde aan die US, ontvang het. Hy was ook medetoesighouer vir haar PhD-studie. Ná die suksesvolle eksameneringsproses van haar PhD het Jansen aan haar gesê: “Welgedaan, Tania. Jy het die harde werk gedoen en gewys jy is 'n mens uit een stuk."

Die reis om haar akademiese doelwitte te bereik was moeilik en vol uitdagings, erken Holmes-Watts. Hoewel sy nog altyd haar werk met uitnemendheid en passie benader het, het sy diskriminasie en vooroordeel beleef.

“Vir sommige was die feit dat ek aan my PhD werk, 'n te groot bedreiging. As my PhD-reis in rolprentterme opgesom moes word, sou dit nie as 'n drama of selfs romantiese komedie bestempel kan word nie. Eerder iets soos 'n gruwelfliek met 'n kinkel!"

Die onvoorwaardelike ondersteuning van haar familie en haar geloof het haar deur die moeilike tye gedra, sê Holmes-Watts. “In 'n onlangse preek het ons senior pastoor gesê ons moet die Een wat ons ontwerp het, toelaat om ons te definieer. Op my gradedag was ek ware 'n getuienis van die getrouheid van die Almagtige God wat my en my gesin gedurende hierdie reis in elke seisoen gedra het. Dankie, Here."

Oor die lief en leed van haar akademiese reis sê Holmes-Watts sy glo alles het vir 'n rede gebeur. “Alles wat op my PhD-reis gebeur het, was nodig, en dit het tot die erkenning gelei wat ek ontvang het toe ek gegradueer het."

Haar gesin is uiters trots op haar akademiese prestasies, sê Holmes-Watts. “Die seuns noem my 'doktor' sodra hulle soggens opstaan." Haar kinders is kennelik vir haar 'n groot bron van vreugde. “Die oudste, Noah (21), studeer Inligtingstegnologie. Die middelste een, Jeremia, is vanjaar in matriek. Hy dien nou vir die tweede jaar as Studenteraadslid by s​y skool. En dan is Josua ons jongste. Hy is in graad 4 en het reeds besluit hy moet ook 'n PhD verwerf. Hy is nog net nie seker in rigting nie." Die afgelope paar maande wat sy net voltyds student, ma en eggenote kon wees, was vir haar baie kosbaar. “Dit was heerlik!" lag sy.

Op 'n ernstiger noot voeg sy by Walters het 'n boekhoofstuk, getiteld “Mommy Penalty" geskryf waarin sy 'n eerlike beskrywing van die werklikhede gegee het waarmee vroue in die akademie te kampe het. “Vroue het baie meer ondersteuning, deernis en begrip nodig. Trouens, ek salueer elke vrou wat hierdie reis aanpak, dit is nie vir lafhartiges bedoel nie. Maar met God aan jou sy is alle dinge moontlik."

Holmes-Watts sê sy is dankbaar vir die geleenthede wat sy by die US gebied is. “Een ding is seker: My lewe is in baie opsigte beter en verryk omdat ek 'n geleentheid aangegryp het wat aan my gebied is om by die Universiteit Stellenbosch aan te sluit. Ek het hard gewerk om my studie suksesvol te voltooi."

FOTO: Stefan Els